SPESIALE AANBOD: Betaal slegs R25 vir die eerste maand. Spring gou!
Algemeen
KYK: ‘Jy moes swaar gedra het, my lief . . .’
Dana Snyman het Maandag hulde gebring aan sy verloofde, Anette Roberts, wat verlede Woensdag dood by haar huis gekry is. Foto: Andre Damons

“Ek is jammer, my lief . . . dat ek dit hier voor almal gaan sê, dat ek dit nie soos jy gaan wegsteek nie. Hierdie donnerse donker ding wat jy in jou gehad het, het ’n naam: depressie.”

Só het Dana Snyman, skrywer en joernalis, op die roudiens van sy verloofde, Anette Roberts, gesê.

Sy het verlede week haar lewe by haar huis in Bloemfontein geneem.

Jy moes swaar gedra het, my lief, om die donkerte binne jou van soveel van ons weg te hou.

Past. Herman Steyn het die roudiens in die Pepper Tree-kapel buite Bloemfontein behartig.

Dana het gesê eers nou, tot sy skande en verdriet, het hy besef dat sy aan depressie gely het. Sy het soveel mooi en goeie dinge vir mense gedoen, maar die oggend voordat sy van hom in Jacobsbaai weggery het, het sy onverklaarbaar aan hom gesê: “Ek voel nutteloos . . . ”

In die kapel was ’n groot foto van Dana en Anette toe hulle saam op reis was, en langsaan ’n foto van haar in ’n pienk aandrok langs ’n groot bos wit rose.

Van links op Anette Roberts se roudiens Maandag in Bloemfontein is haar skoonseun Calvyn Orton en Lumien, haar dogter, Simone Harris, haar dogter, en haar skoonseun John-Henry Harris, en AJ Lausberg, haar seun, en sy vriendin, Maryna Wolhuter. Foto: Andre Damons
Dana Snyman op die gedenkdiens van sy verloofde, Anette Roberts, wat verlede Woensdag dood by haar huis gekry is. Foto: Andre Damons

Dana het gesê Anette was ’n merkwaardige vrou, maar daar was hierdie ding in haar waaraan sy niks kon doen nie. Dit het tot allerhande donker gedagtes aanleiding gegee “en jou laat glo dat jy nutteloos is”.

“Eers nou besef ek op hoeveel klein maniere jy dit verdraai, en ek dit misgekyk het. Hoe blind het al ons gelukkige tye saam – en daar was so baie, so baie – my nie vir jou pyn gemaak nie.

“Jy moes swaar gedra het, my lief, om die donkerte binne jou van soveel van ons weg te hou.”

Haar kinders, Lumien, Simone en AJ, het vir hom gesê dit was vir hulle asof sy oor die jare alles gedoen het om van hulle selfstandige, welaangepaste mense te maak. Asof sy wou keer dat die siekte (depressie) nie in hulle moes voortwoed nie, van geslag tot geslag.

My grootste troos is die wete: Jy kan nou rus.

“Jy was so dapper, my lief. So, so dapper. En trots. Ek was nog nie ’n oomblik kwaad vir jou oor die manier waarop jy weg is nie. Ek sal nooit wees nie. Ek sal altyd liefde hê vir jou, altyd lief wees vir jou.

“Jy het gemaak dat ek, ons almal, ’n bietjie fyner na mekaar kyk, ’n bietjie deegliker na mekaar luister, ’n bietjie sagter met mekaar se onsekerhede omgaan. Presies soos jy wou hê die wêreld moes wees. Ek, ons, moet dit nie vergeet nie. Altyd meer begrip vir mekaar hê. Altyd meer sagtheid,” het Dana gesê.

“My grootste troos is die wete: Jy kan nou rus.”

Meer oor:  Anette Roberts  |  Dana Snyman  |  Bloemfontein
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.