Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
DA in W-Kaap stel nog 6 skuilings beskikbaar vir vroue, kinders
Leanne Manas, een van POWA se ambassadeurs.Foto: Verskaf

Die toename in geslagsgeweld tydens die inperking “dien as ’n herinnering aan die belangrike werk wat ons almal moet doen om ’n vinnige einde aan dié misdaad in ons land te bring,” sê John Steenhuisen, leier van die Demokratiese Alliansie (DA).

Hy het op die eerste dag van die 16 dae van aktivisme teen geslagsgeweld gesê tot soveel as 51% van Suid-Afrikaanse vroue het geweld deur 'n intieme maat ondervind.

“Die DA verbind homself om 'n einde te maak aan hierdie misdaad wat vroue en kinders van hul basiese regte en vryhede beroof. Suid-Afrika het nie 16 dae van aktivisme teen geslagsgeweld nodig nie, ons het 365 dae nodig.”

Steenhuisen sê ’n veelsydige en omvattende benadering is nodig om geslagsgeweld te pak.

Die DA het talle inisiatiewe in werking gestel:

• Die Wes-Kaapse departement van gemeenskapsveiligheid het adv. Leslie Morris die taak opgelê om geslags- en gesinsgeweld in die “Court Watching Brief Unit” te monitor.

• Die Wes-Kaapse departement van maatskaplike ontwikkeling finansier tans 20 skuilings in die provinsie wat slagoffers en hul kinders vir tot drie maande kan huisves, en vier noodskuilings wat slagoffers vir tot drie weke kan huisves.

• Die Wes-Kaapse departement van onderwys se veilige skole-vakansieprogram skep veilige ruimtes en aktiwiteite vir kinders gedurende die vakansie en bevat inhoud oor geslagsgeweld, seksuele misbruik en geslagsgelykheid om leerlinge te bemagtig.

Die DA in die Wes-Kaap het ook ses eiendomme beskikbaar gestel vir oorlewendes van geslagsgeweld. Diensverskaffers is aangestel om daaglikse bedrywighede daar te bestuur.

Die skuilings en diensverskaffers is in dié munisipaliteite:

Suid-Afrikaanse vlae hang halfstok buite die parlement in Kaapstad as deel van die vyf dae van rou oor slagoffers van Covid-19 en geslagsgeweld wat Woensdag begin het en saamval met die 16 dae van aktivisme teen geweld teen vroue en kinders. Foto: Jaco Marais

• Twee aangrensende eiendomme in die Bergriver-munisipaliteit sal funksioneer as een skuiling wat deur die Siyabonga- Huis van Danksegging bestuur word;

• Een skuiling in die Swartland-munisipaliteit, bestuur deur Community Cohesion;

• Een skuiling in die Laingsburg-munisipaliteit, bestuur deur Famsa; en

• Twee skuilings in die Hessequa-munisipaliteit, bestuur deur Mosaic.

“Die skuilings sal as noodeenhede funksioneer wat vroue en kinders vir tot twee weke sal huisves. In dié tyd sal 'n maatskaplike werker 'n veiligheids- en ontwikkelingsbehoeftebepaling uitvoer wat 'n beslissing sal gee oor die vraag of die oorlewende weer in die gemeenskap geïntegreer kan word of na 'n ander skuiling verwys moet word om langer te bly.”

Die vroueregte-organisasie People Opposing Women Abuse (POWA), in vennootskap met ’n teevervaardiger, vra Suid-Afrikaners om hul stemme by #EndDomesticSilence te voeg deur 'n stempos aan die president op te neem waarin die regering versoek word om drie nuwe wetsontwerpe te prioritiseer.

Intussen het die Suid-Afrikaanse Polisiediens in die Wes-Kaap Woensdag 'n byeenkoms gehou om die begin van die 16 dae van aktivisme teen geweld teen vroue en kinders van stapel te stuur.

Dan Plato, burgemeester van Kaapstad, het in Mitchells Plain die eerste van ses geleenthede ingelui.

“Organisasies en gerehabiliteerde oortreders moet onder die tema ‘Reik uit, staan op en word gehoor’ deelneem om die hoë vlak van geslagsgeweld aan te spreek en mans aan te spoor om vroue te respekteer en te beskerm,” lui ’n verklaring van Plato.

Die Rod Bearers se wetstoepassing-motorfietsklub sal van Woensdag tot 10 Desember met hul motorfietse oor die Wes-Kaap heen ry ter ondersteuning van die 16 dae-veldtog.

“Alle sektore van die samelewing se samewerking is nodig om dié geweld te beëindig,” het pres. Cyril Ramaphosa in sy jongste nuusbrief gesê.

Meer oor:  Geslagsgeweld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.