
Dr. Danny Titus Foto: Lisa Hnatowicz
Die politieke ontleder, regskenner, taal- en kultuuraktivis dr. Danny Titus (63) is in ’n stabiele toestand in ’n Gautengse hospitaal ná komplikasies tydens ’n oogoperasie.
Titus, wat tot onlangs die uitvoerende direkteur van korporatiewe aangeleenthede by die ATKV was, is verlede Dinsdag geopereer om ’n katarak en bloeding te verwyder.
Sy hart het ná die operasie in die herstelkamer gaan staan.
Hy is sedertdien in ’n koma in die waakeenheid van die hospitaal.
Sonél Brits, besturende direkteur van ATKV, het by navraag gesê sy toestand is stabiel.
Sy dogter Dalene Titus het Maandagaand gesê die familie gaan geen verdere besonderhede oor sy toestand bekend maak nie.
Sy het egter Sondag gesê haar pa “moet nou op sy eie tyd wakker word”.
Titus se gesin mag hom weens koronavirusregulasies nie in die hospitaal besoek nie.
Dalene het op sosiale media geskryf dokters het sowat ’n halfuur lank gesukkel om Titus by te bring.
“Sy hart het telkemale gaan staan en hy is sedertdien in ’n koma. Hulle het ’n breinskandering gedoen en dit toon hy het in die proses breinskade opgedoen waarvan die omvang eers vasgestel sal kan word wanneer hy uit die koma kom,” het sy geskryf.
Sy hart het telkemale gaan staan en hy is sedertdien in ’n koma. Hulle het ’n breinskandering gedoen en dit toon hy het in die proses breinskade opgedoen waarvan die omvang eers vasgestel sal kan word wanneer hy uit die koma kom.
Titus woon in Roodepoort en het twee dogters, Dalene en Neriska.
Sy vrou, Lynda (57), is sewe jaar gelede dood ná ’n lang stryd teen kanker.
Hy is tans die voorsitter van die DAK Netwerk, ’n organisasie wat hom beywer vir die ontwikkeling van en navorsing oor voorheen benadeelde Afrikaanse gemeenskappe.