Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Covid-19 se helde en boewe

Persone van die Jaar 2020

Medici en onderwysers gee toon aan

Die eerste groep wat die toekenning deel, is dokters, verpleegpersoneel, gesondheidswerkers en mediese personeel by nood-reaksiedienste.

Juffrou Stephanie Snyders ontsmet ’n legkaart voordat sy dit vir Zayden Carrara (4) gee om te bou by die Moreletapark-kleuterskool in Pretoria. Foto: Deaan Vivier

Hulle het die afgelope maande in toestande gewerk wat ooreenstem met oorlogsloopgrawe.

Te veel pasiënte, te min toerusting, swak ondersteuning deur die owerhede en die voortdurende gevaar om aangesteek te word is hul voorland. Verskeie het inderdaad siek geword en gesterf.

Kundige waarnemers meen die gehalte van veral dokters se opleiding in Suid-Afrika het gehelp dat hier vinnig doeltreffende behandelingsprotokolle gevestig is. Dit het meegehelp dat die land se sterftekoers onder die internasionale getal is.

“Somtyds is hulle te moeg om te werk, maar hulle sê nooit: ‘Ek kan nie kom werk nie’,” het Annamarie Odendaal, matrone van die Arwyp Mediese Sentrum in Johannesburg, op Kersdag aan Reuters gesê oor haar verpleegpersoneel.

Sy moes al haar personeel wat in die Covid-19-saal werk se verlof kanselleer “en hulle wil ook by hul familie wees”.

Terwyl hulle in moeilike omstandighede werk, moet hulle aanhoor dat die openbare diskoers eerder oorheers word deur die indeks van persoonlike ongerief oor inperking.

’n Gesondheidswerker tydens die Gautengse verkeerspolisie se massa-toetsprogram van al sy lede in Johannesburg in Julie. Foto: Gallo

Navorsing in Suid-Afrika wys dat tot ’n derde van hulle onderwerp word aan verbale beledigings deur pasiënte en hul familielede of lede van die publiek.

Nog ’n nuusstorie wat vir Beeld se lesers van groot belang was, was wat in skole gebeur het of nie. Want dit het ’n ongekende impak op hul kinders of kleinkinders gehad.

Midde-in die oog van die storm of skole nou moet oop of toe en met erge verdeeldheid daaroor – ook in hul eie geledere – het die land se onderwyserskorps gestaan.

Hulle was onder erge druk, hetsy voor ’n klas of met die gebreke van aanlyn onderrig, om kinders deur kernleerplanne te kry. Die uitdaging was veral om matrieks gereed te kry.

Onderwysers is ook blootgestel aan die virus en moes meermale rondom gebrekkige veiligheidsvoorsiening werk.

Plek-plek het die skoolstelsel in die pandemie bloot ophou werk. Maar die kreatiewe deursettingsvermoë van baie onderwysers het uiteindelike vele kinders se akademiese jaar gered. Daarom is hulle ook deel van Beeld se Persone van 2020. Redakteur

Nuusstorie van die Jaar 2020

Covid-bedrog

“Angswekkend.” Dit is die woord waarmee Suid-Afrika se bekwame ouditeur-generaal, Kimi Makwethu – wat onlangs oorlede is – die skokstorie van die land se Covid-19-bedrog beskryf het.

Ook op die plaaslike front is daar baie stories wat meeding.

Bandile Masuku

Plaasmoorde, die reaksie daarop en die gebeure op Senekal is ongetwyfeld een van 2020 se sterkste nuusstories.

Beeld bly binne die oorheersende Covid-19-tema en ons Nuusstorie van die Jaar 2020 is Makwethu se “angswekkende” Covid-19-bedrog.

Oraloor het ANC-kamerade en staatsamptenare op alle vlakke eenvoudig vir hulself of hul kinders maatskappye gestig en leweringskontrakte vir mediese beskermingsmateriaal is na hulle gekanaliseer. Dit was nie net die gewone groepie verdagte staatskapers nie. Al het pres. Cyril Ramaphosa “die stryd teen korrupsie” tot ’n hoofprioriteit verklaar, het sy kamerade rondom hom die land om elke hoek en draai besteel.

Die eerste politikus wat geval het (en seer sekerlik nie die laaste nie), Bandile Masuku, is as Gautengse LUR vir gesondheid in die pad gesteek. Selfs Ramaphosa se eie woordvoerder, Khusela Diko, word betrek.

Khusela Diko
Khusela Diko

En Ace Magashule se seuns, Tshepiso en Thato, het vir hulself ’n duur BMW gekoop met die opbrengs van hul Covid-19-kontrak.

“Beskuldige nommer een” het Ramaphosa sy eie organisasie gebrandmerk met verwysing na korrupsie in die algemeen. En daarmee bevestig hy die ANC se transformasie tot ’n de facto-misdaadorganisasie.

Voorts het die situasie bygedra tot mediese beskermingsdrag van lae gehalte – ook wat betref maskers en gewone beskermende drag – wat hospitale en skole laat bereik het of glad nie.

Die selfverryking en minagting van gewone Suid-Afrikaners se lot het ’n reeds benarde situasie vererger waar hospitale en skole nie behoorlik toegerus is nie en ook nie basiese noodsaaklikhede soos genoeg suurstof kry nie. Redakteur

Internasionale Persoon

Adern

Jacinda Adern

Oor die ergste scenario’s waartoe die Covid-19-pandemdie kan lei, het Jacinda Ardern, Nieu-Seelandse premier, gesê: “Ek gaan nie daardie kans vat nie. Die regering sal alles moontlik doen om almal te beskerm. Niemand van ons kan dit alleen doen nie.”

Volgens die meeste ontledings is Beeld se Internasionale Persoon van 2020 die regeringshoof wat die beste gevaar het in die bekamping van die virus.

Nieu-Seeland se ligging op afgeleë eilande het baie gehelp. Maar sy het vinnig en effektief beweeg, duidelik gekommunikeer en op die regte tye sinvolle beperkings ingestel en dit weer betyds opgehef. Redakteur

Internasionale Nuusstorie

Covid-19

“Ons normale lewe het tot die Covid-19-pandemie gelei,” skryf Ed Yong, wetenskapsjoernalis van die koerant The Atlantic in Amerika.

Geen internasionale nuusstorie, midde verskeie ander groot gebeurtenisse, klop die uitbreek van die van die Covid-19-pandmie nie en is daarom Beeld se Internasionale Nuusstorie vir 2020.

Yong pleit verder dat “om toekomstige pandemies, wat ons weet kom, te vermy moet ons worstel met die dinge van ons normaliteit wat misluk het. Ons moet iets beter bou.”

In Suid-Afrika laat Yong se woorde noodwendig die soeklig val op swak dienslewering en die haglike toestand van gesondheidsdienste. Suid-Afrikaners gaan van 2021 af moet aandring dat hulle kry wat hulle toekom wat dit betref.

Globaal beteken dit onder meer beter samewerking oor grense heen en meer bronne vir navorsing. Redakteur

Meer oor:  Jaaroorsig  |  Jaaroorsig 2020
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.