Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Daar ís hoop, sê Fikile oor padsterftes in vakansie

Die getal sterftes in die feestyd (van 1 Desember tot 15 Januarie) op die land se paaie het die derde jaar agtervolgens gedaal.

Fikile Mbalula, minister van vervoer, het Donderdagmiddag op ’n mediakonferensie in Pretoria gesê hy meen dat die Arrive Alive-veldtog ’n groot rol gespeel het.

Die getal padsterftes in die feestyd van 2016-’17 was 2 006, in 2017-’18 was dit 1 770 en in die afgelope vakansietyd het 1 617 mense in padongelukke gesterf. Dit is ’n afname van 10%.

Fikile Mbalula, minister van vervoer, Donderdagmiddag op die mediakonferensie in Pretoria.Foto: Sarel van der Walt

Die meeste slagoffers was tussen 20 en 44 jaar oud. Minibustaxi’s was vir minder as 10% van die noodlottige ongelukke verantwoordelik.

“Die dodetal is steeds onaanvaarbaar hoog. Dit is ’n slagting maar daar is lig in die tonnel – ’n lig van sonskyn en hoop, en nie die lig van ’n aankomende trein nie,” het Mbalula gesê.

“Ons het tien jaar gelede ’n doelwit aan onsself gestel dat ons die noodlottige ongelukke en ernstige beserings teen 2020 met 50% wou verminder. Ongelukkig is baie min vordering gemaak.”

Die aantal noodlottige motorongelukke het die afgelope vakansietyd met 3% afgeneem.

Daar was altesaam 1 390 noodlottige ongelukke waarin 1 617 mense gesterf het. Die meeste noodlottige ongelukke was in KwaZulu-Natal (304).

In die Vrystaat was daar ’n stewige afname van 35% in noodlottige ongelukke, 23% in Mpumalanga, 19% in die

Wes-Kaap, 16% in Noordwes, 13% in die Noord-Kaap, 7% in die Oos-Kaap en 5% in KwaZulu-Natal.

Altesaam 58 669 mense – 16 000 meer as in die vorige jaar – is beboet omdat hulle te vinnig gery het.

In Limpopo was egter daar ’n toename van 12% en 1% in Gauteng, het hy gesê.

“Limpopo bly ’n groot kopseer en die talle ongelukke kan onder meer toegeskryf word aan die swaar verkeer in dié provinsie omdat dit die poort na lande in die noorde is.”

Die meeste mense (40%) wat in padongelukke gesterf het, was weer voetgangers. Dit is 3% meer as in die vorige jaar.

Altesaam 23% van die slagoffers was alleen in voertuie wat omgeslaan het, 14% is in tref-en-trap-ongelukke dood, 10% in botsings reg van voor en 1% was fietsryers.

Verskeie onpadwaardige voertuie wat oorlaai en op pad na die land se buurlande was, was in van die ongelukke betrokke.

Altesaam 34% van die sterftes was passasiers in motors, terwyl 25% die bestuurders was. Van die mense wat gesterf het, was 73% mans.

Altesaam 84% van die ongelukke is aan menslike foute toegeskryf, dus nie aan meganiese foute of weerstoestande en dies meer nie.

Die ongelukke waarin mense gesterf het, sal die Suid-Afrikaanse ekonomie na raming R168 miljard kos.

Hy het die verkeersowerhede en die polisie vir hul toegewyde diens in die vakansietyd geloof. Hy meen hul sigbaarheid en optrede het ’n groot rol in die laer sterftesyfer gespeel.

Volgens adv. Makhosini Msibi, uitvoerende hoof van die Padverkeersbestuurskorporasie, is daar in dié tyd landwyd altesaam 1 924 padblokkades gehou – 1 114 meer as in die vorige jaar. Die meeste padblokkades (998) was in die Wes-Kaap, waar 168 513 voertuie voorgekeer en deursoek is.

Landwyd is 1,5 miljoen voertuie deursoek. Dit is 189 862 meer as die vorige jaar

Die meeste voertuie is in Limpopo voorgekeer, sê Msibi.

Landwyd is 8 374 mense in hegtenis geneem op verskeie klagte, wat dronk- en roekelose bestuur insluit.

Altesaam 58 669 mense – 16 000 meer as in die vorige jaar – is beboet omdat hulle te vinnig gery het.

Mbalula sê van die 85 mense wat vir omkopery aangekeer is, was ses wetstoepassers wat glo omkoopgeld by motoriste geëis het. ’n Senior polisie-offisier van KwaZulu-Natal is een van hulle.

“Vanjaar sal die jaar van dóén wees. Aarto [Administratiewe Beregting van Verkeersoortredings] sal onder meer in Junie in werking tree, en ons sal al strenger teen dronkbestuurders optree en op onpadwaardige voertuie fokus,” het hy gesê.

padsterftes
Padsterftes oor die feesseisoen

Wetstoepassers blaas in jaagduiwel se nek

Wetstoepassers is warm op die spoor van ’n motoris wat in die vakansietyd in ’n Audi 308 km/h op ’n Johannesburgse hoofweg gejaag het en op sosiale media daarmee gespog het.

Fikile Mbalula, minister van vervoer, het op ’n mediakonferensie in Pretoria, waar die padongelukke-statistieke van die afgelope vakansieseisoen bekend gemaak is, gesê dié bestuurder is geïdentifiseer.

Hy woon glo in Midrand. Mbalula sê “ons sal nie rus voordat ons hom aangekeer het nie”.

Adv. Makhosini Msibi, uitvoerende hoof van die Padverkeersbestuurskorporasie, het op die mediakonferensie gesê vyf mense is in die feestyd landwyd aangekeer wat vinniger as 200 km/h gery het.

Een van hulle is naby Welkom in die Vrystaat betrap toe hy 248 km/h in ’n 100 km-sone gery het.

Mbalula sê ’n mediese dokter is in Johannesburg in hegtenis geneem nadat hy onder die invloed van drank in ’n ongeluk was.

’n Ander man, wie se bloedalkoholvlak 2,61 g per 1 000 ml was, is op 15 Desember in Johannesburg in hegtenis geneem. Die wettige vlak is 0,24 g per 1 000 ml.

DJ Gertse, ’n provinsiale verkeersinspekteur van die Wes-Kaap, het die meeste inhegtenisnemings (109) in die land vir dronkbestuur, poging tot omkopery en roekelose en nalatige bestuur gemaak, sê die minister.

Hyself het een nag in die vroeë oggendure ’n boodskap op sy foon gekry van buspassasiers wat oor hul moeë busbestuurder bekommerd was. Hy het daarop die verkeersowerhede gekontak. Hulle het die bus, wat op pad was Oos-Kaap toe, gestop en gereël dat die maatskappy ’n nuwe drywer stuur.– Sarel van der Walt



Meer oor:  Fikile Mbalula  |  Minister Van Vervoer  |  Feestyd  |  Padsterftes  |  Vakansie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.