Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Covid-19 eis ouddosent in onderwys aan UV

Dr. Fanus van Tonder (62), ’n afgetrede onderwysdosent aan die Universiteit van die Vrystaat, waar hy baie diep spore getrap het, word Woensdag begrawe nadat hy aan Covid-19 dood is.

Sy vrou, Carlo, ’n onderwyseres aan die Martie du Plessis-skool in Bloemfontein, sê hulle was 33 jaar lank getroud.

Hy is verlede Woensdag dood aan die virussiekte.

Dr. Fanus van Tonder (62) wat aan Covid-19 gesterf het. Foto: Argiewe

“My man was baie geliefd, en ’n baie standvastige en gelowige mens. Hy was ’n nagraadse mentor en het goeie werk by die universiteit gedoen,” sê sy.

Carlo sê sy het eerste Covid-19 gekry, maar was nie so siek dat sy gehospitaliseer moes word nie. “Ek het geïsoleer, maar my man en seun, Mico, het dit ook gekry.”

Sy sê Fanus en Mico moes albei in die Rosepark-hospitaal in Bloemfontein opgeneem word.

“Mico is later ontslaan, maar Fanus is verlede Woensdag om 14:12 dood. Dit was op 16 Junie.”

Carlo sê Fanus word ook oorleef deur hul twee kinders, seun Mico van Tonder en dogter, Marise le Grange en twee kleinkinders, Christo (1) en Carline (3) le Grange.

Die begrafnisdiens is Woensdag om 11:00 uit die NG kerk Pellissier in Bloemfontein, waarna die begrafnis in die Bainsvlei-begraafplaas sal plaasvind.

* Prof. Annette Wilkinson van die UV sê: “Ek eer die nagedagtenis van ’n vriend, oudkollega en geesgenoot oor ’n tydperk van byna 40 jaar.

In 1982 het ons paaie die eerste keer gekruis toe hy en enkele ander as wiskundig gekwalifiseerde weermaglede (tydens hul diensplig) na prof. Dudley Vermaak se Wiskundeprojek by die UV gesekondeer is.

“Ons projek, onder leiding van John Bartlett en prof. Japie Strauss, het baanbrekerswerk verrig. In al die ontwikkelende state van daardie tydvak is indiensopleidingskursusse vir wiskunde-onderwysers aangebied en wiskundemateriaal saamgestel, en handboeke geskryf.

“Onder die weermaglede was onder andere Markus Reuter, ’n lewenslange vriend van ons albei, wat vandag ’n top-wetenskaplike in Europa is. Daar is hard gewerk, baie gereis, goeie resultate behaal en hegte vriendskapsbande gesmee.

“Ons paaie het weer in die 1990’s by Vista-Universiteit gekruis waar ons as dosente in die subfakulteit opvoedkunde gewerk het.”

Sy sê in 2003 het hul paaie vir ’n derde keer begin saamloop – die keer by die UV se Sentrum vir Hoëronderwysstudies en -ontwikkeling (Shoso). Agt besonderse jare het gevolg. Dosyne kollegas wat hul M- en D-grade in HOS voltooi het, sal kan getuig van die kennis, insig en lewenswaardes wat hulle daar geleer het en gehelp het dat hulle later leierskapsposte kon beklee. “Ek kan onomwonde sê dat ek nie die HOS-afdeling sonder Fanus se ondersteuning sou kon bestuur het nie. Hy was ook ’n steunpilaar vir die ander kollegas in die afdeling. Met nougesetheid en presiesheid het hy, as programdirekteur, al ons kurrikula saamgestel en afgerond vir voorlegging aan die fakulteitsbestuur. Hy was ontvanklik vir vernuwing en saam kon ons die nuutste onderrigmetodes in die program implementeer.

* Intussen het dit bekend geword dat Anwar Beukes, (37), wat as logistieke bestuurder by die Cheetahs in die Curriebeker-wentyd in 2005 gewerk het, ook aan onderliggende siektes verwant aan Covid-19-gesterf het.

Cecil van Rooyen, ’n vriend van Bloemfontein, wat dit bevestig het, sê hy gaan vir Anwar mis.

“Ek en Anwar was van 2003 vriende toe ons saam by die Cheetahs gewerk en saam in die Cheetahs-huis gebly het. “ ’n Groot klomp Cheetah-sportvriende sal vir Anwar mis.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.