Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Convair wat val se wrak, enjins lê op hoop

Die wrak en enjins van die Convair 340 wat ’n maand gelede met twee Australiese vlieëniers agter die stokke neergestort het, lê op ’n hoop en onaangeraak op die Wonderboom-lughawe noord van Pretoria.

Die enjins en wiele van die Convair-ongeluksvliegtuig. Geen ontledings daarvan is nog gedoen nie.

’n Uitbetaling van die versekeraars word na verneem eers afgewag voor verdere spesialisontledings van veral die linkerenjin gedoen gaan word.

Verskeie buitelandse kenners is by die ondersoek betrokke, maar die Burgerlugvaartowerheid (BLO) ontken dat daar ’n geldtekort is om die ondersoek af te handel.

Nie een van die twee enjins, waarvan die een aan die linkerkant vermoedelik weens ’n tegniese fout kort ná opstyging ingegee het, is nog uitmekaar gehaal nie.

Die wrak is kort ná die ongeluk met ’n hyskraan gelig en toe weggesleep, voor dit in ’n hoop op ’n stuk veld by die lughawe gelos is. Waardevolle bewyse is in dié proses moontlik nou vernietig – veral omdat die tegniese afleidings en gevolgtrekkings nog gemaak moet word.

Etlike van die waardevolle radio’s en avionikastelsels aan boord het ook voete gekry.

“Kort ná die ongeluk het ek selfs een van die wagte wat die wrak moes bewaak, gevang dat hy ’n oorpakbroek tussen die wrakstukke uitgrawe en aanpas om te kyk of dit vir hom sal pas,” het een van die kontrakteurs op Wonderboom gesê. Hy wil weens die sensitiwiteit van die gebeure nie sy naam genoem hê nie.

Intussen word video-opnames binne die stuurkajuit en ander beeldmateriaal ook ontleed om meer lig op die ongeluk op 10 Julie te werp.

Volgens Pappie Maja, woordvoerder van die BLO, het die ondersoekers voor die wrak verskuif is beeldmateriaal van al die kritieke onderdele geneem. “Géén bewyse is vernietig nie.”

Altesaam 19 mense, onder wie die bemanning en verskeie ander buitelandse passasiers, was aan boord. Die vlugingenieur, Chris “Barries” Barnard (54), het in die ongeluk omgekom. Die twee vlieëniers, Doug­las Haywood en Ross Kelly, is die enigstes van dié aan boord wat steeds in die Milpark-hospitaal in Johannesburg behandel word.

Haywood is volgens ’n kennis nou verbonde aan die bemanning aan ’n ventilator gekoppel weens sy beserings. Sy een oog is ook nog toegeplak nadat dit in die ongeluk beseer is. Dit is nog nie duidelik of hy dié oog se volle sig sal behou nie.

Kelly se toestand is ernstiger. Hy het verskeie beenbreuke en kopbeserings. Hy word in ’n mediese koma gehou om die beserings aan sy brein kans te gee om te herstel. Kelly se vrou, Lyndal, wat saam met drie Nederlanders verbonde aan die Aviodrome-lugvaartmuseum in Nederland op die vlug was, is reeds ontslaan.

Volgens die BLO sal die voorlopige ondersoek na die ongeluk Vrydaguitgereik word. Volgens Maja sal die voorlopige verslag meer besonderhede oor die enjins en redes waarom dit nog nie ondersoek is nie, verskaf.

Verskeie kundiges van ander lande is betrokke by die ondersoek.

Meer oor:  Ongeluk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.