Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
D-dag vir die Cheetahs
Harold Verster, uittredende besturende direkteur van die Vrystaat Cheetahs-maatskappy, staan voor een van sy taaiste dae in meer as 50 jaar in rugby wanneer Saru Dinsdag besluit watter vier spanne in die Pro14 gaan speel. As die Cheetahs uitgeskop word, is dit 'n opdraande stryd om die Cheetahs op 'n lewensvatbare pad te hou. By hom is een van die Vrystaat se goue rugbyseuns, Ruan Pienaar, wat met sy terugkeer na die Vrystaat ná meer as 'n dekade by ander spanne ’n enorme impak gemaak het. Die vraag is of VRU spelers soos Pienaar en Frans Steyn sal kan behou as die span uit die Pro14 geskop word.Foto: Mlungisi Louw

Joggie Jansen, ’n lid van die Vrystaat-span wat die Curriebeker die eerste keer in 1976 ingeoes het, gaan deel wees van die Oranje Maandag-betoging om die Vrystaat- Cheetahs te ondersteun.

Dit is Dinsdag D-dag vir die Toyota Vrystaat Cheetahs as die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) na verwagting gaan besluit om professionele rugby in die hartland keelaf te sny.

“Dit is erger as Covid,” sê Jansen, een van Springbok-rugby en die Vrystaat se grootste spelers die afgelope eeu oor die ramp wat die span en provinsie in die week in die gesig staar.

’n Seuntjie se droom bewaarheid. Klein William de la Querra (6) van Kimberley wys trots sy rubybal wat Tian Meyer (agter), kaptein van die Vrystaat Cheetahs, geteken het pas nadat die span verlede jaar die Curriebeker vir 'n sesde keer op die Vrystaatstadion in Bloemfontein gewen het. Die droom van duisende seuntjies om hul Cheetah-helde ná 'n oorwinning in die stadion te ontmoet kan vernietig word as Saru die span uit die Pro14 gaan skop. Dit kan professionele rugby in die Vrystaat 'n nekslag toedien. Foto: Charles Smith

Saru gaan Dinsdag stem of die Vrystaat Cheetahs, die huidige Curriebeker-kampioen, sy plek in die Pro14-kompetisie gaan behou. Die gevoel in Saru is dat die vier Superspanne, die Leeus, Bulle, Stormers en Haaie, na die Pro14 geskuif word.

Die Vrystaatse Rugbyunie (VRU) het glo adv. Wim Trengove SC gevra om sy regte as rugbyfranchise te beskerm, sou Saru die Cheetahs uitskop. Die VRU kan soveel as R30 miljoen aan borggeld verloor, wat dit moeilik sal maak om kop bo water te hou.

Jansen (72) sê hy gaan beslis Maandag aan die Oranje Maandag-betoging deelneem waar honderde Cheetahs-ondersteuners met oranje vlae in ’n verbyry-aksie hul steun aan hul geliefde span oordra.

“Dit gaan ’n groot ding wees as ons nie meer in die Pro14 is nie. Dit gaan ’n slegte dag wees as Saru nie luister na ons nie. Eindelik gaan dit net oor een ding: geld,” sê Jansen.

Oudspelers en ondersteuners sê dit is dom van Saru om een van die grootste voedingsbronne vir rugby in die land dood te maak.

Oudspelers en ondersteuners sê dit is dom van Saru om een van die grootste voedingsbronne vir rugby in die land dood te maak. Die Vrystaat spog met Grey-kollege wat die beste skolespan in die wêreld het en die meeste Springbokke van enige skool opgelewer het.

Gerrie Germishuys, Springbok- en Vrystaat-vleuel wat in die jare sewentig 51 drieë in 72 wedstryde in die Vrystaattrui gedruk het, sê hy meen die Vrystaat word baie onregverdig behandel. Die Vrystaat veg altyd om oorlewing en die groot unies stem hom eenvoudig net uit.

“Rugby word al hoe meer doodgemaak. Die ouens dink net aan hulself en hul eie sakke. Die Vrystaat moet elke keer weer van voor af begin bou.”

'n See van oranje vlae het in die Vrystaat-stadion gewapper nadat die Vrystaat Cheetahs die Curriebeker 'n jaar gelede vir die sesde keer gewen het. Vrystaat-rugby was toe op die kruin van die golf met die derde seisoen in die Pro14-kompetisie in Europa wat sou volg en met een van die grootste sterre in Suid-Afrikaanse rugby, Frans Steyn, wat hom by die span sou aansluit. Maar Covid-19 sou volg en die Pro14 lamlê - en ook die skoknuus bring dat die Cheetahs hulle in die rugbywoestyn kan bevind met Saru se besluit Dinsdag om die Superspanne bo die Cheetahs in die Pro14 te laat speel. Dit kan beteken dat die Vrystaatstadion 'n spookstadion kan word en tonele soos dié iets van die verlede sal wees, selfs al wen die span die Curriebeker vanjaar 'n sewende keer. Foto: Mlungisi Louw

Tom Ferreira, skepper van die Oranje Maandag-betoging, sê daar is minstens vyf redes waarom Cheetah-ondersteuners Maandag in hul oranje drag moet spring en die Cheetah-vlae moet laat wapper: Om solidariteit te betoon met die Cheetahs wat weer voor ’n kruispad staan met die lotsbepalende besluite wat Saru Dinsdag gaan neem; om te beklemtoon dat die Cheetahs die Curriebeker-kampioen is; om die beker te vier wat die Cheetahs twee weke gelede sou gewen het as Covid nie die rugbyseisoen tot stilstand laat knars het nie (die eindstryd was vir 11 September geskeduleer); om die Vrystaat se buurman, Griekwas, se oorwinning in die Curriebeker-eindstryd net mooi 50 jaar gelede oor die magtige Blou Bulle in Kimberley te herdenk; en om die Cheetahs voorspoed toe te wens met die seisoen wat voorlê.

“En die belangrikste rede: Om die boodskap uit te stuur dat die Cheetahs nie met hulle sal laat mors nie.” Die Oranje Maandag-deelnemers trek om 12:30 by Pitstop langs die N1-snelweg buite Bloemfontein saam. Ondersteuners word gevra om hul Cheetah-truie aan te trek en met Cheetah-vlae op te ruk.

Meer oor:  Charles Smith  |  Joggie Jansen  |  Oranje Maandag-Betoging  |  Rugby  |  Cheetahs  |  Betoging
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.