Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Cyril en kie se vlugte met SAL kos fortuin

Die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) se onderneming om pres. Cyril Ramaphosa en adjunkpres. David Mabuza rond te vlieg, knaag ’n enorme gat in die lugmag én belastingbetalers se sakke.

’n Airbus A340-600 van die SAL, soortgelyk aan die een wat vir die vervoer van pres. Cyril Ramaphosa gebruik word.

’n Enkele retoervlug op 21 Junie tussen Kaapstad en Johannesburg vir Rama­phosa en sy gevolg, in ’n tamaai Airbus A340-600, het die lugmag R1,5 miljoen gekos. Dié vierenjin-straler het 316 sitplekke.

Op dié en ander soortgelyke vlugte bestaan die presidensiële geselskap egter selde uit meer as 30 mense, het ’n senior SAL-beampte op voorwaarde van anonimiteit aan Rapport gesê.

Rapport het kwotasies vir van die vlugte onder oë gehad.

Die gebruik van die SAL-vliegtuie kos die lugmag, wat die rekening moet betaal, tans sowat R50 miljoen oor vier maande.

’Betalings word nie volgens regulasies gedoen nie.'

Intussen sukkel die lugmag om binne sy begroting sy eie BBP-stralers vir gebruik deur die presidensie en ander BBP’s te herstel.

Ramaphosa se onlangse vlug na Kanada vir die G7-beraad het volgens berekenings tussen R7 miljoen en R10 miljoen gekos.

Dit is onbekend presies hoeveel passasiers op dié vlugte was.

Volgens lugmagoffisiere wat tans die betalings hanteer, skep die SAL-kontrak probleme in die lugmag se finansiële verrekeningstelsel, omdat dit nie volgens die voorgeskrewe regulasies gedoen word nie.

Die SAL verskaf bloot ’n brief met die koste van ’n vlug. Daar is nie enige ander vergelykende kwotasies vir die vlug soos wat daar normaalweg deur die tesourie vereis word nie. Die SAL wys ook nie hoe die koste van die vlug bereken word nie.

“Ons moet betalings magtig wat ons volgens die ouditvereistes nie mag doen nie, wat ons aandadig aan ’n oortreding maak sou dit ooit ondersoek word,” het een senior lugmagoffisier gesê.

Ramaphosa het vroeër gesê hy vlieg óf met ’n lugmagvliegtuig óf met die SAL, maar nie met ’n huurvliegtuig nie, omdat dit ander maatskappye bevoordeel.

Dit was nadat ’n straler van die omstrede sakeman Zunaid Moti, wat ’n Interpol-voortvlugtige is, gehuur is om Ramaphosa op sy eerste buitelandse besoek as president na Botswana te vervoer.

Ná die pasafgelope Afrika-Unie-beraad in Mauritanië het Rama­phosa en die res van die Suid-Afrikaanse afvaardiging weer in ’n SAL-straler na Nouakchott gevlieg.

Moti se straler het luidens gegewens op Flightradar24 egter wel Nosiviwe Mapisa-Nqakula, minister van verdediging, uit Mauritanië na Suid-Afrika teruggebring.

Khusela Diko, Rama­phosa se woordvoerder, sê hy probeer om in beginsel altyd die goedkoopste geskikte vlug te kies. Wanneer kommersiële vlugte op bepaalde roetes nie beskikbaar is nie, is dit die lugmag se verantwoordelikheid om ’n alternatief te vind.

Die tesourie se staatskontrak RT-61, wat altyd ’n lys van goedgekeurde verskaffers vir huurvliegtuie verskaf het, het egter aan die einde van Januarie vanjaar verval.

Volgens die tesourie se tussentydse riglyne moet staatsdepartemente egter intussen steeds die goedkoopste van drie kwotasies kies. Ramaphosa se voorkeur is egter ’n lugmagvliegtuig of alternatiewelik een van die SAL, wat nie goedkoper opsies moontlik maak nie.

Volgens lugvaartkenners se berekenings sou ’n huurvlug tussen Kaapstad en Johannesburg met plek vir 20 tot 30 passasiers sowat R350 000 kos, pleks van die SAL se R1,5 miljoen.

Inkwazi, die ondiensbare presidensiële Boeing-sakestraler, sou nóg goedkoper wees.

RT-61 het ook die vereistes van BBP-lugvervoer bepaal, soos dat alle vlugbemanningslede vooraf sekerheidsklarings by Verdedigingsinligting moet kry. Alle vlieëniers moet ook Suid-Afrikaanse burgerskap hê.

Krygkor het intussen bevestig dat die versiening aan Inkwazi reeds onderweg is ná verskeie komplikasies met die vooruitbetaling vir onderdele. Die Falcon 900 – die “nommer twee-vliegtuig” vir gebruik deur Mabuza – sal na verwagting eersdaags plaaslik privaat herstel word nadat dit laas jaar deur weerlig getref is.

Siphiwe Dlamini, weermagwoordvoerder, het by navraag bloot bevestig die lugmag betaal al die BBP-vlugte totdat ’n nuwe staatskontrak opgestel is.

“Omdat die SAL ’n staatsonderneming is, hoef slegs die bemanning sekerheidsklarings te ondergaan.”

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Sal  |  Krygkor  |  Inkwazi
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.