Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Dana stap deur Tankwa vir kinderhuis en heling
Dana Snyman, bekende skrywer, en Erna Oosthuizen het saam die Caritas Enduro Walk in die Tankwa-Karoo gestap.. Foto: Dana Snyman

Was dit nie vir ’n “absurde hoeveelheid petroleumjellie” om blase op sy voete te verhoed nie, het Dana Snyman, bekende skrywer, nooit die Caritas Enduro Walk in die Tankwa-Karoo oorleef nie.

En daarmee saam het hy iets in die stilte van die woeste en aan stap gevind, soos sy ouma altyd gesê het.

Snyman en 12 ander stappers het sowat 260 km afgelê om geld in te samel vir dringende bou- en herstelwerk aan die Jannie Roux-kinderhuis op Barkly-Wes.

“Op ’n manier het ek ook die werk van my ouers voortgesit. As kind het ons gesin ook op Daniëlskuil gebly waar my pa ’n predikant was. My ma het namens die ACVV gereeld klere en benodigdhede vir die kinderhuis ingesamel. Ek het soms saamgegaan as sy vir die kinders gaan kuier het.

“Tot nou het die stappers sowat R300 000 ingesamel, wat fantasties is. ’n Mens besef hoeveel goedheid daar in ons is. Mense het ons op Facebook aangemoedig.”

Dana Snyman span bietjie uit ná ’n harde dag se stap. Foto: Dana Snyman

Snyman was aanvanklik huiwerig om saam te stap toe hy gevra is omdat hy nie fiks is nie.

“Ek het egter geweet stap is helend. Na Anette Roberts, my verloofde, se dood kon ek net nie stilsit nie. Ek het gedurig gaan stap, wat baie goed vir die gemoed was,” sê hy.“En die staptog in die Tankwa, hoewel nie maklik nie, was helend. Dit was ’n geestelike ervaring, waarin ek ook gemediteer het. Ek wens so ’n moordende staptog nie net vir myself toe nie, maar ook vir vyande.”

Snyman sê hy het besef hoe min ’n mens nodig het om te oorleef en hoe oorbodig die meeste besittings is. Dit was bevrydend om nie selfoonsein te hê nie.

“Ons het deur swaarkry nader aan mekaar beweeg. As ons in Suid-Afrika net besef dat ons nader aan mekaar moet beweeg.”

Van die mense wat saam die Caritas Enduro Walk in die Tankwa-Karoo gestap het.

Snyman het van sy ervaring op Facebook geskryf:

“Dit was nie maklik nie. Ek dink nie ek was een dag, behalwe vir die laaste dag, vir minder as agt ure op die pad nie. Stap, stap, stap. Soms in erge hitte, soms teen ’n ysige wind in, by tye met moeë voete en wankelrige bene.

Behalwe ons Caritas-klomp was daar ook ander mense wat saam gestap het, ’n stuk of 60 van hulle: ’n ingenieur, ’n sakeman, twee verpleegsters . . . Mense wat op soek is was na . . . Hoekom sou ’n mens so ver wil stap deur so ’n verlate, woestynagtige gebied?”

Alles was goed georganiseer. Die stappers kon elke 5 km water uit ’n kan tap en ’n veldtoilet gebruik.”

Erina Oosthuizen en Dana Snyman op die Caritas Enduro Walk in die Tankwa-Karoo.

Hoewel baie mense hul tente opgeslaan het, het Snyman “helaas die eerbare ding gedoen en ’n werker betaal om elke aand sy tent op te slaan”.

“Ja, en jy wonder maar weer oor die Groot Misterie: God. Veral in die godverlate Tankwa.”

Snyman werk saam met die akteur Frank Opperman aan ’n TV-komediereeks.

“Ek het een van die karakters op die staptog ontmoet,” sê Snyman.

Meer oor:  Dana Snyman  |  Tankwa-Karoo
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.