Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Dele van Bloem tot 48 uur sonder water

Groot dele van Bloemfontein was die naweek in die versengende hitte vir tot 48 uur sonder water omdat Bloemwater glo vanweë die troebelheid van die water nie genoeg water uit die Caledonrivier kon onttrek om die Brandkop-reservoir mee op te vul nie.

Water van die Caledonrivier wat glo erg troebel is ná die jongste reën, het veroorsaak dat Bloemwater nie genoeg water kon pomp en suiwer vir Bloemfontein nie, sê Rossouw Botes, DA-raadslid in die Mangaung-metro.Foto: Verskaf

Rossouw Botes, DA-raadslid en waterkenner van die Mangaung-metro, sê die Brandkop-reservoir, vanwaar 69% van die stad se inwoners water kry, was gevolglik Vrydag al dolleeg.

Inwoners van Pellissier, Universitas, Gardeniapark en Lourierpark het die een na die ander begin kla dat hulle nie water het nie of beperkte watertoevoer het.

Boonop het die drie Longridge-reservoirs wat ook water van die Brandkop-reservoir kry, oor die naweek leeggeloop omdat water nie daarheen oorgepomp kon word nie.

Uit die Longridge-reservoirs word die townships by Bloemfontein en die oostekant van die stad se hoewegebiede van water voorsien.

Botes meen ’n gebrek aan kundigheid en swak kommunikasie tussen Bloemwater en die Mangaung-metro lê aan die wortel van die probleem.

“In die verlede was daar ook reën wat veroorsaak het dat die Caledonrivier afkom en dat sy water besonder vuil en besoedel was. Dit het tóé nooit gebeur dat daar nie genoeg water onttrek kon word om gesuiwer te word vir die Brandkop-reservoir nie, maar in die jongste tyd het dit nou al meer as een keer gebeur.”

Botes sê hy het Saterdag 54 oproepe na die munisipaliteit en Bloemwater gemaak om die krisis te help oplos en om watertenks en watertenkwaens vir moedelose inwoners te probeer reël.

“Daar is my gesê daar is nie diesel om watertenkwaens te stuur nie.

“Van die amptenare by albei instansies was ook nog met verlof en ander was na die 107de verjaardagviering van die ANC in Durban.”

Ek weet nie wat die probleme alles is dat hulle nie genoeg water kon pomp nie. Bloemwater behoort ook watertenkwaens te ontplooi,

Botes sê ’n senior amptenaar by die Welbedachtdam het Saterdag gesê dat hulle deurlopend 1 000 liter water per sekonde in die Brandkop-reservoir pomp.

“Die kapasiteit was nog nie Sondagoggend herstel nie, omdat die onttrekking na huise net soveel was as die water wat ingepomp is.

“Ek het Sondag om 06:00 weer na Brandkop gery om my te vergewis dat die 1 000 liter per sekonde water wel gelewer word.

“Ek het Lebohang Masoetsa, onderburgemeester, gebel sodat hy met die voorsitter van Bloemwater en amptenare kon praat.”

Botes en amptenare van die metro en Bloemwater het toe Sondag vergader.

’n Tweede klep is oopgemaak wat meegebring het dat meer water in die Brandkop-reservoir ingepomp kon word.

’n Druktoring sou Sondag laatmiddag aangeskakel word sodat ’n klein gedeelte van Pellissier se inwoners wat hiervan afhanklik is, ook met waterlewering gehelp kon word.

“As sub-reservoirs in Bloemfontein se water ook begin opraak, sal dit beteken dat daar gebiede is wat Maandag ook nog met waterprobleme gaan sukkel,” sê Botes.

Qondile Khedama, kommunikasiebestuurder van die metro, het Sondagmiddag laat in ’n verklaring bevestig daar is onderbrekings in die waterlewering weens die gehalte van die water uit die Caledonrivier.

“Gevolglik is Pellissier en Lourierpark geraak. Die metro het watertenkwaens begin ontplooi, hoewel die herstel van die watertoevoer reeds begin het.”

Bloemwater is versoek om genoeg spanne werkers in te roep om die tydsverloop van die onderbrekings te beperk, lui die verklaring.

Masoetsa sê die metro doen sy bes, maar die probleem is by Bloemwater.

“Ek weet nie wat die probleme alles is dat hulle nie genoeg water kon pomp nie. Bloemwater behoort ook watertenkwaens te ontplooi,” het hy gesê.

* Sakkie van der Merwe, ’n inwoner van Pellissier, het Sondag gesê hy was twee volle dae sonder water.

“Ons het gelukkig Sondagmiddag weer water gekry.”

Kobus Steyn, ook van Pellissier, sê hy was sowat 24 uur sonder water, maar het nou weer water.

* Die telefone by Bloemwater is nie beantwoord nie.

Meer oor:  Bloemfontein  |  Water  |  Onttrek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.