Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Covid eis nog ’n bekende in Vrystaat-rugbykringe

Nóg ’n oud-Vrystaat-rugbyspeler en groot gees in plaaslike rugbykringe het sy stryd teen Covid-19 verloor.

Dougie Heymans
Dougie Heymans (58) is aan Covid-19 dood.

Dougie Heymans (58), gewese Vrystaat-stut wat in 154 wedstryde vir dié unie uitgedraf het, is Maandag in die Mediclinic in Bloemfontein dood, waar hy net minder as ’n week lank in die waakeenheid teen Covid-19 geveg het.

Hy het Maandagmiddag ’n bloedklont in sy longe opgedoen en is kort daarna dood.

Marius van Rensburg, voorsitter van die Shimla-rugbyklub, sê sy dood laat almal by die rugbyklub sonder woorde.

“Dougie was so ’n ongelooflike groot Shimla, nie net as speler nie, maar as werker ook. Hy was ongelooflik.”

Heymans het in die 1980’s vir die Shimlas uitgedraf en het hom in 2003 by die bestuurspan aangesluit. Hy was tot en met sy dood assistentdirekteur van KovsieSport en hoof van rugby.

“Hy het ’n ongelooflike en onmiskenbare liefde vir die universiteit se rugby gehad.”

Van Rensburg vertel dat Heymans sy dogter, Liane, ná ’n fratsongeluk met ongelooflike ondersteuning bygestaan het.

Die bekende Vrystaatse rugbyspelers Dougie Heymans, Willie Meyer, Naka Drotské en Os du Randt staan hier saam met hul afrigter, kol. Peet Kleynhans, by ’n skrummasjien. Regs is Helgard Müller.

Liane het op Oujaarsdag in 2019, die dag voordat sy 25 jaar oud sou word, haar nekwerwel gebreek en beweegbaarheid in haar onderlyf verloor.

“Hy was net absoluut haar steunpilaar en het ongelooflike geduld met haar gehad en tyd saam met haar deurgebring,” sê Van Rensburg.

“Toe sy uit die rehabilitasiesentrums ontslaan is en tydens die inperkingstyd by die huis kon kom aansterk, het hy vir haar goed gebou om beweeglikheid in en om die huis te vergemaklik, asook toestelle waarop sy kan oefen.”

Harold Verster, besturende direkteur van die Cheetahs, sê dit is vreeslik hartseer om te hoor dat nóg ’n oud-Vrystaat-speler dood is.

“Dougie was ’n kragman wat menige teenstander laat les opsê het. As vaste voorspeler het hy ongekende kragvertonings op rugbyvelde gelewer. Dit is ’n jammerte dat hy nooit as Springbok uitgedraf het nie,” sê Verster.

Dougie Heymans in 2001 in die Vrystaat-trui ten tyde van ’n Curriebekerwedstryd teen die Haaie. Foto: Gallo Images

Heymans se dood volg kort ná die afsterwe van nóg ’n oudspeler wat vir die Vrystaat diens gedoen het, Jannie Els, wat ook Covid-19 gehad het en verlede Woensdag in 3 Militêre Hospitaal in Bloemfontein dood is.

Volgens Frikkie van Rensburg, oudsportjoernalis en -sportredakteur van Volksblad, was Heymans met sy laaste wedstryd die 30ste Suid-Afrikaanse rugbyspeler wat die 150-kerf van wedstryde vir ’n unie verbygesteek het. Hy was een van net twee stutte wat dit destyds reggekry het – die ander stut was Martiens le Roux (162).

Die Springbok-legende Os du Randt het al telkemale erken dat Heymans die speler was wat hom die meeste moeilikheid in die skrum besorg het.

In ’n onderhoud op Jean de Villiers en Schalk Burger se rugbyprogram op YouTube, Use It or Lose It, sê Du Randt hy en Heymans het dikwels tydens oefensessies 100 skrums deurgedraf.

Hy sou jou skrum tot jou skouers bloei en jou skouerbene kraak.

“Hy sou jou skrum tot jou skouers bloei en jou skouerbene kraak,” sê Du Randt, wat twee keer lid was van ’n Springbokspan wat die Wêreldbeker omhoog gehou het.

Hy vertel die destydse Vrystaatse afrigter, Nelie Smith, moes vir hulle skouerkussings bring soos dié in ’n vrouebloes.

“Ons moes dit met naald en gare aan ons rugbytrui vasryg, want wanneer ons teen mekaar geskrum het, het die bloed letterlik gevloei,” sê Du Randt.

“Ek het elke keer as ons vir die skrum gesak het, gedink hierdie keer het ek hom, maar nee, hy was net te sterk.”

Heymans laat benewens Liane sy vrou, Ilse, en twee seuns, GJ en Hendré, agter.

Die familie was Maandag nie gereed om kommentaar te lewer nie. Die begrafnisreëlings is nog nie bekend nie.

Meer oor:  Dougie Heymans  |  Jannie Els  |  Strenger Inperkings  |  Covid-19  |  3De Vlaag  |  Koronavirus  |  Pandemie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.