Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
SuperSport oor Derick: 'Daar was geen klagte nie'
Derick Hougaard Foto: Deaan Vivier

Die oud-Springboklosskakel Derick Hougaard sê sy aanhangers gaan hom nie meer op SuperSport as rugbykommentator sien nie weens sy uitlatings oor transformasie. SuperSport sê dis onwaar.

“Ek skryf hierdie brief met ’n swaar hart. Ek het so baie navrae gehad oor waarom ek nie meer Maandae saam met die legende Kobus Wiese werk nie,” begin Hougaard se brief wat hy Saterdag op sy Facebook-blad gedeel het.

Hougaard sê hy het ’n paar uitlatings oor transformasie gemaak, spesifiek oor die “negatiewe impak wat dit op die Suid-Afrikaanse rugbystrukture kan hê”.

“Ek het nie in diepte daarop ingegaan nie en ook nie (die uitlatings) oor die Springbokke gemaak nie. ’n Springbok verdien om vir sy land te speel,” het hy geskryf.

Volgens Hougaard het ’n minister van die land toe in reaksie op sy uitlatings ’n e-pos aan SuperSport gestuur en gevra dat hy van die televisie verwyder word. Hougaard sê nie wie dié minister is nie.

“Ek sal altyd staan by wat ek gesê het. Dit is net ’n jammerte dit het my my werk gekos.”

SuperSport se woordvoerder, Clinton van den Berg, het gesê dis nie waar dat 'n minister gekla het oor Hougaard se uitlatings nie. "Daar was geen so 'n klagte nie."

Van den Berg het bygevoeg dat SuperSport Hougaard nog nooit in diens geneem het nie. "Ons het hom nog altyd as 'n vryskut gebruik. Soos met al SuperSport se vryskutte, besluit ons na goeddunke of ons Derick op die lug gebruik of nie." Hy sê SuperSport het nie 'n besluit na die een of die ander kant toe gemaak oor die gebruik van Hougaard as kommentator op die lug nie. 

Hougaard sê sy bedoelings met sy transformasie-uitlatings was goed, omdat hy almal se agtergronde verstaan, maar “as jy heelbo gespeel het, sien jy niks anders as talent nie”. Hy sê nie waar of wanneer hy dié uitlatings gemaak het nie.

Hougaard sê dit is ’n “traumatiese ervaring”. Hy het almal bedank vir hul ondersteuning en gesê: “Groot dinge wag nog in die toekoms. Ons sal weer rugby praat wanneer ons paaie kruis.”

Hy vra om verskoning aan die mense wat hy teleurgestel het en “veral aan die hele Suid-Afrika”.

Hougaard verduidelik voorts in die Facebook-plasing wat rugby vir hom in sy lewe beteken.

“Ek is lief vir rugby en dit sal altyd deel wees van my lewe. My grootste passie is om kinders te help vorm en hulle voor te berei op die uitdagings van sport, veral kinders in die landelike gebiede.”

Rugby is Hougaard se passie. Hierdie foto is verlede jaar op Loftus in Pretoria geneem. Foto: Liza van Deventer

Om as kommentator vir SuperSport te werk, het baie natuurlik gekom, sê Hougaard. “My liefde vir die handelsmerk en werk het gegroei. Ek het saam met genieë, legendes en ongelooflike mense gewerk.”

Hougaard sê hy glo met sy hele hart hy sal weer deel wees van iets groters en dat hy ’n nalatenskap sal agterlaat, “of dit saam met SuperSport of enige ander media is”, en of hy sy “eie inhoud met Virtual Productions vervaardig”.

“Tyd sal leer,” het Hougaard gesê en bygevoeg die vuur in hom brand nog hoog genoeg dat hy nie sal opgee om aan die land terug te gee nie.

* Hougaard het nie op Netwerk24 se versoeke om kommentaar gereageer nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.