Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Derduisende trust-lêers in storm vernietig

Die rekords van sowat 45 000 trusts wat deur die meester van die hooggeregshof in Pretoria bewaar moes word, is reeds in 2012 vernietig ná die dak van die bergplek in Centurion in ’n storm afgewaai is.

Ronald Lamola, minister van justisie, het die omvang van die skandaal Donderdag bekend gemaak. Dit is die afgelope jaar stuk-stuk uit hom en sy voorganger, Michael Masutha, getrek in herhaalde parlementêre vrae oor ’n onverklaarbare “agterstand” met trustrekords in Pretoria se meesterskantoor.

Die vernietigde lêers is van sowat 45 000 testamentêre trusts en inter vivo (lewende) trusts, wat kragtens wet by die meester geregistreer moet word. Die lêers het oorspronklik trustaktes, testamente, batedeklarasies, afskrifte van identiteitsdokumente en ander rekords bevat. Masutha het in Desember verlede jaar gesê al die lêers is vir veilige bewaring oorgeplaas van ’n private diensverskaffer, Docufile, na ’n ander, Metrofile.

Minister kom ná vrae uit met sak patats.

Lamola het die afgelope twee weke stuksgewys in antwoord op opvolgvrae van Wouter Wessels, VF Plus-LP, gesê daar is in Januarie al vasgestel die 45 000 trustlêers is weg.

“Dis veroorsaak deur ’n storm wat die dak van die bergplek van Docufile in Centurion afgewaai het waarin baie van die lêers vernietig is. Die meesterskantoor het ’n nuwe databasis geskep en na deeglike soektogte nou aangedui dat sowat 45 000 lêers nie opgespoor kan word nie. Dit het tot die agterstand aanleiding gegee omdat duplikaatlêers opgemaak moet word.

“Die probleem word vererger omdat daar voor 2013 geen geoutomatiseerde stelsel gehou is nie en omdat kliënte nie kopieë van alle dokumente gehou het nie,” het Lamola op 17 Oktober gesê.

Donderdag het hy bekend gemaak dat die dak reeds in September 2012 afgewaai het.

“Terwyl ons in Desember 2018 met die agterstande gesukkel het, is agtergekom dat honderde lêers nie by die huidige diensverskaffer (Metrofile) is nie. Terwyl daar na die lêers gesoek is, is dit onder die aandag van die waarnemende hoofmeester gebring dat duisende lêers in die storm vernietig is,” het Lamola gesê.

“Daar is ook aangedui dat die diensverskaffer die lêers weggegooi het sonder dat die meesterskantoor kans gehad het om dit te besigtig vir moontlike herwinning. Dit lei nou tot litigasie teen die voormalige diensverskaffer (Docufile),” lui sy skriftelike antwoord.

Die meesterskantoor kan trustees en ander betrokkenes by die verlore rekords nie kontak nie omdat die meesterskantoor geen inligting oor hulle het nie. “Dit kan eers vasgestel word wanneer ’n kliënt vir ’n lêer kom vra,” het Lamola gesê.

Die vorige hoofmeester het volgens Lamola geweet die lêers is vernietig, maar dit nie aan sy senior bestuur bekend gemaak nie.

“Swak rekordhouding en die afwesigheid van ’n behoorlike databasis van lêers het ook tot die toestand gelei. ’n Projek sal nou in Desember onderneem word om dit op te los.”

Meer oor:  Ronald Lamola  |  Pretoria
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.