Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Sakelui bring hulde aan Jabu Mabuza

Die Suid-Afrikaanse sakeleier Jabu Mabuza (63) is Woensdag aan Covid-19 dood.

Sy familie het in ’n verklaring bekend gemaak dat hy op Jeugdag gesterf het.

“Hy was ’n dapper stryder vir die politieke en ekonomiese vryheid van Suid-Afrika. Op dié dag in 1976 was hy saam met duisende jong swart mense wat op die einde van Bantoe-onderwys aangedring het. Hy is later uit die skool geskors vir sy deelname aan daardie rigtinggewende protes waarin die wreedheid van die apartheidsregime uitgewys is en wat die stryd vir vryheid momentum gegee het,” lui die verklaring.

Hy is in 1958 gebore en het in Waterval-Boven in Mpumalanga grootgeword. Nadat hy sy studie in die regte moes staak weens ’n tekort aan geld, het hy vir ’n tydjie as ’n hofklerk gewerk voordat hy begin het om in Johannesburg taxi’s te bestuur.

Hy het gespaar en later sy eie taxi gekoop en so lid van die South African Black Taxi Association (Sabta) geword. Later was hy president van dié organisasie, wat uiteindelik ook sy eie bank gestig het.

Jabu Mabuza
Jabu Mabuza in 2019. Foto: Gallo Images

Mabuza was in 1988 die stigter van die Foundation for African Business and Consumer Services, wat na die belange van informele swart sakeondernemings omgesien het.

In 1992 is hy aangestel as groepbevorderingsbestuurder by die Suid-Afrikaanse Brouerye en vier jaar later het hy hom as besturende direkteur by Southern Sun Gaming aangesluit. Teen 2006 was hy die uitvoerende hoof van Tsogo Sun Holdings en in 2012 het hy voorsitter van Telkom geword, ’n pos wat hy sewe jaar lank beklee het.

Ná die samesmelting van Anheuser-Busch InBev en SAB Miller in 2018 het hy voorsitter van die groep se Afrika-sake geword. Hy het ook gedien as voorsitter van die Casino-vereniging van Suid-Afrika en was ook tot 2018 president van Business Unity South Africa (Busa).

In Januarie 2018 het pres. Cyril Ramaphosa hom aangestel as voorsitter van Eskom en in die volgende jaar het hy in die plek van Phakamani Hadebe die waarnemende uitvoerende hoof van dié sukkelende entiteit geword.

Hy het in Oktober verlede jaar onverwags bedank en in sy bedankingsbrief om verskoning gevra vir “Eskom se onvermoë om te voldoen aan wat nodig is om beurtkrag te voorkom”, het Ramaphosa destyds gesê.

Mabuza was tot sy dood voorsitter van die raad van Sun International en hoof- onafhanklike direkteur van DStv se MultiChoice. 

mabuza
Mabuza in 2001 toe hy by Sun International betrokke was. Foto: Siddique Davids

“Vir my was sy mees uitstaande kenmerk nie sy altyd teenwoordige hoed nie, maar eerder sy aansteeklike humorsin,” het Naspers se voorsitter, Koos Bekker, stigter van M-Net/MultiChoice, aan Fin24 gesê.

"Wanneer Jabu uitgebars het van die lag, was dit onmoontlik om nie saam te lag nie.” 

Die kanselier van die Universiteit van die Vrystaat en voorsitter van Bidvest, Bonang Mohale, wat by Busa en BLSA saam met Mabuza gewerk het, het gesê hy was ’n uitstekende leermeester en ’n mens van hoë gehalte. 

Hy het aan Fin24 gesê Mabuza het sy lewe op ’n besonderse manier beïnvloed. 

"Hy het my en baie ander geleer dat as jy wag dat iemand anders dinge doen, dan is jy tot verdere wanhoop gedoem. Dat ons doel is om iets te doen, maak nie saak hoe klein ook al nie . . . dit is die somtotaal van al die dele wat tot die groter geheel bydra. Dat ons elkeen een aspek moet aanpak waar die regering faal en dit afgehandel kry. Sodoende plaas ons onsself op die pad na werklike swart ekonomiese bemagtiging en algehele emansipasie.” 

Vir my was sy mees uitstaande kenmerk nie sy altyd teenwoordige hoed nie, maar eerder sy aansteeklike humorsin
Koos Bekker

BLSA het in ’n verklaring gesê Mabuza “was ’n formidabele leier, wie se sakevernuf en onafhanklike leierskap respek afgedwing het”. 

"Dit was onder sy leierskap as voorsitter van BLSA dat groot sakeondernemings die ferm besluit geneem het om staatskaping in die openbaar te verwerp en ’n vaste onderneming te gee van etiese leierskap om ons sleutelinstellings te beskerm en met die regering saam te werk om ’n werkbare staat te skep.”   

Mabuza word oorleef deur sy vrou, Siphiwe, twee seuns en ’n dogter. – News24

Meer oor:  Jabu Mabuza  |  Covid-19  |  Sakeleier
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.