Inperking of nie, in ’n gebied soos wyk 11 in Turflaagte buite Bloemfontein is dit beter vir ’n jong mens om binnenshuis te bly.
So het familielede van die drie jong vroue wat gesterf het nadat hulle ’n tuisgemaakte alkoholiese konkoksie gedrink het, Vrydag van onder hul sambrele by een van die roudienste gesê.
Dieketseng Ratshui (24) was een van drie vroue wat gesterf het. Die drie roudienste is in dieselfde omtrek, maar apart gehou.
Sewe mense is op Nuwejaarsdag na ’n ongevalleafdeling van ’n hospitaal geneem nadat hulle siek geword het van die konkoksie.

Die kis van Dieketseng Ratshui (24), een van die drie vroue wat gesterf het nadat hulle ’n alkoholiese konkoksie wat paraffien bevat het, gedrink het. Foto: Mlungisi Louw
Volgens die inwoners was daar onder meer groot hoeveelhede paraffien in die brousel.
Joseph Nphephuka, Ratshui se ouer broer en ’n polisieman, sê soveel as wat hulle wil ontken wat gebeur het, is die realiteit dat dit wel gebeur het.
“Sy was baie jonk en ons het nog baie verwag vir haar lewe.
“Die dood het vroeër gekom as wat ons verwag het, maar ons moet vrede met God se wil maak,” sê hy by die lykswa.
“Ek glo die jong mense hier het nou hul les geleer.”
Boitumelo Lephaila, ’n sakevrou in ’n buurt naby wyk 11, meen egter die jong mense sit sonder hoop en drink om te vergeet van die sleg om hulle, en Covid-19 vererger dinge net.

Een van drie roudienste wat Vrydagoggend in wyk 11 van Turflaagte buite Bloemfontein gehou is. Foto: Mlungisi Louw

Dit is beter vir kinders en jong mense om binne te bly, ongeag of daar ’n inperking is of nie, meen inwoners van wyk 11. Foto: Mlungisi Louw
“Hierdie pandemie veroorsaak baie spanning want jong mense doen nou hul eie ding omdat Covid-19 alles toesluit vir hulle.
“Dié wat in armoede sit, kan niks bekostig nie. Die probleem is hierdie kinders werk nie, en wyk 11 is die minder bevoorregte gebied. Dit is die moeilikste om hier te moet oorleef want hier veral is die werkloosheid groot.”
Dipuo Ntshise (21), ’n vriendin van Ratshui, sê niemand kan bekostig om saans ná sesuur buite hul huise te wees nie.
Theo Mosele, die raadslid, is pas verkies in die wyk nadat Amanda Mapota in Desember gesterf het.
Mosele beoog glo om ná vlak 3 ’n herstelprojek vir die jeug van wyk 11, genaamd Dream Big, op die been te bring.
“Baie jong mense hier hét matriek, maar sien steeds geen uitweg nie,” sê Lephaila.