Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
‘Dele van motor’ gevind ná ma, 2 kinders verdwyn
Etienne en Heidi Scheepers met hul kinders, Cozette en Hugo. Foto: Facebook/Heidi Scheepers

Dele van ’n voertuig is Woensdag by Voëlklip naby Heroldsbaai in die Suid-Kaap gevind nadat ’n ma en haar twee kinders Dinsdagmiddag vermis geraak het nadat hulle op Heroldsbaai se strand was.

Die polisie se soektog is Woensdag vroeër na Voëlklip, ’n gewilde hengel- en uitkykpunt, uitgebrei. Teen Woensdag laatmiddag is nog geen voertuig of lyke gevind nie, het die polisie bevestig.

Heidi Scheepers (35) en haar twee kinders, Cuzette (6), ’n leerling van die Up with Downs-skool in George, en Hugo (2), is Dinsdagmiddag laat laas op die strand by Heroldsbaai gesien. Sy en die kinders is daar weg in hul Volkswagen Caravelle met die registrasienommer CAW 66036, maar het nooit by die huis opgedaag nie.

Haar man, Etienne, is die eienaar van die Heroldsbaai Kafee, en Scheepers, volgens haar Facebook-blad, behartig die verhuring van vakansieverblyf.

Heidi ScheepersFoto: Verskaf
Cuzette ScheepersFoto: Verskaf
Hugo ScheepersFoto: Verskaf

Na verneem word het Scheepers nie haar selfoon saamgeneem nie. Die gesin is glo Dinsdagmiddag strand toe. Scheepers se man het blykbaar teruggestap winkel toe na waar sy motor geparkeer was. Almal sou by die huis ontmoet, maar sy het nie opgedaag nie.

Blykbaar was daar ook niks ekstra ingepak soos bottels vir die kinders nie.

Kapt. Malcolm Pojie, polisiewoordvoerder, het Woensdagmiddag laat gesê dele van ’n voertuig is naby Voëlklip gevind. Dit kon nog nie bevestig word dat die dele van die Caravelle afkomstig is nie. “Geen liggame is nog gevind nie.”

Volgens hom was duikers en soekspanne laatmiddag steeds op die toneel en sou hulle aanhou soek totdat die lig dit nie meer toelaat nie.

Pojie het ’n beroep op mense gedoen om nie allerhande inligting en gerugte oor die voorval op sosiale media te versprei nie.

Etienne het vroeër by navraag gesê hulle is baie bekommerd, en dat sy dogtertjie gestremd is. Hy het nie later weer sy selfoon beantwoord nie.

Scheepers se verdwyning het Dinsdagoggend vroeg rugbaar geword op die Facebook-blad Georgiete Staan Saam, waar mense gevra is om op die uitkyk vir die voertuig te wees. Die nuus is blykbaar vroeër reeds op WhatsApp-groepe versprei.

Mense het hul skok op Facebook oor die voorval uitgespreek. Sakekennisse het laat blyk dat die egpaar baie vriendelik is en dat Cuzette ’n kalm, rustige persoonlikheid het.

* Op 15 November 2015 is MarNic Els (20), Luandro Jansen (21) en Werner Finger (20) in die vroeë oggendure by Voëlklip dood toe die Toyota Hilux-bakkie waarin hulle gery het oor ’n afgrond in die see gestort het.

Els en Jansen se lyke is gevind, maar Finger s’n nooit nie.

Vroeër in November van dieselfde jaar (2015) is Gabriel Harker (38) van die rotse daar afgeslaan. Sy lyk is ’n paar dae later gevind.

Op 22 Desember 2015 is Josh Allpass (15) en ’n familievriend, Warrick Dickson (14), deur branders van die rotse afgeslaan waar hulle gehengel het. Josh se lyk is later gevind, maar nie Warrick s’n nie.

In April 2016 het Richard Meyer, ’n onderwyser van George, ook daar verdrink. Sy lyk is gevind.

In Mei 2016 is Tobias (Koeloe) Koen (62) ook by Voëlklip dood toe sy bakkie oor ’n afgrond daar gestort het. Koen se lyk is met ’n helikopter verwyder.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.