Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Covid eis minister Mthembu

Pres. Cyril Ramaphosa het Donderdag ’n groot bondgenoot in die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) verloor met die dood van Jackson Mthembu, minister in die presidensie.

Mthembu (62), wat die afgelope jaar die “stem en gesig” van die regering se daaglikse mediakonferensies oor die Covid-19-pandemie was, is Donderdagoggend aan die einste virussiekte dood.

Hy het tien dae gelede getwiet hy is in 1 Militêre Hospitaal opgeneem nadat die virussiekte by hom gediagnoseer is.

Foto:

Dr. Oscar van Heerden, politieke ontleder van die Mapungubwe-instituut en skrywer van die boek Two Minutes to Midnight: Will Ramaphosa’s ANC Survive?, sê Mthembu het in 2017 ’n groot rol in Ramaphosa se verkiesing tot ANC-leier gespeel.

“Daar was eintlik min van die groot name (in die ANC) wat Ramaphosa openlik gesteun het.

“Jackson was een van die mense wat van die begin af gesê het hy (Ramaphosa) is die regte kandidaat en die regte mens en hy stel nie belang om te hoor ‘Ramaphosa moet nou veilig speel nie’.

“Vir Jackson was dit ’n beginselsaak. Wat hom betref het, was daar mense in die ANC wat verkeerd doen ‘en al verloor ons, sal ons eendag aan die regte kant van die geskiedenis staan’.”

Prof. Dirk Kotze, politieke wetenskaplike­ aan Unisa, sê Mthembu het hom in ’n vroeë stadium reeds van oudpres. Jacob­ Zuma gedistansieer.

“Veral op vergaderings van die NUK het hy baie duidelik tot Ramaphosa se ondersteuning gepraat.”

Ook die politieke ontleder Theo Venter meen Ramaphosa het ’n getroue partylid en politieke swaargewig verloor.

“Hy (Mthembu) het in sy lewe self baie trauma ervaar. Hy het ’n paar jaar gelede ’n skietvoorval by ’n kitsbank oorleef en het ’n dogter aan die dood afgestaan.

“Hy is ook iemand wat ’n baie sagte plek vir Afrikaans gehad het. Sy kinders was in Afrikaanse skole,” sê Venter.

Oudmin. Marthinus van Schalkwyk, deesdae Suid-Afrika se hoë kommissaris in Australië, sê Mthembu het ook in die oorgangsjare na die nuwe Suid-Afrika ’n groot rol gespeel.

“Dit was nie net mense soos oudpress. Nelson Mandela, Thabo Mbeki en Ramaphosa en mense soos Trevor Manuel en Mo­siuoa Lekota wat die situasie help stabiliseer en die fonda­mente vir ’n demokrasie gelê het nie.

“Onder hulle was daar ook ’n jonger geslag, waarvan Jackson deel was, maar destyds nooit die hoofopskrifte gehaal het nie,” sê Van Schalkwyk.

Politici het Donderdag hulde gebring aan Mthembu.

“Om te sê Jackson was geliefd, is om dit sagkens te stel,” sê John Steenhuisen, DA-leier. Hy het Mthembu goed leer ken toe hulle as hul onderskeie partye se hoofswepe in die parlement gedien het.

“Ek het hom geken as ’n man van integriteit en iemand wat die groter prentjie en die groter saak kon raaksien.

“Hy was iemand wat altyd bereid was om alles moontlik te doen om ’n oplossing te vind.”

Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, sê Mthembu was ’n harde werker.

“Op ’n persoonlike vlak was hy altyd vriendelik en het hy mense met respek behandel. Hy was bekend as ’n aangename mens en ’n staatmaker in die ANC,” sê Groenewald in ’n verklaring.

Die EFF sê hoewel hy gereeld van Mthembu verskil het, het die land ’n groot man verloor wat sy verantwoordelikhede passievol nagekom het.

Julius Malema, EFF-leier, het by ’n foto van Mthembu getwiet: “Goodnight grootman”.

Pemmy Majodina, Mthembu se opvolger as ANC-hoofsweep, het gister gesê: “Covid-19 het ons beroof van ’n dinamiese leier van ons mense wat elke senti­meter van sy wese gewy het aan die versterking van ons demokrasie.

“Ons sal sy aansteeklike gelag, vriendelike manier en joviale aard mis.”

Mkhuleko Hlengwa, woordvoerder van die IVP, sê Mthembu was ’n “reus en ’n patriot”.

“Hy was ’n brugbouer, iemand wat ’n groot liefde vir sy land gehad het, ’n nederige heer en ’n leier met integriteit.”

Meer oor:  Koronavirus  |  Jackson Mthembu  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.