Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Dealesville-moorde: Ons bid hul dood is nie vergeefs

“Ons as familie bid dat Monica en Basil Deniacos se dood nie vergeefs was nie.”

So het ’n hartseer Christiaan Dorfling, seun van die vermoorde Monica, Vrydagoggend in die stampvol NG kerk Bainsvlei, Bloemfontein, gesê ten tyde van sy ma en haar man, Basil, se begrafnisdiens.

Die begrafnisdiens van Monica en Basil Deniacos is Vrydag deur tientalle roubeklaers bygewoon. Foto: Mlungisi Louw

Monica (68), ’n DA-raadslid, en Basil (79) is verlede week in hul huis in Dealesville, sowat 120 m van die polisiekantoor af, vermoor.

Die egpaar se lyke is Vrydagoggend vroeg deur hul twee werkers in hul huis gekry. Die Malawiese werkers is kort daarna in hegtenis geneem, maar ’n moordklag teen hulle is intussen Sondagaand weens gebrekkige getuienis laat vaar.

Tientalle roubeklaers onder wie Thembeni Nxangisa, Vrystaatse LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake, Zanele Sifuba, speaker van die Vrystaatse wetgewer, en Lucy Mapena, adjunk-speaker, het dié geliefde egpaar se begrafnisdiens bygewoon.

Dorfling sê die sinnelose moorde op Monica en Basil het hulle van so baie ontneem.

“Monica, my moeder, is van haar regte ontneem: haar reg om ’n verskil te maak, haar reg om werk te skep, haar reg om op te hef, haar reg om ander te dien, haar reg om vir haar man te sorg, haar reg om as ouma met haar kleinkinders te kan speel, haar reg om uiteindelik vreedsaam en natuurlik te sterf, haar mees basiese reg op lewe is haar ontneem.”

Basil en Monica Deniacos is Vrydag saam ter ruste gelê nadat hulle verlede week in hul huis in Dealesville vermoor is. Foto: Mlungisi Louw
Familielede van die vermoorde Deniacos-egpaar by hul kiste. Foto: Mlungisi Louw

Hy het gesê hulle lê twee kosbare geliefdes ter ruste.

“Vir die Here is die dood van sy dienaars geen geringe saak nie.

“Ons kan nie bekostig om nog ’n moeder, oupa, vragmotorbestuurder, jong mens, boer, polisielid of landsburger aan die dood af te staan nie.

“Tot hier toe en nie verder nie, Meneer die president.

Ons, jou mense, is moeg om so uitgemoor te word. Ons soek politieke leierskap van jou en die regering.

Ons as gemeenskap steek ons hande op, ons rol ons moue op, ons tree aan . . . ons wil hierdie land laat werk.”

Ds. Lourie Erasmus, afgetrede leraar en familievriend, het die familie bemoedig met sy skriflesing uit 2 Timoteus 4 vers 1 tot 8.

“Monica en Basil het die goeie stryd gestry en die wedloop voleindig en die geloof behou. Hul boeie is losgemaak. Hulle is nou vry.”

Hy het verder gesê dat wat ook al gebeur, ’n mens altyd moet onthou dat God die laaste sê het.

Vader George Tsiftsis wat die Griekse diens gelei het, het die begrafnisgangers met Psalm 33 vers 1 tot 5 bemoedig.

Christiaan Dorfling stoot sy ma, Monica, se kis in die NG kerk Bainsvlei in. Foto: Mlungisi Louw
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.