Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
‘Daar was nie sabotasie’

Die redes waarom twee kragopwekkingseenhede voorverlede week by die Tutuka-kragstasie afgeskakel is, hou geen verband met die drukketels in die eenhede nie en kan dus kwalik gekoppel word aan die beweerde sabotasie waarmee pres. Cyril Ramaphosa Woensdag die land geskok het.

Pres. Cyril Ramaphosa en Pravin Gordhan, minister van staatsondernemings, Woensdag by ’n nuuskonferensie by Megawatt Park in Johannesburg. Foto: Gallo Images

Boonop het een van die land se voorste energiekenners, Mike Rossouw, Vrydag gewaarsku dat die al hoe groter wordende kragtekorte op ’n algehele ineenstorting van die netwerk kan afstuur.

Die land het in Februarie vanjaar vir die eerste keer fase 4- beurtkrag ervaar en Maandag vir die eerste keer fase 6.

“Eskom verloor duidelik die stryd. Hulle plak pleisters oor koeëlwonde en verstaan nie waaroor dit werklik gaan nie. Ek is baie bekommerd daaroor,” het Rossouw, ’n voormalige voorsitter van die Energie-intensiewe Verbruikersgroep en ’n elektriese ingenieur, gesê.

Die eerste eenheid wat voorverlede week by Tutuka afgeskakel is, was eenheid 1, wat tot stilstand gebring is omdat daar ongewone geraas in laers (bearings) in die turbinegedeelte van die eenheid was, sê Deon Reyneke, adjunk-bestuurshoof van Solidariteit belas met Eskom.

‘Hulle verstaan nie waaroor dit gaan nie.’

Die turbine-eenheid is die afgelope week oopgemaak en gaan nou tot Maart 2020 buite werking wees vir herstelwerk. Dis nogmaals ’n aanduiding van die ernstige agterstand in onderhoudswerk in Eskom.

Die tweede eenheid wat afgeskakel is, is Tutuka eenheid 5, omdat daar onsuiwerhede beland het in die gesteriliseerde water wat onder hoë druk tot stoom verhit word.

Elkeen van die ses eenhede in Tutuka kan hoogstens 585 MW elk opwek. Die twee eenhede wat in die aanloop tot Maandag se fase 6-beurtkrag afgeskakel is, kon dus hoogstens tot ’n verlies van 1 170 MW gelei het.

Die werklike verlies aan opwekkingsvermoë in die twee eenhede was egter heelwat minder as 1 170 MW, want hulle het nog gedeeltelik gefunksioneer.

‘Dié stelsel bestaan glad nie meer nie.’

Volgens Reyneke is daar ’n “algemene tekort” aan onderdele vir die steenkoolmeulens by Tutuka. Daarom wek die eenhede heelwat minder krag op as hul ontwerpvermoë. “Elke eenheid lewer effens meer as die helfte van hul ontwerpvermoë – dus om en by 350 MW,” sê hy.

Dit is die afgelope week herstel en daar sou Vrydag begin word om die eenheid weer aan die gang te kry. Vrydag is nog ’n eenheid, nr. 2, afgeskakel weens ’n stoomlekkasie in ’n drukketel se pype.

Ramaphosa het Woensdag by Megawatt Park gesê die beweerde “sabotasie” is gepleeg toe ’n instrument van een van die drukketels ontkoppel is.

“Dit het tot ’n kortsluiting gelei, ek dink dit was twee drukketels, en het meegebring dat ons soveel soos 2 000 MW in hierdie tydperk verloor het,” het Ramaphosa gesê nadat Eskom se bestuur aan hom verslag gelewer het oor die redes vir fase 6-beurtkrag.

Ramaphosa het te midde van eise deur die opposisie ’n besoek aan Egipte kortgeknip weens die kragkrisis, minder as twee weke nadat hy vir die eerste keer ooit die Medupi-kragsentrale in Mpumalanga besoek het, waar die vyfde eenheid pas in gebruik geneem is.

