Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Communicare-hoofkantoor in Kaap vir R120 m. verkoop

Die Communicare-behuisingsorganisasie wat meer as 3 300 huureenhede in Kaapstad besit en uithuur, sê sy hoofkantoor in die middestad van Kaapstad sal nie in ’n behuisingsprojek omskep kan word nie.

Communicare het in ’n verklaring gesê die eiendom oorkant die Kaapstadse Internasionale konferensiesentrum (Kiks) is vir R120 miljoen verkoop aan ’n buitelandse belegger wat ’n vyfster-boetiekhotel hier wil bou.

Die Communicare-gebou wat in Roggebaai, Kaapstad, geleë is, is vir R120 miljoen verkoop. Foto: Verskaf

In dié stadium huisves die Communicare-gebou die organisasie se hoofkantoor, kantoorruimte wat uitverhuur word asook parkering vir 78 voertuie.

Die stuk grond is in die 1980’s vir R300 000 gekoop en die huidige gebou is in 1991 teen ’n koste van R10 miljoen voltooi. Die ontwikkeling is befonds deur Communicare en die Kaapse Gesamentlike Pensioenfonds. Communicare het die pensioenfonds se 50%-aandeel in 2001 uitgekoop.

Volgens Anthea Houston, uitvoerende hoof van Communicare, het hulle alle moontlikhede oorweeg om die perseel ten beste te gebruik, ook vir gemengde behuising.

Houston sê van die faktore wat daartoe gelei het dat daar besluit is om eerder die perseel te verkoop, is dat die koste van ’n ontwikkeling vir gemengde behuising nie finansieel haalbaar sou wees nie.

Die grond is deel van ’n gebied wat drooggelê is en waar daar ’n hoë watertafel is. Om die grond te hervul en fondamente te lê terwyl die water uit die perseel gepomp word, sou die ontwikkeling van laekostebehuising onbekostigbaar maak.

Verder is die vorm van die perseel van só aard dat dit ’n residensiële ontwikkeling bemoeilik.

Houston sê om dié rede is daar besluit om die perseel te verkoop en die inkomste te gebruik om ander huurhuise en maatskaplike behuising in goed geleë dele van die stad te ontwikkel.

Volgens Houston het die groei van die V&A Waterfront en Kiks ’n warboel ontwikkelings in die Roggebaai-deel aan die hawe se kant van die stad tot gevolg gehad en daar is geen dringende rede waarom Communicare se hoofkantoor steeds hier hoef te wees nie.

“Dit was miskien ’n goeie idee in die 1990’s, maar dit is ’n tydperk wat verby is,” sê Houston.

Sy sê ná 28 jaar op dié perseel is dit tyd om die organisasie se bates te verander en dat die inkomste uit die verkoop van die gebou vir maatskaplike behuisingsprojekte gebruik sal kan word.

Meer oor:  Kaapstad  |  Verkoop  |  Eiendom
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.