Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Dana: 'Anette se goedheid leef voort in Julie'

Die feit dat Anette Roberts se hond onmiddellik aanklank gevind het by ’n verstandelik gestremde familievriend, is vir die skrywer en joernalis Dana Snyman ’n teken dat sy verloofde se goedheid ná haar dood voortleef.

Roberts het verlede Woensdag, op Snyman se verjaardag, haar eie lewe in Bloemfontein beëindig.

Koos en Julie.Foto: verskaf

Snyman het Donderdag vir oulaas op Facebook oor Anette se “weggaan” geskryf.

“Ek het besluit om Anette se hondjie, Julie, aan te neem. Sy was so lief vir Julie,” skryf Snyman.

“Maar dit lyk of Julie eerder vir Koos (Makondhane) as baas wil hê.”

Koos, die stiefseun van sy pa se voormalige werknemer, Johannes Bogosi, is verstandelik gestremd.

“Hy het nog nooit sy eie hond gehad nie,” sê Snyman.

“Julie draai die hele tyd om Koos, slaap snags by hom, bring haar bal vir Koos sodat Koos die bal vir haar kan gooi.”

“Is dit al weer goeie Anette wat iemand wil help?”

Snyman het Maandag met Anette se roudiens getuig van die mooi dinge wat sy daagliks vir ander mense gedoen het.

Hy het Vrydag telefonies vertel dat Koos, sy ma, Lettie, en sy stiefpa, Johannes, werklik ’n familie vir hom is.

Dié drie het van Ventersdorp per taxi na Bloemfontein gereis om Anette se roudiens by te woon en om “Ouboet” by te staan.

“En nou is hulle by my in Jacobsbaai (in die Wes-Kaap).”

Snyman sê Johannes het in die apartheidsjare gewerk vir sy pa, “ ’n groot AWB-lid”.

Dana Snyman

“Later in my pa se lewe het hy en Johannes saam om die kombuistafel gesit. Johannes het my pa in ’n sekere mate van rassisme genees.

“Eendag kom ek by die huis aan en ek hoor hy noem my pa nie meer ‘Oubaas’ nie, maar ‘Ouboet’.

“Voordat my pa dood is, het hy gevra dat Johannes-hulle na my kyk. Ek is sy enigste kind. Hulle het my na sy dood begin ‘Ouboet’ noem.”

Snyman sê “al hierdie rassegoed (in Suid-Afrika) is so onnodig”.

“Ek het net mooi ervarings met swart mense.”

In Snyman se Facebook-inskrywing sê hy ook dankie aan al sy ondersteuners se medelye.

Hy sluit af deur te sê hy gaan nie verder in die openbaar oor “Anette se weggaan” praat nie.

“Elke mens rou op sy eie manier.”

Meer oor:  Anette Roberts  |  Dana Snyman
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.