Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
‘Dankie almal, Ethan en Leo is bymekaar!’

Nadat hulle ses maande lank deur duisende kilometer van mekaar geskei is, het ’n tienerseun en sy geliefde hondjie dié week ’n stertswaai-hereniging gehad.

Ethan Martins en sy boesemvriend, die jackrussell-kruising Leo, by die gesin se huis in Krugersdorp voor hulle geëmigreer het. Foto: Elizabeth Sejake

Die jackrussell-kruising Leo was Dinsdag weer in die 14-jarige Ethan Martins se arms in Takanini in Auckland, Nieu-Seeland. Verskeie Rapport-lesers het dit help moontlik maak.

Die Martins-gesin het Leo byna twee jaar gelede gekry nadat sy pa, Adriaan, op Facebook gesien het iemand soek ’n huis vir die verwaarloosde basterhondjie. Hy het in ’n informele nedersetting van tee en droë brood geleef.

Ses maande gelede het die gesin van Krugersdorp aan die Wes-Rand na die Land van die Silwer Varing getrek.

‘Vandag is Leo weer 110%.’

Maar dit het gelyk of dit te duur sou wees om Leo saam te neem.

Om geld in te samel, het Ethan wasgoedpennetjies verkoop by sy pa se heuningstalletjie op ’n vlooimark.

Rapport het op 5 Mei 2019 oor sy penarie berig. Binne ’n week is duisende rande geskenk, wat beteken het Leo kon ook emigreer.

Oomblikke nadat Ethan en Leo in Nieu-Seeland met mekaar herenig is.

Maar eers moes die hondjie ná sy hondsdolheid-inenting ses maande in Suid-Afrika aanbly. In dié tyd het Karen Wessels, stigter van Pets and Animals in Need, ’n organisasie sonder winsbejag, na Leo omgesien. Sy het byna daagliks vir die gesin foto’s en video’s van hom aangestuur. “Ek mis hom, ek wil my oë uithuil,” het sy Vrydag gesê.

Intussen was Leo volgens Adriaan ’n daaglikse besprekingspunt in hul nuwe land, “veral as Ethan ander honde in die park en op die strande sien hardloop het”.

Uiteindelik, ná ’n twee dae lange reis oor 12 400 km, het Leo op 30 Januarie in Nieu-Seeland geland, maar hy was tot Maandag in kwarantyn.

In ’n video wat

Die Martinse toe hulle aanvanklik vertel het Leo sou nie kon saamgaan Nieu-Seeland toe nie. Pa Adriaan, Riley, Carrie-Ann, Leo en Ethan. Foto: Elizabeth Sejake

Adriaan aangestuur het, tel Ethan die dae af – 20 dae, 19 dae, tot by een: “Een dag oor, ek kan dit nie glo nie,” sê Ethan.

Dan gaan ’n deur oop.

Leo kom uitbundig uitgehardloop tot by Ethan. Leo draai op sy rug terwyl Ethan sy magie krap en hom vasdruk en soen. Ethan se sussie, Riley, staan ook nader om Leo te groet.

Op die Facebook-blad Ethan & Leo het die gesin Dinsdag geskryf: “Ethan en die res van ons gesin wil elke liewe mens wat hierdie reis met ons meegemaak het, bedank. Mense na aan ons weet waardeur ons is om Leo hier te kry en dit was nie altyd maklik nie, maar dit was die moeite werd.”

Adriaan het laat weet die hondjie was dadelik tuis.

“Ag nee wat, hy was sommer vol van homself. Toe ons by die huis kom, was hy aan die halsband om te gaan bal gooi by die park.”

Die volgende dag het Ethan tuis gebly om “ ’n bietjie saam met hom te kuier. Shame, dis maar ’n storie vir die outjies. Vandag is Leo weer 110%.”

En noudat die gesin weer voltallig is, slaap Leo weer op sy gunstelingplek – aan die voetenent van Ethan se bed.

Meer oor:  Nieu-Seeland  |  Emigrasie  |  Hond  |  Leo
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.