Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
De Ruyter, direksie oor 2 kontrakte aan Econ Oil gestriem

Eskom se uitvoerende hoof, André de Ruyter, was self die voorsitter van ’n vergadering waar oliekontrakte van R756,8 miljoen aan verskeie maatskappye toegeken is, waaronder een wat ondersoek is weens korrupsie.

André de Ruyter Foto: Freddy Mavunda
André de Ruyter Foto: Freddy Mavunda

Die notule van die vergadering op  24 April 2020 wys dat De Ruyter en ander amptenare twee kontrakte van R214,4 miljoen aan Econ Oil and Energy toegeken het om oliebrandstof vir drie maande te verskaf toe raffinaderye tydens die eerste inperking gewaarsku het hulle sal nie kan funksioneer nie.

Die kontrakte aan Econ Oil van onderskeidelik R194 miljoen en R20,4 miljoen was vir graad 1- en graad 2-oliebrandstof.

Dit is toegeken nadat Eskom se direksie op 25 Maart 2020 besluit het om die oliebrandstoftenders te kanselleer. Dit was nadat De Ruyter op 10 Februarie daarvoor gevra het weens bewerings van bedrog, korrupsie en ampsmisdrywe teen verskaffers van Eskom.

Die probleem het klaarblyklik ontstaan toe Eskom se direksie direk met tende­raars begin onderhandel het.

Econ Oil-kontrakte het op 28 Mei vanjaar die kop geëis van Solly Tshitangano, Eskom se verkrygingshoof, nadat ’n dissiplinêre komitee bevind het hy het Econ Oil se belange bo dié van Eskom bevorder toe hy kontrakte van R8 miljoen aan Econ Oil help toeken het.

Daar is toe nog nie vergader oor die status van Econ Oil as tende­raar nie.

Die voorsitter van Tshitangano se dissiplinêre verhoor, adv. Nazeer Cassim SC, het in sy bevindings gesê nie net Tshitangano nie, maar ook direksielede was aandadig aan die toekenning van kontrakte aan die firma.

Eskom se direksie het die regsfirma Bowmans op 28 Augustus 2018 aangestel om bewerings van korrupsie en onreëlmatighede teen die voormalige verkrygingsamptenaar Thandi Marah en Nothemba Mlonzi, besturende direkteur van Econ Oil, te ondersoek. Op 29 Januarie 2019 het Bowmans in sy eerste verslag aan Eskom ’n onbehoorlike en dalk selfs korrupte verhouding tussen Marah en Econ Oil geboekstaaf.

Cassim het aangedui hy was bekommerd daaroor dat die Eskom-direksie nietemin daarna aangehou het om sake met die firma te doen.

Op die vergadering op 24 April 2020 waarvan De Ruyter voorsitter was, was ook die bedryfshoof, Jan Oberholzer; finansiële hoof, Calib Cassim; hoof van Eskom se mensehulpbronne-afdeling, Elsie Pule; groephoof vir regsake en voldoening, Bartlett Hewu; die destydse bestuurder van sakeverhoudings, Nico Harris; en Tshitangano.

Die bestuur mag tenders van tussen R751 miljoen en R1,5 miljard toeken.

Prof. Malegapuru Makgoba, tussentydse voorsitter van die Eskom-direksie, het nie op navrae gereageer oor of De Ruyter en ander bestuurders ook aangekla gaan word weens die toekenning van die kontrakte aan Econ Oil nie.

Eskom ontken dat enige kontrakte ná die direksievergadering van 25 Maart 2020 toegeken is. “Die inligting waarop City Press steun, is klaarblyklik verkeerd,” het Eskom gesê in reaksie op navrae.

Nadat City Press vir Eskom ’n afskrif van die notule gestuur het, het Eskom gesê: “Op die datum van die vergadering het die verskaffer-hersieningskomitee (onder voorsitterskap van Tshitangano) nog nie vergader om te beraadslaag oor die status van Econ Oil nie.

“Boonop was die nodige hofaansoek om die tender te kanselleer, nog nie van stapel gestuur nie. Kragtens art. 217 van die Grondwet sal dit die vereistes vir behoorlike administratiewe prosesse skend om enige tenderaar uit te sluit, veral vir ’n kontrak van net drie maande.

“Daar was ná ’n mededingende tenderproses vir ’n korttermynkontrak geen geldige rede om enige tenderaar uit te sluit nie. Die bestuur het daarom geheel en al regmatig opgetree.”

Eskom het egter adv. Cassim se verslag aanvaar waarin hy bevind het dit was verkeerd om aan te hou sake doen met Econ Oil ná Bowmans se verslag.

“Volgens my was almal wat Eskom se besluit gesteun het om ná die bekendstelling van die verslag aan te hou sake doen met Econ Oil óf so naïef dat hul vermoë om in hul amp te dien as direkteur of senior werknemer heroorweeg moet word óf hulle het bymotiewe gehad,” het adv. Cassim gesê.

In reaksie het De Ruyter gesê: “Die hofbevel wys hoe beginselvas die direksie en Eskom se bestuur was om Eskom se finansiële en bedryfsbelange teen korrupte elemente te beskerm, ter beskerming van die fiskus.”

Meer oor:  Solly Tshitangano  |  André De Ruyter  |  Calib Cassim  |  Econ Oil  |  Korrupsie  |  Eskom
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.