Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Daar is g’n 10-ling, glo pa en sy familie nou
’n Hoog swanger Gosiame Sithole – maar met hoeveel babas? Foto: IOL/Twitter.

Die familie van die pa van die “wêreld se eerste tienling” aanvaar nou dat die babas nie bestaan nie totdat die teendeel bewys word.

In ’n verklaring wat Dinsdag laatmiddag uitgereik is, sê Tebogo Tsotetsi se familie dat nóg die babas, nóg die babas se ma opgespoor kan word.

Hul vergadering by die familiehuis in Tembisa, bygewoon deur uitgebreide familielede en nabye vriende, is gehou sodat “Gosiame Sithole se kêrel, Tebogo Tsotetsi, verslag kan doen”.

Die pa het toe erken dat hy self ook nog nie die “tienling” gesien het nie. Hy het maar op inligting van Sithole staatgemaak. Die familie was dus afhanklik van die “ma” vir inligting.

Sy het egter intussen haar foon afgesit en kontak met hulle verbreek het, lui die verklaring.

‘Rekordgeboortes’

Die “opspraakwekkende geboortes” het ook buitelandse media en die eienaars van Guinness-wêreldrekord se aandag getrek sedert Piet Rampedi, redakteur van IOL se Pretoria News, verlede week daaroor berig het.

Luidens die eerste “eksklusiewe” berig op Dinsdag 8 Junie is sewe seuntjies en drie dogtertjies die Maandagaand (7 Junie) op 29 weke in ’n private hospitaal gebore.

Geen foto’s was beskikbaar nie om die gesin se privaatheid en kultuur te respekteer.

Die familie het nooit aangevoer dat (hulle) die tienling gesien het nie en het staatgemaak op die oproepe en WhatsApp-boodskappe van die meisie.

’n Week later het Tsotetsi aan Rampedi vertel hy het sy meisie die laaste keer gesien toe hy haar die Sondag voor die geboortes na ’n Tembisa-kliniek gebring het. Sithole het hom die volgende dag laat weet sy is intussen in die Mediclinic Medforum in Pretoria opgeneem.

Net ná middernag op 8 Junie het sy hom glo ingelig die babas is gebore – en dat geen besoeke, selfs deur die pa, toegelaat word nie.

Vrydag het sy hom, luidens opvolgberigte, laat weet sy is nou opgeneem in die Steve Biko- akademiese hospitaal (SBAH) se lodge-geriewe.

Die afgelope Maandag het IOL berig die “tienling” se pa het mense versoek om vir eers skenkings te staak totdat sy meisie terugkeer huis toe.

Intussen het News24 berig die pa is eintlik met ’n ander vrou getroud. Sibongile Gxekwa (47) het aan News24 gesê Tsotetsi is haar man en hy het Sithole glo in 2020 agter haar rug begin sien.

Hospitale reageer

Verskeie hospitale en die regering het die week amptelik bevestig hulle dra geen kennis van die unieke gebeurtenis nie.

Dr. Mathabo Mathebula, uitvoerende hoof van die SBAH, het Dinsdagoggend gereageer met: “Nee, hier is nie ’n tienling by ons nie. Ons het geen babas gesien wat oorgeplaas is of hier gebore is nie. Ons lodge is vir borsvoedende ma’s wie se babas hier opgeneem is.”

Daar is wel aan haar gerapporteer dat ’n vrou “wat haarself as die ma van die tienling voorgestel het” Saterdagaand by die hospitaal opgedaag het.

“Die vrou het gesê dat sy wil kom kyk na die babas wat sy op 7 Junie in die Louis Pasteur-hospitaal (ook Pretoria) gehad het. Volgens haar is sy op 10 Junie daar ontslaan en ingelig dat die baba’s na SBAH oorgeplaas word.”

Die vrou het gesê dat sy wil kom kyk na die babas wat sy op 7 Junie in die Louis Pasteur-hospitaal (ook Pretoria) gehad het.

Mathebula sê dit is nie algemeen dat ’n ma en pasgebore baba’s van ’n private hospitaal na ’n staatshospitaal oorgeplaas word nie, behalwe as die ma se mediese fonds opdroog.

“En dan is daar eers kommunikasie tussen die hospitale om so ’n reëling vir die oorplasing te tref. Dit is ook onwaarskynlik dat ’n ma so gou ná die geboorte van tien baba’s ontslaan sal word – behalwe as die persoon ‘weggeloop’ het.”

Voorts het Mathebula, en ander hospitale, gesê hulle laat wel tans nog toe dat pa’s hul babas in die hospitaal besoek.

Michael Sadiki, woordvoerder van die private hospitaal Louis Pasteur, het ook bevestig dat nie Sithole of ’n tienling by hulle opgeneem is nie.

“As dit so was, sou die hospitaalbestuur baie opgewonde gewees het omdat dit ’n pragtige storie is om met die wêreld te deel,” sê hy.

Die Mediclinic-hospitaalgroep het ook nie so ’n geval gehad nie.

Phumla Williams, direkteur-generaal van die staat se kommunikasiediens (GCIS), het Dinsdag, kort voordat die Tsotetsi-familie se verklaring uitgereik is, gesê hulle hou by hul verklaring van 8 Junie: “Die regering kon nie die egtheid van die geboorte by ons hospitale verifieer nie.”

Die familiebesluit

Toe volg die familieverklaring met: “Die huidige onsekerhede en openbare diskoers oor die tienling is ’n groot kommer vir die familie, veral in die afwesigheid van enige bewyse dat die tienling bestaan (behalwe vir telefoniese en WhatsApp-boodskappe van die ma)”.

Die familie se gevolgtrekking is dat “daar geen tienling tussen Tebogo Tsotetsi en Gosiame Sithole gebore is nie, totdat die teendeel bewys word”. Hulle vra om verskoning vir enige ongerief en “verleentheid”.

Die familie erken en waardeer “die ondersteuning van Rampedi tydens die swangerskap sedert laat verlede jaar”.

Hulle sê dit was Tsotetsi wat die Pretoria News en Rampedi van die “tienling” ingelig het, “gegrond op die inligting wat hy by sy meisie gekry het.”

“Die familie het nooit aangevoer dat (hulle) die tienling gesien het nie en het staatgemaak op die oproepe en WhatsApp-boodskappe van die meisie.”

Volgens hulle het die pa sonder enige sukses probeer om die ma en “tienling” te sien.

Die Tsotetsi-familie beskou die kwessie as “baie sensitief en kommerwekkend”, veral omdat dit onbekend is waar Sithole haar bevind.

Hulle het weer mense gevra om geen skenkings in enige bankrekening vir die “tienling” te betaal nie en bygevoeg hul bid vir Sithole se veilige terugkeer.

Meer oor:  Gosiame Sithole  |  Tebogo Tsotetsi  |  Tembisa  |  10-Ling  |  Tienling
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.