Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
‘Dankie, Bokke, dat julle ons herinner . . .’

Dankie aan die Springbokke wat Suid-Afrika daaraan herinner het dat ons ’n reënboognasie is.

Adj.pres. David Mabuza het Donderdag met dié woorde sy stem by dié van pres. Cyril Ramaphosa en die land gevoeg om die Springbokrugbyspan geluk te wens met hul verowering van die Webb Ellis-trofee in Japan.

Adj.pres. David Mabuza. Foto: City Press

“Ons wil aan die Springbokke dankie sê dat hulle die beker huis toe gebring het. Dankie dat julle ons verenig het. Dankie dat julle ons gees gelig het . . .positiwiteit getoon het waarna ons almal smag namate ons al ons uitdagings takel. Dankie dat julle ons daaraan herinner het dat ons steeds ’n reënboognasie is,” het hy gesê.

Mabuza het dié opmerking gemaak voordat hy vrae in die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) beantwoord het.

Politieke partye het ná die vraesessie ook die span gelukgewens.

Jomo Nyambi, ANC-LP, het al die spelers geprys vir hul prestasie en versoek dat die NRP amptelik aan die Suid-Afrikaanse Rugbyunie skryf om te vra dat die feesvieringe nie tot sekere provinsies beperk moet word nie, maar dat alle provinsies ingesluit moet word.

“Ons salueer die bataljon wat deur Siya Kolisi gelei is en ons daaraan herinner het dat ons saam kan speel en wen as ’n land. Hul heldhaftige optrede behoort ’n les te wees dat ons meer kan bereik as ons as ’n span saamwerk.”

Hy het Rassie Erasmus, afrigter, die tegniese span, die kaptein en al die spelers gelukgewens. “Ons sal baie lesse lees uit hul eenheid as ’n span en hul samehorigheid as ’n ware Suid-Afrikaanse handelsmerk.”

Dennis Ryder, DA-LP, het gesê Kolisi se diverse span het konsekwent goed gespeel.

“Die gevolg daarvan is dat Suid-Afrikaners van oor die spektrum heen saamgekom en feesgevier het. Mense wat dalk selde saam gesien word, is gesien waar hulle in strate, openbare plekke, tavernes, kroeë en huise mekaar omhels, saam gedans en feesgevier het. Die projek vir sosiale samehorigheid en nasiebou is vorentoe gedryf.”

Hy het bygevoeg dat die belangrikheid van ’n oorwinning soos dié nie oorbeklemtoon kan word nie.

“ ’n Oorwinning van dié omvang deur ’n diverse span wat as ’n eenheid opgetree het met ’n gemeenskaplike doel voor oë gee ons op soveel maniere hoop. Op die sportveld, by skole, in die lewe, as ’n gemeenskap en as ’n land – ons almal is geïnspireer . . .”

Mmabatho Mokause, EFF-LP, het gesê die rugbykultuur wat deur die kolonialiste na Suid-Afrika gebring is, het deur die jare só sterk geword en ondanks die marginalisering van swart talent en “opsetlike pogings deur Afrikaners om aanspraak te maak op rugby as hul eie sport het ons mense volhard en dit tot elke prys tot in dié span gemaak”.

Dié talentvolle spelers is volgens Mokause opsetlik uit die span gehou, terwyl ’n “klein groepie van Hollandse afkoms” daarop uit was om ’n monopolie oor die sport te kry. “Dit is teen dié agtergrond dat ons die nuwe generasie van swart rugbyspelers salueer. Ons salueer Siya Kolisi (kaptein), ons salueer Cheslin, ons salueer Makazole, ons salueer Lukunyo, Mbombani, Elton Jantjies, Tendai en ons salueer ook Aphiwe, wat ons glo strategies uit die span gelaat is . . .” Sy het nie nagelaat om na die teenwoordigheid van ’n “rassis” in die span te verwys nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.