Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Deon Meyer onttroon ‘Game of Thrones’ op TV

Die Suid-Afrikaanse spannings-minireeks Trackers het die ultragewilde internasionale reeks Game of Thrones onttroon as M-Net se gewildste program vanjaar. Meer as 718 000 mense het dié reeks, wat gegrond is op Deon Meyer se gelyknamige boek, Spoor, vertaal as Trackers, op M-Net en DStv Catch Up gekyk. Game of Thrones het sowat 562 000 kykers gelok op albei platforms.

James Alexander sê hy het dit baie geniet om die rol van die bedonderde Lemmer te vertolk. Foto: Deon Raath

Die laaste episode is verlede Sondagaand uitgesaai, maar Trackers is nog op Showmax te sien.

Trackers het selfs meer kykers gelok as die gewilde Sondagaandfliek om 20:00. Ons is ongelooflik bly,” sê Yolisa Phahle, hoofuitvoerende beampte van algemene vermaak by M-Net. Sy sê ’n gedugte span van meer as 1 000 mense het maande lank gewerk om te verseker dat Trackers van uitstekende gehalte is.

James Alexander (41), deesdae ook bekend as James Gracie, het die rol van Lemmer, ’n oudsoldaat, in die reeks vertolk.

Dit is dieselfde Suid-Afrikaanse James wat met die aktrise Anel Alexander (40) getroud is. Hulle woon en werk al drie jaar in Los Angeles, Kalifornië.

James Alexander in Trackers.

“Daar is vreeslik baie James Alexanders daar (in Los Angeles) en ek is gereeld met ander akteurs verwar. My agent het voorgestel dat ek my van verander. Ek wou nie. Ons is van Skotse afkoms en dit is my pa se naam en van. Maar ek het toe gedink dit is dalk tyd dat ek my ma, Elsie, vir ’n verandering vereer. So toe kies ek haar nooiensvan, Gracie. Sy is baie in haar noppies,” sê James.

Hy is tans in Suid-Afrika. As deel van sy voorbereiding het hy Deon Meyer se boek gelees en toe 5 kg afgeskud omdat Lemmer beskryf word as ’n maer ou.

“En hy is die hele tyd kwaad. Dít was so lekker, want hoewel ek baie nonsens kan praat, raak ek ook soms nogal opgewerk. Dis die rooi hare,” skerts James.

In Trackers is daar ’n toneel waar ’n beduiwelde Lemmer ’n lorrie bestuur met Flea van Jaarsveld (Trix Vivier) as passasier nadat hulle onder meer aangeval is deur mense op soek na diamante. Hy jaag dan op die boer af by wie hy die renosters moet aflewer en ry in die proses die plaashek af.

“Dit was eintlik ’n ongeluk. Ek het net ’n halfuur gehad om te leer hoe om die trok met 16 ratte te bestuur.

“Die regisseur, Jyri (Kähönen, van Finland) het vir my gesê hy wil nie ’n stuntman gebruik nie. En ek hoor toe hy sê vinniger, vinniger, en wou selfs iemand anders kry om oor te vat.” Toe rý hy.

“Toe ek weer sien, ry ek die hek af. Ek en Trix het ons lam geskrik en toe klim ek uit en loop na die boer (Deon Lotz) toe en gaan bliksem hom (as deel van die draaiboek),” vertel James.

“Dankie tog Jyri het gedink dit was perfek en die boer aan wie die plaas behoort het, was darem nie kwaad nie.”

Hy sê hulle het aan die reeks verfilm in dieselfde tyd dat die my f*k Marelize-video uitgekom het van Marelize wat haar fiets stamp en afval. Hulle het besluit om die trok, wat keer-op-keer gestamp is, Marelize te doop.

Al is daar baie geleenthede en uitstekende produksies in Amerika, sê hy Suid-Afrikaners sien net nie al die gemors wat daar vervaardig word nie.

Trackers kan met die beste reekse daar meeding. Dis ’n boeiende, universele misdaadstorie en ’n verdere bonus is dat ons die kans gehad het om te verfilm op die mooi plekke waar die storie afspeel – Loxton in die Karoo, Limpopo, Kaapstad. Gewoonlik is daar nie budget daarvoor nie. Maar dié keer kan kykers ook sien hoe Suid-Afrika lyk.”

Nog iets wat hom beïndruk het is die vroulike karakters wat gereeld die manne op hul plek gesit het. “Ek self is getroud met ’n sterk vrou. Dis net jammer dat Flea toe nou uiteindelik vir Lemmer ore aangesit het met haar skelmstreke. So ek hoop daar is ’n opvolg sodat ek haar kan terugkry.”

Meer oor:  Deon Meyer  |  Trackers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.