Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Covid: Gesin al 18 maande geskei – toe nog ’n skok

Verpletterd en dom van skok.

Dit is die emosies wanneer ’n gesin ná langer as anderhalf jaar uiteindelik op die nippertjie staan om herenig te word . . . en die vlug word gekanselleer.

Christene en Darryn Mitchell is steeds nie herenig nie nadat haar vlug na Nieu-Seeland Maandag op die nippertjie gekanselleer is.

“My hart was in stukke. Ek was in trane, my dogtertjie was in trane,” vertel Christene Mitchell van Richardsbaai in KwaZulu-Natal.

Sy en haar twee kinders sou Maandagaand op die eerste deel van hul vlug na Nieu-Seeland vertrek.

Haar man, Darryn, is reeds sedert Januarie 2020 daar. Sy en die kinders, destyds onderskeidelik twee en ses jaar oud, sou ’n rukkie later volg; hulle het net gewag vir die een kind se visum.

In Maart verlede jaar is hulle uit die bloute ingelig dat hul nuwe land sy grense sluit weens die Covid-19-pandemie. Die gesin is soos talle ander in twee geskeur.

Sedertdien het Mitchell en ander gestrandes e-posse en petisies so hoog op as wat hulle kan gestuur, terwyl reis- en emigrasieagente internasionaal help planne maak het.

Christene Mitchell en haar man, Darryn, kort voordat hy ‘solank’ vir sy nuwe werk na Nieu-Seeland vertrek het.

Twee weke gelede het die Nieu-Seelandse owerhede laat weet: Daar sal ’n spesiale vergunning gegee word aan gesinne met kinders (wat visums het) wat weens die reisverbod geskei is.

Maandag laatmiddag was die drie Mitchells en hul tasse op die King Shaka-lughawe in Durban. Hul sou van daar na Doha, Katar, vlieg en dan uiteindelik na Nieu-Seeland.

’n Familielid het ’n boodskap aan vriende en familie gestuur wat uitjubel dat die gesin uiteindelik “ná 18 maande van wag” op pad is en almal bedank wat saam gebid en gehelp het dat hulle herenig kan word.

Maandag net ná 17:00 ontvang vriende en familie ’n hartverskeurende boodskap van Mitchell self: “Ons vlug is uitgestel en ons wag om meer te hoor. Ons is huis toe gestuur. Dit is al wat ons tans weet. Ons hart is stukkend en ongelukkig is dit al inligting wat ons in die stadium het . . .”

Dinsdagoggend was die ma nog verwese. Die middag het sy haar veggees teruggekry: Sy sou dit as ’n “test run” beskou.

“Volgende keer weet ons hoe,” spot sy.

Mitchell vertel hulle was Maandag besig om vir hul vlug aan te meld toe sy agterkom die proses duur baie lank.

“En kort-kort is daar ’n toesighouer en almal fluister, maar niemand sê iets vir ons nie,” sê sy.

“Uiteindelik vra ek wat aangaan. Ek het begin bekommerd raak dat daar ’n probleem met my papierwerk is.”

Sy is vertel die lugdienspersoneel verstaan dit self nie, maar dit blyk dat die vlug vanaf Doha na Auckland skielik gekanselleer is.

“Hulle het regtig alles probeer en was almal heeltyd op hul fone besig,” sê Mitchell.

“Uiteindelik kondig hulle toe aan dat ons vlug (dus ook) gekanselleer is. Verskeie personeellede moes dit ’n paar maal aan my vertel, want die nuus wou net nie insink nie. Ek wou dit net nie glo nie.”

Dit was vir almal ’n groot skok.

Ek moes my trane sluk en myself vinnig-vinnig regruk om nie die kinders te ontstel nie. Ons moes vir hulle jok en sê die vliegtuig is stukkend en hulle maak dit net gou reg, dan kom ons weer.

“My dogtertjie het begin huil. Ek moes my trane sluk en myself vinnig-vinnig regruk om nie die kinders te ontstel nie. Ons moes vir hulle jok en sê die vliegtuig is stukkend en hulle maak dit net gou reg, dan kom ons weer.”

Daar is nie ’n amptelike rede verskaf hoekom die vlug tussen Doha en Nieu-Seeland gekanselleer is nie, hoewel daar gerugte is dat ’n bemanningslid op daardie vlug moontlik positief vir die koronavirus getoets is.

Die reisagent het weer “met tande en naels” ingeklim, vertel Mitchell.

Dinsdag het die agent laat weet: Daar is ’n vlug wat Woensdagaand vertrek.

“Nou sit ons hier en hoop ons vlieg vanaand,” sê Mitchell.

“Ons moet maar positief bly en probeer lag daaroor, want daar is nog soveel gesinne wat steeds sukkel om by mekaar uit te kom. Ek wens ek kon hulle almal in my tasse sit en saamneem. Ek het self Maandagaand besluit ‘big girls don’t cry’. Ons veg terug en land op ons voete met God aan ons kant.”

Meer oor:  Richardsbaai  |  Kwazulu-Natal  |  Covid-19  |  Koronavirus  |  Pandemie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.