Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
vrydag-uitgawe op papier skuif na digitale platform
Covid-19 eis ook sy tol op Die Burger

Beste intekenaar,

Ons het ’n baie moeilike besluit geneem wat ek sonder omhaal aan u wil verduidelik: Die laaste Vrydag-uitgawe van Die Burger in papierformaat in die Oos-Kaap verskyn op 31 Julie en vanaf 1 Augustus verskyn al vyf die uitgawes op weeksdae net in digitale formaat, wat op ons digitale tuiste, Netwerk24, beskikbaar is.

Die rede vir hierdie ingreep is eenvoudig. Die Covid-19-pandemie het die bestaande dalings in ons reeds kwesbare drukmedia verhaas en dit het onvolhoubaar geword om Die Burger selfs net een dag per week in papierformaat in die Oos-Kaap uit te gee en oor so ’n groot provinsie te versprei. Lesers kry toenemend hul nuus aanlyn en ondernemings adverteer al hoe meer hul produkte digitaal.

Toe ons die sakemodel teenoor die vernietigende uitwerking van die pandemie op die ekonomie opgeweeg het, het dit geblyk dit is onwaarskynlik dat sake in die afsienbare toekoms beduidend sal verbeter. Ons het dus geen ander keuse nie as om ons besigheid te herstruktureer om die verliese in ons drukmedia-portefeulje te beperk. Terselfdertyd is ons besig om ons besigheid in die algemeen te omvorm namate ons die oorgang maak, nou vinniger as ooit tevore, na ’n aansienlik meer digitale toekoms.

Dit is ’n wêreldwye tendens, en net publikasies wat betyds en beslissend optree, bly voortbestaan.

Die pad vorentoe vir Die Burger se Oos-Kaapse uitgawe lyk dus so:

  • Ten eerste: daar is geen planne om Die Burger aan die Oos-Kaap te onttrek nie. Soos ook in 2018 aan u genoem toe ons die papieruitgawes tot net Vrydae verminder het, wil ek dit herbevestig: ons verbintenis met die Oos-Kaap strek agt dekades terug na 1937 en ons is vasbeslote om dit voort te sit. Ten gronde van die stappe wat ons nou doen, lê die behoud van gehaltejoernalistiek in Afrikaans ten bate van die hele provinsie.
  • Ewe belangrik, al die weeksdag-uitgawes sal steeds beskikbaar wees op jou slimfoon, tablet of rekenaar. Die bylaag Naweek word egter gestaak.
  • Die publikasie sal steeds ’n sterk Oos-Kaapse fokus hê.
  • Daar is geen plan om die publikasieritme van Die Burger in die Wes-Kaap, Media24 se oudste koerant wat al sedert 1915 verskyn, te verander nie.

Ons weet die papierkoerant het oor dekades deel geword van Oos-Kapenaars se lewenswyse en dat hierdie oorskakeling vir baie lesers ’n erge verlies sal wees. Toe ons twee jaar gelede oorgeskakel het na die Vrydag-papieruitgawe het ons talle lesersessies in die Oos-Kaap aangebied. Die werklikheid van die pandemie verhoed ons om nou weer sulke sessies aan te bied, maar verskeie sake wat daar geopper is, sal nou weer relevant wees.

Willem Jordaan, redakteur van Die Burger.

Daar is gevra of dit dan vir Die Burger en Media24 net om geld gaan. Ek is dit met lesers roerend eens dat geldmaak bepaald nie al funksie in die bestaan van ’n koerant soos Die Burger is nie.

’n Koerant moet egter geld maak om te kan bestaan. Dit is deel van die kommersiële werklikheid en daarom is dit van kritieke belang om ’n volhoubare sakemodel uit te pluis waarbinne die hoër funksies van gehaltejoernalistiek in Afrikaans steeds kan gedy. Die stappe wat nou gedoen word is juis met dít in gedagte.

Verwant aan hierdie vraag was daar ook kommentaar dat die besluit die indruk skep dat ons nie vir Afrikaans omgee nie.

Inteendeel, juis vanweë Media24 en Die Burger se diep verbintenis tot Afrikaans – en spesifiek gehaltejoernalistiek in Afrikaans – is dit van kritieke belang dat ons ’n plan maak om die Afrikaanse lesers van die Oos-Kaap op volhoubare grondslag digitaal van gehaltejoernalistiek te bedien. Dit bly deel van die groter ideaal wat ten gronde lê van die stappe wat ons nou doen.

