Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Cloete Breytenbach gegroet

Die internasionaal gevierde fotograaf Cloete Breytenbach is Maandag op ’n gedenkdiens by die Spier-landgoed naby Stellenbosch gegroet.

Cloete Breytenbach
’n Skildery van Cloete Breytenbach het buite die konferensiesentrum op die Spier-landgoed gestaan waar mense die gebou binnegegaan het. Foto: Jana Breytenbach

Breytenbach is op 31 Mei dood ná komplikasies na ’n hartomleiding wat hy ondergaan het. Hy was 85.

Sowat 200 mense het op die sonnige wintersoggend saamgekom en hulde gebring aan die man wat deur baie beskryf is as “iemand met ’n groot hart, op die man af en wat groter as die lewe self was”.

Anna Breytenbach, Cloete se dogter, het haar pa beskryf as ’n man met min woorde, maar wat gepraat het deur sy ongelooflike komposisie van foto’s.

Ebbe Dommisse, voormalige redakteur van Die Burger en jare lange vriend, het van Cloete se besonderse loopbaan vertel. Breytenbach het in 1951 by Die Burger begin werk en is later oorsee om daar te werk. Van sy bekendste werk was die foto’s wat hy geneem het van die eerste hartoorplanting. Dié foto was op die voorblad van die Life-tydskrif. Sy werk in oorlogsgebiede, Viëtnam en die oorlog in Angola, is deur Breytenbach gevolg.

“Wat vir hom die ontstellendste was, was wat die oorlog aan kinders gedoen het,” het Dommisse gesê.

Janine Maske, voorsitter van die Breytenbach-sentrum op Wellington, het Breytenbach as ’n mensekenner beskryf.

“Hy het nie geskroom om ’n mens se ergste vrese op die tafel te lê nie.”

Sy het gesê hy sal altyd vir sy eenvoudige styl, werkywer en toewyding onthou word.

“Hy was nie ’n pronkerige of pretensieuse mens nie. Hy het dinge raakgesien wat ander misgekyk het,” het Maske gesê.

Hy kon met enigiemand gesels, van petroljoggies tot politici en hy kon baie direk iets sê sonder om aanstoot te gee.

Annette Badenhorst, wat betrokke was met die internasionale uitstalling van Breytenbach se werk in New York, Amsterdam en Portugal, het sy werk geprys.

Breytenbach se suster, Rachel, het haar broer beskryf as “die sement wat die gesin bymekaar gehou het”.

Haar herinneringe aan haar broer sal altyd deur melktert, die berge by Montagu en aronskelke gekenmerk word.

Leon Breytenbach, sy seun, het sy pa se verhouding met sy vier kinders beskryf en gesê hulle het eers toe hulle al ouers was, ’n hegte band met hom gesmee.

Die Schalk Joubert Trio het ’n eiesoortige vertolking van Vivaldi se Vier Seisoene, Cloete se gunsteling-komposisie, gespeel.

Cloete het 33 jaar gelede vir Brenda, sy vrou, by die Bergrivier-kanomarathon in 1986 ontmoet toe hulle albei vir hul werk daaroor moes verslag doen.

Cloete Breytenbach
Die roudienspamflet van Cloete Breytenbach se diens. Foto: Jana Breytenbach

Daar was ’n groot ouderdomsverskil tussen hulle, maar sy het toe sy hom ontmoet besef dit is die man met wie sy wou trou.

Sy het haar man se wonderlike lewe wat sy met hom gedeel het, beskryf.

“Hy kon met enigiemand gesels, van petroljoggies tot politici en hy kon baie direk iets sê sonder om aanstoot te gee.”

Sy het hom as ’n natuurmens beskryf en dat hy ’n suikertand gehad het.

“Hy was baie lief vir sy familie, maar wou hulle nie elke dag sien nie. ’n Mens sou sy liefde raaksien deur dit wat hy vir hulle gedoen het,” het sy gesê.

“Hy het sy beste dinkwerk in die bad gedoen, hy het nie fieterjasies met kos gehad nie en hy was op sy gelukkigste wanneer hy by die huis was besig met werktake.”

Breytenbach se broer, die bekende skrywer en digter Breyten Breytenbach, het ’n roerende huldeblyk aan sy broer opgedra. Breyten het soms bewoë geraak toe hy vertel dit gaan nie maklik wees om van sy broer afskeid te neem nie. “Op ’n dag soos vandag voel ’n mens dat jy eintlik voor iemand se afsterwe die hulde moet bring sodat iemand soos Cloete kan hoor hoe lief almal vir hom was.

“Soos ons ouer broer Jan sou sê: ‘Cloete, jou wonderlike bliksem’.”

Meer oor:  Spier-Landgoed  |  Stellenbosch  |  Begrafnis  |  Sterf  |  Fotograaf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.