Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Derick se seer hart en voet

Hy is moeg, fisiek én geestelik, het Derick Hougaard Saterdag gesê pas nadat hy uit die Life Wilgers-hospitaal in Pretoria ontslaan is.

Hy is Donderdag vir die vierde keer in vyf jaar geopereer aan sy skopvoet se achilles-sening.

Derick Hougaard moes Donderdag, te midde van storms wat om sy kop woed, ’n operasie ondergaan. Hier is hy kort nadat hy Saterdag uit die Life Wilgers-hospitaal in Pretoria ontslaan is. Foto: Elizabeth Sejake

Maar dis nie net sy gesondheid wat hom opkeil nie. Sy stormagtige egskeiding was die afgelope week alweer in die nuus nadat sy eksvrou, Karlien van Jaarsveld, Dinsdagaand histeries op sosiale media aangekondig het dat haar vierjarige tweeling soek is. Mense het haar laat weet Derick is dronk by ’n Kersmusiekkonsert in Pretoria, het sy op Instagram gesê.

Karlien se ma, Ronel Brink, het die kinders ’n rukkie later by ’n restaurant in die Protea-hotel opgelaai. Derick het ’n foto getwiet van die tweetjies wat rustig op ’n bank in die eetplek lê en slaap. Maar die vrede is nie herstel nie.

Gister het Ronel gesê Karlien wil nou regstappe doen. Sy wil nie die kinders van Derick af weghou nie, maar sy wil verseker dat hulle veilig is wanneer hulle by hom is.

Derick wil nie uitwei oor wat Dinsdagaand gebeur het nie.

“Ek het nie al die nonsens gelees wat daar oor my gesê is nie. Ek gaan wel nie ontken dat ek dalk te veel gedrink het nie, maar my kinders was nooit in gevaar nie. Hulle was deurentyd onder toesig,” sê hy.

Ek gaan nie ontken dat ek dalk te veel gedrink het nie, maar my kinders was nooit in gevaar nie.

Ronel sê iemand het Dinsdagaand vir Karlien gebel om te sê Derick lyk aangeklam. Karlien het die kinders se oppasser gebel om te hoor wat aangaan. Op daardie oomblik was sy saam met Derick en die kinders op pad na ’n hysbak. Die deure het toegegaan en die oppasser kon nie ingaan nie.

Ronel sê sy het verskeie beëdigde verklarings oor Dinsdagnag se gebeure van mense wat Derick en die kinders gesien het.

Een van die mense wat help soek het ná Karlien se hulpkreet, is die musikant Jacques du Plessis.

Hy sê hy het Derick in die restaurant gesien. “Dit was vir my duidelik dat hy onder die invloed was, want hy het gesukkel om te praat. Die seuntjies het op ’n bank lê en slaap. Daar was twee ander volwasse vroue by (hy wil hulle nie identifiseer nie) en hulle was nugter. Hulle het vir my gesê hulle kyk na die kinders.”

Vir Derick is die jongste drama die einde van ’n baie moeilike jaar.

“Ek het gedink 2018 gaan my jaar wees. Dalk sal dit nou 2019 wees,” sê hy en lag moedeloos.

“Ek gaan nie fight nie. Dinge moet net kalmeer,” sê hy.

Sy seuns verjaar dié week en sou tot ná hul verjaardag by hom wees. Maar ná Dinsdagaand is dit nou van die baan.

“Dit breek my hart. Ek het ’n goeie verhouding met hulle, en die mense wat regtig na aan my is, weet dit. My voet is basies moer toe. Ek is bekommerd daaroor, maar ek sal hom nou maar in die lug hou en ek het medikasie vir bloedklonte,” sê hy.

Hy het gister Kaap toe gevlieg om by sy familie te wees.

“Ek wil nou net tussen mense wees wat vir my lief is,” sê Derick.

“Dis vir Nellies (die sangeres Nádine met wie Derick die afgelope jaar uitgaan) moeilik om nie hier te wees nie. Sy is besig met vertonings in België,” sê Derick.

“Ek kan regtig net uit die diepte van my hart dankie sê vir ’n wonderlike girl soos Nádine wat by my staan. Sy is ongelooflik. Sulke vroue is skaars.”

Die probleme met sy voet is een van die redes hoekom hy in 2012 sy stewels finaal moes ophang terwyl hy vir Saracens in Brittanje rugby gespeel het. Hy het ook gesukkel met harsingskudding.

Hy kon die afgelope ses maande nie oefen nie en hy moes pille drink om te slaap as die pyn te erg raak. Hy het gewig aangesit. Maar hy gaan nie opgee nie. In 2019 gaan hy weer op die been kom, slegte voet en al, sê hy vasbeslote.

“Ek het dalk te lank op drome gefokus en nie genoeg op die realiteit nie. Dit gaan nou verander en in 2019 gaan ek weer lag,” sê Derick voor hy hinkepinke wegstap. suzanne.venter@rapport.co.za

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.