“Ek weet nie van watter instrument Ramaphosa gepraat het nie, maar die waarskynlikste is die pirometer, wat verreweg die belangrikste instrument van die drukketel is,” sê Reyneke.

Die pirometer is ’n hoogs gevorderde hittemeter wat temperature van meer as 1 000 °C oor ’n afstand op verskillende plekke binne in die drukketel meet. Daarmee word onder meer bepaal of die regte gehalte steenkoolpoeier in die drukketel geblaas word terwyl die reusagtige stuk toerusting in bedryf is.

Reyneke sê daar is ’n tekort aan pirometers in Tutuka. “Wanneer ’n eenheid afgeskakel word vir onderhoudswerk of omdat iets daarmee verkeerd loop, word die pirometer gewoonlik afgehaal en in ’n ander drukketel geïnstalleer,” sê Reyneke.

Hy het op versoek van Rapport by vakbondlede en opsieners van Tutuka gaan navraag doen oor toestande by die kragstasie waar die beweerde sabotasie plaasgevind het.

Die Suid-Afrikaanse Polisiediens en die Staatsveiligheidsagentskap ondersoek die bewerings van sabotasie.

Kort ná Solidariteit se navrae het elke werknemer in die kragstasie ’n SMS ontvang wat hulle waarsku dat geen inligting aan buitestanders gestuur mag word nie.

Rossouw, wat in 2014 en 2015 deur Eskom in diens geneem is om as ’n onafhanklike kundige toestande by kragstasies te ondersoek, het ’n omvattende verslag daaroor vir Eskom se uitvoerende komitee opgestel.

Hy is vir die eerste keer ernstig bekommerd daaroor dat die land op ’n algehele ineenstorting van die kragnetwerk afstuur.

Hy het sy verslag, wat vertroulik was, aan Rapport gegee. Dit is opgestel in die nadraai van die ontploffing in Duvha se nr. 3-drukketel in Maart 2014 en die ineenstorting van ’n steenkool-silo by die Majuba-kragstasie.

Dit is albei toegeskryf aan gebrekkige instandhouding.

Duvha se drukketel word vervang teen ’n koste van R4 miljard en is nou, meer as vyf jaar later, steeds nie in bedryf nie.

Volgens Rossouw se verslag het geen van die 13 destydse kragsentrales steenkool gekry van die gehalte waarvoor die kragstasie ontwerp is nie.

“Dis die enkel belangrikste bevinding. As die steenkool binne spesifikasies bly, is die eenheid betroubaar en die onderhoudswerk voorspelbaar,” sê Rossouw.

“Vroeër was dit deel van tegnoloë en senior ambagslui se plig om deurentyd alle onderdele te ondersoek en toekomstige onderhoudswerk uit te wys. Hulle rapporteer dit aan ’n beplanningskantoor, wat ’n lys byhou van onderhoudsbehoeftes vir elke eenheid en betyds onderdele bestel.”

Die beplanningskantoor reël dan langtermyn-instandhoudingswerk.

“Daardie stelsel bestaan glad nie meer nie. Die personeel doen eenvoudig nie meer daardie werk nie,” sê hy.

Sy verslag, met omvattende voorstelle vir voorkomende instandhouding, is destyds aan Eskom se uitvoerende komitee, die direksie en selfs Lynne Brown, destydse minister van openbare ondernemings, voorgelê en aanvaar.

Toe word Brian Molefe uitvoerende hoof van Eskom. Hy het Rossouw se kontrak beëindig en Matshela Koko as hoof van kragopwekking aangestel. Die verslag het in die snippermandjie beland.

Molefe kon Rossouw aanvanklik nie onthou toe Rapport hom Vrydag vra wat van die verslag geword het nie. “O ja, nou onthou ek hom. Hy het daar rondgeloop soos ’n afkop-hoender. Ek het nie geweet wat hy daar doen nie, toe kanselleer ek sy kontrak,” het Molefe gesê.

Meer oor:  Deon Reyneke  |  Brian Molefe  |  Eskom  |  Kragopwekking  |  Sabotasie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.