Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Claude nou 'in die jagveld van onse Vader'

Die professionele jagter van Tzaneen in Limpopo wat Dinsdag dood is nadat ’n buffel hom gegaffel het, is nou in die "jagveld van onse Vader".

Philip Bronkhorst het Woensdag op Facebook so oor sy groot vriend Claude Kleynhans (53) geskryf.

"Jou geloof in God sal my altyd bybly. Jy is ’n legende. Jy is nou in die jagveld van onse Vader."

Claude Kleynhans (53)

Kleynhans was Dinsdagmiddag in die Makuya-gebied in die verre noorde van Limpopo op ’n jagtog waar ’n buffel geskiet is.

Jannie Kleynhans, sy broer, sê die jagtog was afgehandel en sy broer het na sy voertuig gestap. Dit is toe dat ’n buffel hom bestorm en gegaffel het.

Hy is vermoedelik dood toe die hoofslagaar in sy een lies getref is.

Kleynhans het Guwela Safaris bedryf en boodskappe van medelye van oorsese jagters stroom in ná sy dood.

Hierdie foto van buffels verskyn op Claude Kleynhans se Facebook-blad. Hy is Dinsdag in Limpopo deur 'n buffel doodgemaak.

Corina van der Merwe, sy eksvrou, sê hy was ’n wonderlike mens. Hulle het twee dogters, Marina Cherisé en Jolene Kleynhans.

Hulle moes Woensdag hul pa se lyk in Thohoyandou gaan uitken.

Jolene het op haar pa se Facebook-blad geskryf: "Ek weet dat jy in jou happy-plek was en dat jy lief was vir wat jy gedoen het. Wens dit kon anders wees."

Marina Cherisé het ’n nota wat haar pa vir haar, Jolene en hul stiefbroer, Alec, in 2011 geskryf het, Dinsdag op Facebook geplaas.

Claude Kleynhans het hierdie nota in 2011 aan sy kinders geskryf.
Claude Kleynhans vroeër by ’n jag-ekspo in Amerika.

Johan Smit, nog ’n vriend, sê Kleynhans was ’n legende in die jagbedryf.

"Hy het my gewys hoe belangrik trofeejag vir die bewaring van verskeie wildspesies is."

Chantelle van Zyl, ’n vriendin, skryf op Kleynhans se Facebook-blad: "Ons harte is stukkend. Altyd so lekker gelag, gekuier en nog lekkerder oor die Here gepraat en hoe gelukkig ons is om Hom in ons lewe te hê. Ons het nog soveel planne gehad."

Van der Merwe sê hulle het nog nie die begrafnisreëlings afgehandel nie.

Kleynhans laat sy lewensmaat, Mirissa Mulder, en sy twee dogters en seun agter.

Meer oor:  Claude Kleynhans  |  Limpopo  |  Tzaneen  |  Buffel  |  Dood
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.