Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Covid-19 eis bekende orrelis

Sy kinders was albei in Dubai toe hulle hoor dat Covid-19 die bekende oudmusiekdosent, koorleier en orrelis dr. Erns Conradie (80) se lewe op 10 Junie geëis het.

Dr. Erns en Marie Conradie sou op 26 Junie 50 jaar getroud gewees het. Die foto van die twee is in 2017 in Ho Tsji Minh in Viëtnam geneem. Die egpaar het graag gereis. Foto: Verskaf

Hul seun, ook Erns (46), ’n vlieënier vir Emirates, het intussen huis toe gekom om sy ma, Marie (75), by te staan. Sy sterk tans in die hospitaal aan waar ook sy vir Covid-19 behandel word.

Ine-Mari Bredekamp (44), hul dogter, werk as skoonheidsterapeut in Dubai. Sy vertel haar pa, wat ’n doktorsgraad in kerkmusiek aan die Universiteit van die Vrystaat verwerf het en ook ’n dosent daar was, het vroeër vanjaar gedurende ’n Pinksterdiens by die NG kerk Philadelphia naby Atlantis gestruikel en sy femur naby sy heup gebreek.

“Dit was die laaste keer wat hy orrel gespeel het,” sê sy.

Bredekamp sê in daardie stadium was haar pa “redelik gesond”.

Die operasiewond ná sy heupvervanging het nie goed geheg nie en Conradie en sy vrou is weer hospitaal toe vir steke.

Intussen het die egpaar albei “siekerig” begin voel.

Bredekamp sê haar ma het haar pa by hul huis in Durbanville probeer versorg, maar later “kon sy hom nie meer optel nie” en is hy hospitaal toe.

Dr. Erns Conradie in Georgia in Amerika. Foto: Verskaf
Dr. Erns Conradie vroeg verlede jaar in Georgia, Amerika. Foto: Verskaf

“Toe hulle by die hospitaal kom, het die dokter nierversaking, longontsteking en selfs hartversaking by hom opgetel,” sê Bredekamp. “Hy is toe ook met Covid-19 gediagnoseer.”

Hoewel die dokters hul bes gedoen het, was “die infeksie en inflammasie in sy liggaam te veel om nog Covid-19 ook te kan beveg”, sê Bredekamp.

Die egpaar sou op 26 Junie 50 jaar getroud gewees het.

Erns sê dit was “baie moeilik” om die nuus so ver van die huis af te ontvang.

“Weens my beroep mis ek so baie dinge wat my familie aanbetref. Ek het nie woorde om te beskryf hoe die nuus my laat voel het nie.”

Hy sê hoewel die virus “haar hard getref het”, gaan dit goed met sy ma, wat steeds as ’n musiekonderwyseres by die Hoërskool De Kuilen in Kuilsrivier werk.

Albei kinders sê hulle sal hul pa se liefde vir musiek nooit vergeet nie.

Dr. Erns Conradie se kleinseun Zander Bredekamp maak asof hy in sy oupa se koor sing terwyl Conradie kastig vir ’n klomp winkelpoppe in die Mall of Emirates in Dubai dirigeer. Foto: Verskaf
Dr. Erns en Marie Conradie in 2019 by Petra in Jordanië. Foto: Verskaf

Hy was vir 20 jaar Kovsies se koorleier, asook die orrelis van die Kovsie-kampus se gemeente, voordat hulle rondom 1997 na die Kaap verhuis het.

“Ek sal nooit die ‘Onse Vader’ kan sing sonder om sy orrel te hoor nie,” sê Bredekamp. “Ons pa het die Here geprys in alles wat hy gedoen het. Toe hulle nog in Welgemoed gebly het, het die petroljoggies daar sommer al begin sing as hulle hom sien aankom het.

“My pa het ’n vol lewe gehad.”

Conradie word vandeesweek veras en ’n diens sal gehou word sodra sy vrou herstel het.

Meer oor:  Kaapstad  |  Durbanville  |  Covid-19  |  3De Vlaag  |  Koronavirus  |  Sterftes
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.