Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Cyril: ‘Bokke het vir my gejok’

Toe pres. Cyril Ramaphosa die Springbokke Saterdagoggend voor die Wêreldbeker-eindstryd in Jokohama, Japan, ontmoet het, het hulle aan hom gesê hulle is senuagtig.

“Ek dink hulle het vir my gejok, want hoe meer ek na hul gesigte en oë gekyk en hul hande geskud het, hoe meer het ek besef hulle is gereed en vasbeslote vir die groot uitdaging.

“Dit is waarom hulle die ongelooflike oorwinning vir ons kon behaal,” het Ramaphosa Dinsdagoggend met ’n glimlag gesê.

Herchel Jantjies (links) en Eben Etzebeth (regs) word deur hul spanmaats geluk gewens nadat die eindfluitjie in Saterdag se Wêreldbeker-eindstryd in Jokohoma, Japan, geblaas het.Foto: Getty Images

Dit was in ’n omvattende, regstreekse onderhoud van meer as ’n uur lank met die TV-kanaal CNBC Africa.

Die onderhoud het saamgeval met die regering se tweede internasionale beleggingskonferensie, wat Maandagaand in Johannesburg begin het.

Ramaphosa, wat laat Maandagaand uit Japan teruggekeer het, sê die Bokke se verowering van die Wêreldbeker was ’n “ongelooflike oomblik en ’n wonderlike prestasie”.

Voor die wedstryd het hy aan die Bokke gesê: “57 miljoen Suid-Afrikaners ondersteun julle en julle moet op hul skouers staan en jul beste doen.”

“Ek is verheug dat hulle dit gedoen het.”

Dit was nie net ’n oorwinning vir Suid-Afrika nie, maar vir die hele Afrika.

“Die oorwinning het opnuut gewys sport kan mense verenig. Saterdag se oorwinning het die mense van Suid-Afrika nuwe energie gegee. Ons wil hê meer lande in Afrika moet rugby speel omdat ons glo rugby kan help om die vasteland te verenig,” sê Ramaphosa.

Die president sê hy en Brittanje se prins Harry het voor die wedstryd in die stadion aan mekaar gesê: “Mag die beste span wen.”

“Gelukkig was dit ons,” het Ramaphosa gesê en weer breed geglimlag.

Lede van die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) het Maandagmiddag die Springbokke se “verdienstelike” sege in die Wêreldbeker-rugbytoernooi luidkeels en staande toegejuig nadat Amos Masondo, raadsvoorsitter, aan die begin van die sitting die nasionale rugbyspan namens LP’s gelukgewens het.

Dennis Ryder, DA-LP, wat vir die sitting in ’n Springbok-trui geklee was, het daarna onder meer gesê: “Hoewel ons die Springbokke gelukgewens het, wil ek voorstel dat ons hulle formeel gelukwens, nie net met hul oorwinning oor Engeland nie, maar omdat hulle die Wêreldbeker verower het.

“Ek dink die NRP moet dit dokumenteer en aan hulle stuur vanweë die verenigende effek wat hul sege op die land het. Maatskaplike samehorigheid en nasiebou het ook danksy die oorwinning ’n reusesprong vorentoe beweeg. Ek dink dit moet op skrif erken word.”

Mmabatho Mokause, EFF-LP, was wel nie daarvoor te vinde nie. “Ek dink jy (Masondo) het reeds die Springbokke gelukgewens. Ek verstaan nie waarom ons dit soveel aandag moet gee nie. Niks het in Suid-Afrika verander nie. Grondloses is steeds grondloos en werkloses is steeds sonder werk. Ons kan nie die (NRP se) verrigtinge vertraag met ’n mosie wat reeds deurgevoer is nie.”

Sy is deur verskeie LP’s uitgejou.

Seiso Mohai, ANC-hoofsweep, het in reaksie gesê die ANC het nie “ ’n probleem as die voorsittende beamptes ons wil lei in gelukwensings nie”.

“Ons erken die uitstekende prestasie van die Springbokke en ons sal die nodige, selfs ’n blitsdebat, vir verdere gelukwensing skeduleer,” het Mohai gesê.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.