Verder is gevra: Wat dan van mense – en hoofsaaklik ouer mense – wat geen internettoegang het nie? Dit is waarskynlik die moeilikste deel van die besluit.

Ons het op die sessies en in briewe gehoor van lesers vir wie “my koerant” ingeweef geraak het in die ritme van elke dag. Die voorblad met die sonsopkoms en die eerste koffie, die sportblaaie met teetyd, Fred se spotprent en die meningstukke ná middagete, ensovoorts – vir baie lesers ’n ritme en ’n verhouding wat oor dekades strek.

Die besluit sal dus vir baie van dié lesers gepaardgaan met ’n belewenis van pyn en verlies. Ons kan en moet dit nie probeer wegpraat of wegredeneer nie – dit sou oneerbiedig wees teenoor lesers van wie ons dekades se lojale steun geniet. Wat ons wel kan sê, is dat ons by Die Burger u gevoel van verlies deel.

Daar was wel ook begrip en ondersteunende kommentaar. Baie lesers het gepraat oor hul positiewe belewenis van Netwerk24 en Die Burger se digitale staanplek daar. “Dit het vir my ’n nuwe wêreld oopgemaak,” het ’n leser vertel na aanleiding van al die Afrikaanse tydskrifte en koerante wat op Netwerk24 beskikbaar is. Dr. P.F. de Wet van Somerstrand skryf in ’n lesersbrief: “Die eenvoudig verskriklike idee om my koerant op die rekenaar te lees, word toe dadelik verskriklik eenvoudig!”

Vir my en Henriëtte Loubser, redakteur van Netwerk24, bly stories soos dié ’n inspirasie. Dit vertel immers die verhaal van lesers wat besef Netwerk24 is inderdaad die digitale tuiste en toekoms van Die Burger – ’n familielid of vriend eerder as ’n vyand wat Die Burger se toekoms bedreig.

Ek hoop dat u deel sal bly van die pad vorentoe.

Met beste wense,

Willem Jordaan

Redakteur: Die Burger

R99 per maand gee jou ’n hele rak vol leesstof en meer

Die digitale oorskakeling in die Oos-Kaap – nie ewe gemaklik vir almal nie, ons weet – gaan gepaard met ’n intekenaanbod op ’n digitale pakket wat meer waarde bied as enige ander in Suid-Afrika. Kortom, as jy vir R99 per maand inteken op Die Burger, kry jy benewens jou daaglikse e-koerant op weeksdae ook die beste nuus- en leefstylinhoud in Afrikaans, alles op een plek.

Ons landwye span joernaliste doen sewe dae per week heeldag lank verslag. Benewens nuus wat heeltyd opgedateer word sodat jy op die voorpunt bly met die jongste inligting, kry jy ook politieke kommentaar en ontledings, sport, vermaak, sakenuus en raad oor jou geldsake, asook boeiende video’s.

Hierdie nuusstroom word aangevul deur artikels van voorste Afrikaanse tydskrifte, soosHuisgenoot, SARIE, Kuier, Tuis, Weg!, Weg!Ry&Sleep, Landbouweekblad, Finweek, TVPlus en Baba&Kleuter. Maar dis nie al nie: Jy kan ook die jongste uitgawe van die papiertydskrif in elektroniese formaat op Netwerk24 lees, nes dit op papier lyk, plus die elektroniese weergawes van Die Burger, Beeld, Rapport en ’n verskeidenheid ander gemeenskapskoerante landwyd.

Netwerk24 bied ook boeiende ander inhoud – van blitssepies wat spesiaal vir die webwerf vervaardig is met bekende Afrikaanse akteurs in die rolverdeling, tot podsendings. luisterboeke, luisterdramas, regstreekse videouitsendings van groot hofsake en ander nuusgebeure, asook spesiale multimedia-projekte.

Netwerk24 het boonop heelparty nuusbriewe wat jy per e-pos kan ontvang met nuusoorsigte of inhoud waarin jy spesifiek belangstel. Jy kan ’n keuse maak wanneer jy jou profiel skep.

Ons intekenare-afdeling sal binnekort met jou in verbinding wees oor die praktiese reëlings vir jou intekening en sal ook die meeste van jou vrae kan antwoord.

Sou jy egter voor dan met ons wil gesels, kan jy ons by 087 353 1300 bel, of die woord Oos SMS na 31069 (die intekenare-afdeling sal jou bel), of e-pos stuur na hernuwings@media24.com.



Meer oor:  Die Burger  |  Netwerk24  |  Die Burger Oos-Kaap  |  Media24
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.