Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Desperate gesinne eet al hoe meer hoenderpote, afval

Kos vir lae-inkomstegroepe was in Julie 11,6% duurder as ’n jaar gelede, terwyl gewone inflasie in dié tyd 2,2% beloop het.

Veral die pryse van stapelvoedsel soos mieliemeel, rys en aartappels het skerp gestyg, toon ’n huishoudelike inflasie-barometer wat die afgelope drie jaar deur ’n nieregeringsorganisasie, die Pietermaritzburgse Economic Justice and Dignity Group (PMBEJD), bygehou word.

Mieliemeel was in Julie 18% duurder as ’n jaar gelede, rys het 43% meer gekos, koekmeel 22% meer en suikerbone 14% meer. Wit brood was 11% duurder en bruin brood 8%.

’n Aanduiding van hoe gesinne in dié inkomstegroep sukkel, is dat die pryse van hoenderpote in Julie 63% duurder was as ’n jaar gelede. Afval was 9% duurder.

43%: Die styging in die prys van rys tussen Julie 2019 en Julie vanjaar.

“Mieliemeel is ’n groot gedeelte van die kosmandjie, asook ander stapelvoedsel soos rys, kool en brood. Wanneer die prys van stapelvoedsel so skerp styg, het gesinne geen ander keuse as om ander produkte soos vars groente en vleis uit hul kosmandjie te laat wegval nie. Dit word dan vervang met produkte soos hoenderpote en afval (inyama yangaphakathi),” sê Mervyn Abrahams, direkteur van die PMBEJD.

Kookolie, wat ook van kritieke belang vir lae-inkomstegesinne is, was 26% duurder.

“Daar was wel in Julie ’n effense prysdaling van sommige vars produkte teenoor die vorige maand danksy die gedeeltelike opheffing van die staat van inperking, soos die prys van aartappels en tamaties, wat die totale mandjie in Junie laat stabiliseer het,” sê Abrahams. “Die belangrikste les wat ons uit die inperking geleer het, is dat die informele sektor ’n baie groter rol speel in voedselverskaffing, veral van vars produkte, as wat enigiemand verwag het.

“Die regulasies oor vervoer en logistiek het dit heeltemal afgesny en pryse het skrikwekkend gestyg. Dit het nou effens gestabiliseer en ons hoop dat pryse weer sal daal.

“Ons ontledings wys dat die prys van rys so skerp gestyg het omdat dit ingevoer word en wêreldwye inperking verskaffingskettings onderbreek het. Terselfdertyd het ons geldeenheid verswak. Ons verwag dat dit weer kan daal namate die wêreldwye inperking verlig word,” sê Abrahams.

“Ons sukkel om te bepaal waarom die prys van mieliemeel so skerp gestyg het. Dis moontlik aangesien ons steeds mieliemeel van verlede jaar se oes gebruik, wat ’n taamlike swak oes was. Vanjaar word ’n groot oes verwag, wat die prys hopelik sal laat daal.”

Kleinhandelaars het in reaksie daarop begin om mieliemeel in kleiner hoeveelhede te verkoop. Vroeër was dit net in 25 kg- en 10 kg-verpakkings beskikbaar, maar nou is 5 kg-pakke te koop.

Die huishoudelike inflasiekoers vir lae-inkomstegroepe word sedert Augustus 2018 elke maand gemeet by winkels waar vroue in lae-inkomste-huishoudings in KwaZulu-Natal koop. Onderhoude word ook gereeld met vroue in ses fokusgroepe gevoer om seker te maak die pryse word op die regte plekke gemeet en die kosmandjie waarvolgens dit gemeet word, is steeds reg saamgestel.

Die kosmandjie word saamgestel vir ’n gesin van sewe mense omdat dit volgens sensuspeilings die gemiddelde grootte van lae-inkomstegesinne in die provinsie is. Dit bevat 38 produkte. Die kosmandjie het in Julie R3 413,14 gekos teenoor R3 057,93 in Julie 2019 en R3 221 toe die inperking in Maart begin het. Dis ’n styging van 6% sedert die inperking aangekondig is. Uit onderhoude in die fokusgroepe blyk dit die mense is dankbaar oor die tydelike verhoging van die kindertoelae, ouderdomspensioene en selfs die spesiale Covid-19-toelae vir diegene wat geen ander staatshulp kry nie.

“Ouderdomspensioene is met R250 per maand verhoog tot R2 110 tot einde Oktober,” sê Abrahams. “Wanneer dit in November weer verlaag word, gaan hulle R250 minder hê om aan kos te bestee. Dieselfde geld vir gesinne waarin R500 vir die kinderversorgers ingestel is en R350 vir diegene wat werkloos is. In November gaan hulle in ’n swakker posisie wees as wat hulle voor die inperking was. Uit ’n beleidsoogpunt sal ons moet kyk na die moontlikheid van ’n algemene inkomstetoelae.”

Meer oor:  Rys  |  Kospryse
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.