Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
David Piedt: Oudtshoorn het ’n ware meester verloor

Dr. David Piedt, vermaarde onderwysman en een van die stigterslede van die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK), is Maandag aan Covid-19 in die Mediclinic in George oorlede.

’n Hartseer dr. Franklin Sonn, ’n jare lange boesemvriend, het die 80-jarige Piedt beskryf as “ ’n diep gelowige met ’n foutlose karakter” en “ ’n leier by uitstek wat diep spore in die Oudtshoorn-gemeenskap getrap het”.

Dr. David Piedt Foto: Hans van der Veen

“Ek ken David sedert 1975 en het juis van Kaapstad na George verhuis sodat ons meer gereeld oor en weer kon kuier. Hy is 11 dae gelede in die hospitaal se hoësorgeenheid opgeneem en sy toestand het net algaande verswak,” het Sonn gesê.

Volgens hom sal Piedt, ’n boorling van die Klein Karoo, veral vir sy uitgesprokenheid en innoverende idees onthou word. “Hy het vir niemand en niks teruggestaan nie, maar het tog altyd sy integriteit behou,” het Sonn gesê.

Volgens Crispin Sonn, huidige voorsitter van die KKNK, het Piedt die laaste paar jaar Afrikaans as ’n taal beskou wat mense verenig pleks van uitmekaar uit dryf. “Hy het voorheen met Afrikaans as die taal van die onderdrukker geworstel, maar dit het alles vir hom verander. Hy het die taal omhels,” het Crispin gesê.“Rus in vrede oom David Piedt. Ons sal aanhou loop op die pad van vergifnis en versoening wat u vir ons voorberei het,” het Hans van der Veen, fotograaf en mede-Oudtshoorn-inwoner, Maandagaand op sy Facebook-blad geskryf.

“ ’n Belangrike stem is stil en ons is dit aan die nageslag verskuldig om sy storie te vertel.”

Theo Smith skryf: “As Oudtshoorn deur ’n mens verteenwoordig kon word, sou dit dr. Piedt wees . . . maar almal wat by hom skoolgegaan het, ken hom as Mister Piedt. Hy het altyd lewenslesse deur sy klasgee vir ons geleer.”

’n Belangrike stem is stil en ons is dit aan die nageslag verskuldig om sy storie te vertel.

Annelise Vlok skryf: “Ai, Oudtshoorn het ’n ware meester verloor. Rus sag, oom David Piedt.”

“Dr. David Piedt was ’n vryheidsvegter, Afrikaanse aktivis, Oudtshoorniet, opvoedkundige spesialis en al vir dekades ’n onverskrokke ondersteuner van die KKNK,” het Hugo Theart, artistieke direkteur van Kunste Onbeperk, die organisasie wat die KKNK aanbied, gesê.

“Hy was ook voorheen die voorsitter van die KKNK-direksie en is al sedert die beginjare van die fees ’n steunpilaar. Hy het onder meer ’n belangrike rol gespeel om al die gemeenskappe van Oudtshoorn en die omgewing by die fees betrokke te kry. Die verlies is reusagtig,” het Theart gesê.

Piedt laat sy vrou, Marjorie, sy twee dogters, Che en Tracey, hul gades, Woz Smith en Pieter Volker, en vier kleinkinders agter.

Meer oor:  David Piedt
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.