Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Dakke en kranse keer Bonzi nie om kees se kind te takel

Hy’s skaars twee bakstene hoog en is ’n bondel wollerige aanneembrak-liefde, maar as dit by bobbejane kom, is daar oorlog.

Wanneer die bobbejane vroegdag in die berg bo die Winterberg Mountain Inn tussen Ceres en Wolseley begin rumoer, skiet Bonzi, ’n vyfjarige maltees-yorkshireterriër-kruising en ’n bekende in die gastehuis, met ’n gil by die voordeur uit.

Bonzi spring na die dak waar kees verveeld sit en wag. Foto: Karien Grobler

Sy vier honde-kollegas raak gewoonlik net so histeries, maar ouderdom, artritis, seer rûe en ’n doodse vrees vir bobbejane laat hulle gou omdraai.

“Vir Bonzi is daar nie sprake van omdraai nie,” sê sy ounooi, Karien Grobler, mede-eienaar van die gastehuis en restaurant.

“Binne ’n paar minute staan hy 500 m berg-op op ’n krans en kef histeries vir die brandwag – dié natuurlik al keelvol vir die wollerige irritasie.”

Karien sê egter dit is wanneer kees se kind gastehuis toe beweeg om kos uit die vullisdromme te gaan steel of in die restaurant se kombuis te probeer inkom dat die sports regtig begin.

Bonzi in aksie op die dak. Foto: Karien Grobler
Bonzi. Hy koel gereeld in die swembad af. Foto: Karien Grobler

“Ons het maar altyd gedink dis die hele trop wat so raas op die dak, totdat ons eendag sien dis die einste onverskrokke Bonzi wat vir kees heen en weer op die dak jaag – aangepor deur sy blawwende hondemaats op die grond.”

Volgens Karien se man, Reint, het Bonzi net eendag twee en twee bymekaar gesit en besef hy kan van ’n natuurlike rots langs die koepel van die restaurant se pizza-oond spring, en vandaar was die pad oop na die dak van die dubbelverdiepinggebou.

“In vyf jaar is hy nog net een keer rakelings deur ’n bobbejaanpoot getref.”

Bobbejane is ’n redelike probleem in die omgewing se vrugteboorde en skorsielande. Van die boere het bobbejaankanonne om die karnallies uit hul lande en boorde te verjaag.

Maar die trop kese laat hulle nie sommer afskrik nie. Dis omtrent ’n gesig om die hele trop, elkeen met ’n spog-skorsie in die bek, berg toe te sien hol.

Maar as dit by die gastehuis se vullisdromme kom, weet die kese al daar wag ’n wollerige bol moeilikheid.

Meer oor:  Hond  |  Ceres  |  Wolseley  |  Bobbejane
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.