Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Deel van stadion ‘lewensgevaarlik’

Strukturele gebreke aan die westelike paviljoen van die Vrystaat-atletiekstadion in Bloemfontein is lewensgevaarlik, waarsku Louis van Rheede van Oudtshoorn, ’n ingenieur wat dit ondersoek het.

Die lewensgevaarlike struktuur waaruit die water drup net bokant die koppe van toeskouers in die Vrystaatse atletiekstadion in Bloemfontein waar stukke sement al losgekom het.Foto: Mlungisi Louw

Rossouw Botes, DA-raadslid van die Mangaung-metro, sê hy het al op 29 November die metro se stadsbestuurder, adv. Tankiso Mea, per brief hieroor ingelig en aan hom die verslag van die ingenieur gegee, maar Mea kom nie terug na hom nie.

“Dit is vandag (Maandag) 73 dae later en ons sit met ’n krisis.

“Die Hoërskool Driehoek in Vanderbijlpark het kinders verloor oor ’n swak struktuur en hier is dit ’n geval dat die struktuur van dele van die Vrystaat-atletiekstadion ook swak en lewensgevaarlik kan wees vir derduisende toeskouers wat die stadion in Bloemfontein besoek.”

Mea sê egter by navraag hy weet niks van die brief of die aangeleentheid nie. “Ek sal Dinsdag die saak ondersoek,” het hy aan Netwerk24 gesê.

So lyk die gevaarlike struktuur waaruit die water drup van onder gesien in die Vrystaatse atletiekstadion.Foto: Mlungisi Louw

Botes sê die gevaarlike stand van die atletiekstadion se westelike paviljoen is al op 29 Oktober deur die ingenieur gesien, wat sy besorgdheid in ’n verslag vir die dringende aandag van die metro uitgespreek het. Die metro is die eienaar van die stadion.

“Dit is ’n lewensgevaarlike situasie vir die publiek,” lui die verslag.

Luidens die verslag is die area wat kommer wek die onderste kantelbalk-dakgedeelte naby die algemene atletiekrondte-eindpunt waar water op die sitplekke drup.

Volgens die verslag sypel water in by die end van die struktuur van die primêre kantelbalk. ’n Stuk sement het ook al losgekom wat met ’n stuk staalpyp geheg word wat ook by die dag meer verweerd raak.

Volgens die verslag kan die oorsaak van die probleem grondbewegings wees, die dra-las, die gehalte van die beton wat gebruik is, die vakmanskap in die bouproses en die water wat deursypel.

Volgens Van Rheede van Oudtshoorn sal ’n spesialis- strukturele ingenieur dringend ondersoek moet kom instel en verslag moet doen oor hoe die probleem reggestel kan word en oor hoe daar voortdurende instandhoudingswerk aan die stadion gedoen moet word.

Volgens die ingenieursverslag sal die situasie met tyd verder versleg en kan dit lewensgevaarlik vir die publiek wees as daar nie dringend daaraan aandag gegee word nie.

Gerrit Coetzer, hoofbestuurder van Atletiek Vrystaat, sê hy is bewus van die probleem en hy hou mense van daardie area van die stadion af weg. “Ons weet sedert verlede jaar van die ernstige probleem. Hoewel ons ’n sertifikaat van die metro bekom het dat die stadion veilig is, laat ons geen mense toe om in daardie gebied te kom of om daar te sit nie.”

’n Kraak in die beton van ’n paviljoen in die Vrystaat-atletiekstadion. Foto: Mlungisi Louw
Die toestand van die struktuur in die Vrystaat-atletiekstadion.Foto: Mlungisi Louw
’n Ramp wat wag om te gebeur. So word die gevaarlike struktuur in die Vrystaat-atletiekstadion in Bloemfontein beskryf.Foto: Mlungisi Louw

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.