Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Covid-19 tref gesin: Geliefde polisieman sterf, ma in hospitaal
Deon en Louise van der Westhuizen. Foto: Facebook/Deon van der Westhuizen

’n Geliefde polisieman en pa van twee van Somerset-Wes is Dinsdagaand laat aan Covid-19 dood. Sy ma (83), wat ook met die virussiekte in die hospitaal is, het nog nie die nuus gehoor nie.

Deon van der Westhuizen (51), wat beskryf word as ’n steunpilaar in die gemeenskap, en Louise, sy vrou van 28 jaar, is ’n dag uit mekaar gehospitaliseer en albei is positief vir die virus getoets.

“Ons het saam in ’n saal in die hospitaal gelê,” vertel Louise. “Ek het sodanig herstel dat ek ontslaan kon word, maar hy moes agterbly, want dit het nog nie beter gegaan met hom nie.”

Volgens Deon se jonger broer, Hein, het Deon osteoporose gehad en aan asma gely. Deon is later aan ’n ventilator gekoppel en onder verdowing geplaas. Rondom dieselfde tyd is Hein en Deon se ma ook weens Covid-19 in die hospitaal opgeneem. Op Hein se versoek word sy nie geïdentifiseer nie.

Louise sê die hospitaal het haar en haar kinders laat weet Deon se toestand lyk nie goed nie, en hulle moet ’n draai kom maak.

“Hulle het die kinders, Conrad (22) en Emma (17), ’n keuse gegee of hulle by die saal wil ingaan of nie. Ons al drie wou hom groet en het die beskermende drag aangetrek. Hy was egter onder baie sterk verdowing.”

Volgens Deon se jonger broer, Hein, het Deon osteoporose gehad en aan asma gely.

Louise sê die hospitaal het toe gevra of die gesin tot Deon se laaste oomblik wil bly. “Die kinders het gekies om dit nie te doen nie. Toe ons by die huis kom, het ons die nuus gekry dat hy weg is.”

Louise en Hein sê hulle het besluit om nie Deon se ma dadelik te laat weet van sy heengaan nie, omdat hulle ook bekommerd is oor haar toestand. Sy het die virus op ’n ander plek opgedoen as haar seun en skoondogter, en is toevallig op dieselfde tyd opgeneem.

“Dit gaan nou beter met haar en sy reageer goed. Hulle is besig om haar verdowing te verlig,” sê Hein, wat ook voorheen in die polisie was.

“Deon het my altyd in al ons jare van getroude lewe soos ’n prinses behandel. Die kinders was versot op hom en ek kan net met lof en liefde van hom praat,” sê Louise.

Volgens haar is hul kinders sterk, hoewel die nuus hulle emosioneel hard getref het. “Ons huil almal, maar nou en dan kan ons ook lag wanneer ons aan al die herinneringe terugdink.”

Volgens George Kruger, ’n lid van die Helderberg-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), het Deon diep spore in die gemeenskap getrap. “As iemand met ’n probleem na sy kantoor toe gegaan het, het hy vir hulle uit die Skrif gelees en raad gegee,” sê Kruger.

“Hy was baie trots op sy werk en het al sy pligte vinnig uitgevoer. Hy het byvoorbeeld alle versoeke van die GPF’s in die omgewing hanteer en ’n mens kon altyd op hom staatmaak dat dit gou afgehandel sal word.”

Kruger sê: “Hy was nie net ’n polisieheld en kollega nie, maar hy was ’n vriend vir almal.”

Deon het onder sy polisievriende bekend gestaan as Wessie.

Die provinsiale polisiewoordvoerders het Woensdag teen publikasietyd nie op navrae vir ’n huldeblyk namens die polisie gereageer nie.

Meer oor:  Koronavirus  |  Koronasterfte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.