Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
D-dag by NUK vir Tito se plan vir ekonomie

’n Lotsbepalende fase vir die minister van finansies, Tito Mboweni, se ekonomiese groeiplan word vandag betree wanneer die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) dit saam met verteenwoordigers van Cosatu en die SAKP bespreek.

Die ANC se parlementêre koukus het die dokument oor die algemeen gunstig ontvang, maar sommige lede is lugtig oor die voorstel om van Eskom se kragsentrales te verkoop. Ook word gesê daar is weinig voorstelle oor hoe om sukkelende staatsbeheerde maatskappye op die herstelpad te kry.

“Die ANC-koukus het die dokument bespreek. Ons wag nou op ’n amptelike verslag,” het ’n senior ANC-LP, wat nie genoem wou word nie, dié week gesê.

Ander staatsdepartemente het ook groeiplanne voorgestel. Daaronder tel ’n gesamentlike ekonomiese beleidsdokument van die departement van handel en nywerheid van minister Ebrahim Patel, en Gwede Manta­she, minister van mineralebronne en energie. Hul voorstel is gekant teen die verkoop van die kragsentrales.

Die voorstelle sal vandag op die NUK-vergadering uitgestryk moet word.

Ingevolge vroeëre ANC-besluite moet Cosatu en die SAKP geraadpleeg word oor ingrypende ekonomiese beleidsvoorstelle. Dit sal vandag op die vergadering gebeur.

Cosatu het reeds te velde getrek teen planne om aan kleinsakeondernemings kwytskelding te gee van kollektiewe loonooreenkomste.

Sizwe Pamla, Cosatu-woordvoerder, het Vrydag gesê NUK-lede wat die vakbondfederasie se belange op die hart dra, sal gekant wees teen dié voorstel.

Mboweni het verlede week op ’n vergadering van die uitvoerendehoofde-inisiatief – ’n losse forum van uitvoerende hoofde van die land se grootste maatskappye – gesê die uitgebreide kabinetsvergadering asook die kabinetslekgotla het die vorige naweek in den brede sy groeiplan ondersteun. Hy het die uitvoerende hoofde verseker ekonomiese beleid word op dié vlak en in die nasionale tesourie bepaal – nie in die kantoor van die ANC se sekretaris-generaal nie.

Oudmin. Roelf Meyer het verlede week gesê Mboweni se groeiplan is een van verskeie aanduiders dat pres. Cyril Ramaphosa op die regte pad is.

“Die ekonomiese groeiplan is egter nie die antwoord op al ons probleme nie.”

Gister het Meyer by navraag aan Rapport gesê Patel het verskeie kere gesê waar die staat te kort skiet met implementering, sal die private sektor moet kom help.

“Ek voorsien dat dit in die een of ander stadium gaan gebeur.”

Meer oor:  Tito Mboweni  |  Cosatu  |  Sakp  |  Anc  |  Nasionale Uitvoerende Komitee (Nuk)
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.