Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Daai rok: Gehoor voel toe allermins vere!

Tamaryn Green het toe dié week met haar veelbesproke bloukraan-voëlkostuum op die verhoog verskyn by die Mej. Heelal-kompetisie, en glo dit of nie, die gehoor was mal daaroor.

Tamaryn Green in haar bloukraan­voël-kostuum op die verhoog.

Trouens, dit gaan so goed met die Suid-Afrikaanse skoonheid by die kompetisie dat daar mense is wat reken sy het ’n goeie kans om dit te wen. Die wenners word môreoggend 02:00 (Suid-Afrikaanse tyd) in Thailand aangewys.

Toe dié rok aan die Suid-Afrikaanse publiek bekendgestel is, was daar baie kritiek, ook van ontwerpers. Daar is mense wat gesê het Tamaryn lyk soos ’n voëlverskrikker in die rok. Maar toe Tamaryn dit die afgelope week in die afdeling nasionale kostuum by die kompetisie gedra het, was dit ’n ander storie.

‘Ons is baie trots op haar.’

Malikah Hajee van The Costume Department, wat die uitrusting gemaak het, sê ’n kostuum soos dié kom net tot sy reg op ’n groot verhoog – die ruimte waarvoor dit gemaak word. Sy sê Tamaryn het die kostuum met soveel selfvertroue en trots gedra, dit het die gehoor aangegryp.

Claudia Henkel, Mej. SA-woordvoerder, sê dié skepping is nie ’n rok nie, maar ’n kostuum wat ’n unieke element van jou land moet uitbeeld.

Tamaryn Green in die swemklere-afdeling.

“Tamaryn het geskitter en ons is baie trots op haar. Sy het die verhoog haar eie gemaak. Sy vaar baie goed. Ons geld is op ’n titel,” sê Henkel.

Dié afdeling is nie vir konvensionele uitrustings nie, en ’n paar van die deelnemers het in uitspattige kunswerke geskitter.

Marisela de Montecristo, Mej. El Salvador, se kostuum verteenwoordig die Panchimalco-fees.Foto: AP

Sophida Kanchanarin, Mej. Thailand, se kostuum het ’n olifant voorgestel . . . en Marisela de Montecristo, Mej. El Salvador, se kostuum wat die Panchimalco-fees uitbeeld, het soos ’n reuseverestoffer gelyk.

Die swemklere- en aanddrag-afdelings van die kompetisie is ook dié week afgehandel, asook die onderhoude deur die beoordelaars. Die punte wat daarmee verdien is, bepaal wie die semifinaliste is.

Nog ’n Suid-Afrikaanse ontwerp het goed gevaar toe Thulisa Keyi, Suid-Afrika se deelnemer aan Mej. Wêreld, se rok bekroon is as die beste ontwerp by dié kompetisie. Biji Gibbs het dit ontwerp.

Angela in die swemklere-afdeling.

Sy was 'n man

Mej. Spanje, Angela Ponce van Seville, is die eerste openlik transgender-deelnemer in die geskiedenis van die Mej. Heelal-kompetisie. Persone wat nie “natuurlik-gebore vroue” is nie mag sedert 2012 aan dié 66 jaar oue kompetisie deelneem.

Ponce het veral geskitter in haar nasionale kostuum, wat deur dié land se Flamenco-dansers geïnspireer is.

Sy werk in Spanje saam met ’n nieregeringsorganisasie wat hom beywer om die stigma rondom transgender-kinders af te breek en om bewusmaking te doen oor die hoë selfmoordsyfer onder transgender-tieners.

Ná jare se hormoonterapie is haar geslagsverandering tot ’n vrou in 2014 met ’n operasie voltooi.

Meer oor:  Claudia Henkel  |  Tamaryn Green  |  Mej. Sa  |  Transgender
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.