Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
DBV vind 108 honde, vark by huis in VS

Ervare inspekteurs van die Dierebeskermingsvereniging (DBV) was geskok toe hulle by ’n huis op Odendaalsrus in die Vrystaat op 108 honde en ’n vark afkom wat in haglike toestande aangehou is.

Die Bloemfonteinse DBV het Virginia se DBV met hul ondersoek bygestaan en die diere is almal verwyder. ’n Klag van wreedheid teenoor diere word ondersoek.

Die DBV het 108 honde en ’n vark in haglike toestande by ’n huis in Odendaalsrus gevind. Foto: Verskaf

“Virginia se DBV het ’n anonieme klag ontvang dat ’n groot aantal honde op ’n erf op die dorp aangehou word,” sê Thea Smit, inspekteur van die Virginia-DBV.

“Die eiendom is as ’n nie-winsgewende organisasie en skuiling geregistreer, wat die beleid gevolg het dat siek of bejaarde diere nie genadedood toegedien word nie.”

Brandsiek en verwaarloosde honde is in ’n buitekamer gevind. Hier het hulle ’n Franse dashond (“basset”) met bloeiende sere teëgekom.

“Weens die erns van die absesse, wat ondraaglike pyn en ongemak moes veroorsaak het, kon hy nie beweeg nie,” sê Smit.

Die vark in ’n binnehof het die honde verjaag wat sy ontlasting wou vreet. Foto: Verskaf

’n Ou labrador het in ’n hoek op die koue sementvloer gelê. “Hy kon nie opstaan nie. Ons vermoed dit was weens artritis. Hy het probeer opstaan, maar het net weer geval.”

Honde met erge veltoestande het hulself gekrap en hul ore was opgeswel en besmet. “Daar was ’n groot boerboel met misvormde bene en vergroeisels oor sy hele liggaam,” sê Smit.

In ’n binnehof was ’n groot vark. Daar was nêrens kos vir hom in sig nie en die dier is in onhigiëniese toestande aangehou. Die vark het die honde verjaag wat sy ontlasting wou vreet. Smit sê dié toneel was erg ontstellend.

Van die diere was in ’n gehawende toestand met sigbare eksterne parasiete. Ander diere was baie aggressief.

In die erf was ’n klomp sakke vol hondemis. “Die reuk was ondraaglik.”

Van die honde is duidelik siek. Foto: Verskaf
Van die 108 honde wat in haglike toestande by ’n huis in Odendaalsrus aangehou is. Foto: Verskaf

Die DBV se veearts het die diere ondersoek, en toe is besluit om verskeie van die honde genadedood toe te dien, sê Smit.

Die eienares van die “skuiling” het volgens Smit geld van die publiek ontvang.

Daar was geen bewys dat ’n veeaarts die diere behandel het nie. Die eienares het wel aan die DBV gesê die honde kry homeopatiese behandeling. “Ons kon geen bewyse hiervan kry nie.”

Maatskaplike werkers is gevra om die vrou te ondersteun.

Die DBV moedig die publiek aan om ingeligte besluite te neem wanneer hulle geld aan private skuilings skenk.

Van die diere was in ’n gehawende toestand met sigbare eksterne parasiete. Ander diere was baie aggressief.Foto: Verskaf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.