Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
DA én ANC wil e-tolstelsel sien verdwyn

Die onus is op die nasionale regering om te besluit of die omstrede e-tolstelsel op Gautengse hoofweë geskrap gaan word of nie.

Solly Msimanga, burgemeester van Tshwane en die DA se premierskandidaat, spreek die skare DA-ondersteuners Woensdag op die Mary Fitzgerald-plein in Johannesburg toe. Foto: Simon Sonnekus

So sê die ANC in Gauteng nadat die DA Woensdag ’n optog na die Gautengse premier se tydelike kantore langs die Mary Fitzgerald-plein in die Johannesburgse middestad oor die kwessie gehou het.

Solly Msimanga, burgemeester van Tshwane en die DA se premierskandidaat vir Gauteng, het in ’n toespraak voor honderde DA-ondersteuners gesê as David Makhura, die premier, ernstig daaroor was om die e-tolstelsel te skrap, sou hy dit lankal gedoen het.

“Die ANC het laas gesê hulle sal oor ses maande ’n alternatief vir die e-tolstelsel vind, maar hoekom eers oor ses maande? As hulle ernstig was oor die saak sou hulle dit nou doen voordat die kontrak verstryk en nog voor die nasionale verkiesing,” sê Msimanga.

Hy sê die stelsel knou die ekonomie met sakeondernemings wat besluit het om eerder e-tol te betaal as om nog mense in diens te neem.

“Sedert die blou ligte (aan die oorhoofse e-tolhekke) aangebring is, het ons die ANC-regering gewaarsku dat ons mense dit nie kan bekostig nie. Hulle het gedink dat as jy ’n voertuig kan bekostig, jy die tolgeld kan bekostig, wat nie waar is nie. Makhura en die ANC gee nie om nie,” sê Msimanga.

Hulle het ook ’n memorandum en ’n petisie met 50 000 handtekeninge teen die e-tolstelsel aan ’n verteenwoordiger van die provinsiale regering oorhandig.

Die DA-lede en -ondersteuners in hul optog deur die strate van Newtown, Johannesburg. Die party het betoog teen die e-tolstelsel in Gauteng. Foto: Simon Sonnekus

Tog voer die ANC ook aan dat die stelsel geskrap moet word. Panyaza Lesufi, adjunkvoorsitter van die ANC in Gauteng, het Dinsdagoggend in ’n radio-onderhoud aan Stephen Grootes van SAfm gesê die realiteit is dat die e-tolstelsel moet waai.

“Die ANC is ook betrokke by die stryd om die stelsel te geskrap te kry, juis omdat die huidige formaat daarvan nie werk nie.

“Dit is hoekom ons by die Uniegebou betoog het, ons wil die nasionale regering vra om die paaie aan die Gautengse regering terug te gee. Ons weet Gautengers is slim en sal ’n oplossing vind,” sê Lesufi.

Hy het verder gesê die nasionale en plaaslike regering het taakspanne saamgestel om die kwessie te bekyk.

“Ons wil ’n manier vind om die skuld in te vorder, maar op die huidige trant werk dit nie.”

Die ANC het in reaksie op die DA se optog in ’n verklaring gesê hulle vind die opposisieparty se motiewe verdag. “Ons verwelkom alle strukture en organisasies wat saamstaan om die e-tolstelsel te wysig, maar ons glo egter die DA is besig met hul verkiesingsveldtog in Gauteng. Om ’n optog te hou na iemand wat ook teen die stelsel gekant is, en nie na die regering in Tshwane nie, is ’n voorbeeld van populisme,” lui die verklaring.

Meer oor:  Da  |  Anc  |  E-Tol  |  Gauteng  |  Verkiesing
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.