Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Covid-19 eis hoof 11 maande nadat hy droomwerk kry

Renier du Preez (54) het die afgelope paar maande sy droom as hoof van die Laerskool Ebenhaeser in Krugersdorp aan die Wes-Rand uitgeleef.

Renier du Preez, skoolhoof van die Laerskool Ebenhaeser in Krugersdorp, saam met sy gesin. Van links is sy dogter, Natasha, sy seun, Ruan, en sy vrou, Jackie. Foto: Verskaf

Hy is Saterdag in die Netcare Krugersdorp-hospitaal se waakeenheid dood nadat hy einde Mei positief vir die koronavirus getoets is.

Du Preez was die afgelope 11 maande die skoolhoof.

“Dit was sy grootste droom om ’n hoof by ’n skool te wees waar hy regtig ’n verskil sou kon maak. Daar kon hy dit doen – hy kon sy droom uitleef. Dit het hom baie gelukkig gemaak,” sê sy seun, Ruan (27).

“Hy was ’n fantastiese skoolhoof. Hy het so omgegee vir die mense en die gemeenskap, en het soveel van homself vir die skool opgeoffer.

“Sy opvolger het groot skoene om vol te staan, want hy het ’n reuse-indruk op die skool gemaak.”

Du Preez was baie lief vir die leerlinge en het daarna gestreef om ’n positiewe verskil in hul lewe te maak.

“Sy topprioriteit was dat hulle ’n veilige, gesonde en lekker leeromgewing het. Hy het baie omgegee vir die kinders – báie,” sê Ruan, wat ’n studente-onderwyser by die Laerskool Ebenhaeser is.

Renier du Preez Foto: Verskaf

Voordat Du Preez as skoolhoof aangestel is, was hy baie jare die adjunkhoof van die Laerskool Dr. Havinga in Witpoortjie, Roodepoort, waar hy ook eers ’n tegnologie-onderwyser was. Hy was ook betrokke by sportafrigting.

Weg van die skoolbanke beskryf Ruan sy pa as ’n omgee-mens en iemand wat elke geleentheid aangegryp het om foto’s saam met sy geliefdes te neem.

Hy sal sy pa onthou as ’n regverdige man wat baie liefde vir sy medemens gehad het.

Du Preez word ook deur sy vrou, Jackie (52), en hul dogter, Natasha (22), oorleef.

Geen begrafnisreëlings is nog getref nie.


Só word Renier du Preez onthou 

Renier du Preez Foto: Verskaf

Intussen het huldeblyke op Facebook ingestroom vir die skoolhoof wat die naweek dood is.

• Vir almal in die Havie-gemeenskap het Covid-19 nou ’n naam, Renier du Preez. Ons geliefde en gerespekteerde kollega het gisteraand (Saterdag) deel van die groeiende aantal sterfgevalle weens Covid-19 geword. Ons sal sy glimlag en vasberadenheid mis om ’n verskil in ’n kind en grootmens se lewe te maak. Ons harte gaan uit na die Laerskool Ebenhaeser-gemeenskap. In ’n kort tydperk het hy ’n reuse-verskil vir Ebies en sy mense gemaak. Ons is hartseer saam met sy familie en vriende. Ons bid dat hulle berusting by ons Hemelse Vader sal vind.

Renier, ons almal gaan jou mis! Droom groot by die voete van ons Vader! Rus in vrede. – Laerskool Dr. Havinga

• Ons Ebie-harte is stukkend vanoggend. Ons geliefde hoof, mnr. du Preez, is oorlede op 12 Junie 2021. Daar is geen woorde om die verlies te beskryf nie. Mnr. Du Preez se nalatenskap sal bly voortbestaan deur al die groot en wonderlike werk wat hy gedoen het! Dit is ’n bitter moeilike tyd vir elkeen van ons by Ebies.

Mag God se genade sy familie en vriende dra en vertroos in hierdie tyd. Julle is in ons gedagtes en gebede. – Laerskool Ebenhaeser

Meer oor:  Krugersdorp  |  Pandemie  |  Skoolhoof  |  Covid-19  |  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.