Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Covid-19 eis brig. De Waal van Griekwastad-faam

Brig. Dick de Waal, Noord-Kaapse hoof van die polisie se eenheid teen georganiseerde misdaad, is Vrydagmiddag aan Covid-19 dood. Hy was 58 jaar oud.

De Waal was bekend vir sy deeglike speurwerk in opspraakwekkende moordsake.

Sy suster Bettie van Zyl het sy dood bevestig. Sy het hom as die anker van die familie en die beste broer ooit beskryf.

Brig. Dick de Waal met sy geliefde BMW GS1250. Foto: Facebook

Sowat 30 van sy kollegas en vriende het Donderdagmiddag ’n biddiens voor die Mediclinic Gariep-hospitaal in Kimberley gehou, waar hulle vir sy herstel gesmeek het. Hy is egter Vrydag om 14:30 oorlede.

De Waal was onlangs in die nuus met sy ondersoek na die moord op Leon Brits (41) op 7 Oktober 2020 in sy huis in Pofadder. De Waal het Suretha Brits (30), Brits se vrou, op 29 Maart vanjaar in haar huis in Marchand buite Kakamas in hegtenis geneem op aanklagte dat sy haar man se huurmoord georkestreer het.

Hy het haar in sy bakkie na die hofgebou in Pofadder geneem, waar sy op 21 Maart die eerste keer verskyn het. Hy was die volgende week ook in die hof met die aanvang van haar borgtogaansoek op 7 April, wat Maandag afgehandel sal word wanneer die landdros na verwagting uitspraak sal lewer.

Brig. Dick de Waal en sy vrou, genl.maj. Henriette de Waal, Noord-Kaapse waarnemende polisiekommissaris, in November 2020 ten tyde van hul seun, Brando, se troue. Foto: Facebook

Op 19 April het ’n toets bevestig dat die baasspeurder die koronavirus onder lede het. Hy is op 21 April in die hospitaal opgeneem. Hy is vlugtig ontslaan om vir sieker pasiënte plek te maak. Teen 24 April is hy weer met ’n hoofpyn en hoes opgeneem. Hy het in selfoonboodskappe sy toestand toegeskryf aan 13 maande se harde werk weens die pandemie en die kontak wat hy met allerlei “skobbejakke” gehad het. Hy het steeds “treurig gevoel”, maar gehoop hy sou beter word.

In dié tyd het talle familielede, kollegas en vriende hom op Facebook beterskap toegewens. Volgens kollegas het hy uit die hospitaal voortdurend nog opdragte gestuur.

Teen 30 April het sy selfoon in die hospitaal stil geraak.

De Waal se legendariese speurwerk is ook vasgelê in die film Griekwastad, wat op Jacques Steenkamp se boek gegrond is.

Adv. Hannes Cloete, aanklaer, en brig. Dick de Waal (toe nog kolonel), in die hofsaal ten tyde van die verhoor van Don Steenkamp. Steenkamp is skuldig bevind aan die moord op sy ouers, Deon en Christel, en suster, Marthella. Foto: Charné Kemp

Die Suid-Afrikaans gebore Hollywood-akteur Arnold Vosloo het die rol van De Waal vertolk. Die rolprent handel oor die gebeure waarin Deon (44), Christel (43) en Marthella (14) Steenkamp op 6 April 2012 deur hul seun en broer, Don (toe 15), op hul plaas buite Griekwastad doodgeskiet en Marthella verkrag is. Steenkamp dien nog sy gevangenisstraf van 20 jaar in Upington uit.

Adv. Hannes Cloete, wat saam met hom aan die twee moordsake gewerk het, het hom as ’n uitstaande polisieman en vriend beskryf.

Marianna Smith, Deon Steenkamp se suster, het gesê “brig. De Waal was ’n standvastige persoon wat net die reguit pad geken het.

“Die mensdom het vandag ’n spesiale persoon verloor, maar ons kan vertroos word daardeur dat ons weet dit Jesus se win.”

De Waal, wat in Upington grootgeword het, is die seun van ’n polisieman en het sy lewe lank in die polisie gedien.

Hy word oorleef deur sy vrou, Henriette, sy seun en dogter, Brando en Annalize de Waal, susters, Bettie van Zyl, Marie de Waal en Poppie de Waal-Odendaal, en stiefkinders, Henri en Arno Olivier.

Meer oor:  Kimberley  |  Pandemie  |  Sterf  |  Covid-19  |  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.