Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Dick de Waal se dood ‘geweldige verlies’

In huldeblyke aan brig. Dick de Waal, wat Vrydag 14 Mei aan Covid-19-verwante komplikasies in Kimberley dood is, word hy nie net as ’n polisieman in murg en been, mentor en speurhoof beskryf nie, maar as ’n vriend en beskermer op wie die land kon steun.

De Waal het bekendheid verwerf met sy knap speurwerk in die Griekwastad-moorde in 2012 en was onlangs ook betrokke by die ondersoek na en inhegtenisneming van Suretha Brits, wat van die huurmoord in Oktober 2020 op haar man, Leon Brits, in Pofadder aangekla word.

De Waal was ook betrokke by die ondersoek na die Brand-moorde in Hartswater, waar Danie en Breggie Brand en hul dogter, Elzabie Brand, in Julie 2020 in hul huis oorval en hul verminkte lyke later naby Taung gevind is.

Die rolprent Griekwastad, wat onlangs in die Nasionale Rolprent-en-video-stigting (NFVF) se jaarlikse Suid-Afrikaanse Rolprent-en-TV-pryse (Saftas) in sewe kategorieë benoem is, is gegrond op De Waal se ondersoek na die Griekwastad-moorde, waarin Don Steenkamp skuldig bevind en gevonnis is weens die moorde op sy ouers, Deon en Christel Steenkamp, en suster, Marthella, en Marthella se verkragting.

Adv. Hannes Cloete, aanklaer, en brig. Dick de Waal (toe nog kolonel), ondersoekbeampte tydens die verhoor van Don Steenkamp, wat later skuldig bevind is aan die moord op sy ouers, Deon en Christel Steenkamp, en suster, Marthella, en haar verkragting. Die twee geregsdienaars het ook saamgewerk aan die saak waarin Suretha Brits van die moord op haar man, Leon Brits, in Oktober 2020 in Pofadder aangekla word. Foto: Charné Kemp

Elbeth Vermaak, Deon Steenkamp se suster, sê: “Dick, blouoogman, met ’n oog wat ’n bars kan kyk. Sy A4-aantekeningboek en vulpen was altyd byderhand. Altyd lus vir ’n koppie koffie, nooit te haastig om te gesels nie.

“ ‘Ek het nog nooit ’n moordenaar laat wegkom nie,’ het hy gesê. Dick was meedoënloos wanneer hy ’n saak moes opvolg, maar het altyd ’n ware heer gebly. Hy het almal om hom met respek behandel en empatie gehad vir almal wat sy pad gekruis het. Sy skerp waarnemings- en besluitnemingsvermoë tesame met ’n fyn humorsin het van hom ’n meester op sy gebied gemaak. Sy laaste WhatsApp aan my was op 31 Maart toe ek hom gelukgewens het met ’n saak waarmee hy besig was. ‘Dankie. Ja, ons probeer nog steeds ’n verskil maak,’ het hy geantwoord.

“Ons salueer jou. Tot weersiens.”

Die Scene23-vervaardigingspan van Griekwastad, wat uit Tim Theron, Cobus van den Berg, Tracey Lange en Deon Meyer bestaan, en Arnold Vosloo, die hoofspeler wat die rol van De Waal vertolk het, sê in hul huldeblyk dat sy afsterwe skokkend en hartseer is.

Hy was die kern, middelpunt en inspirasie vir ons rolprent, en dit was ’n absolute voorreg om sy storie te kon vertel. Hy was ook een van die groot inspirasies vir Deon Meyer se boeke en karakters.

In ’n verklaring sê hulle De Waal “was ’n man wat met nederige dapperheid, trots en waardigheid die grootste hartseer, afgryse en donkerste dieptes van die mensdom getrotseer het om die waarheid te vind en die gemeenskap te probeer beskerm”.

“Hy was die kern, middelpunt en inspirasie vir ons rolprent, en dit was ’n absolute voorreg om sy storie te kon vertel. Hy was ook een van die groot inspirasies vir Deon Meyer se boeke en karakters.

“As ’n speurder was Dick definitief een van die laaste van sy soort, moontlik die beste speurder in Suid-Afrika. Sy verlies gaan op vele vlakke ’n massiewe leemte laat. Griekwastad en Dick se storie sal altyd uitstaan as een van die span se hoogtepunte.

“Dit was ’n voorreg, uitdaging en hoogtepunt vir Arnold om die rol van Dick te kon vertolk – sy eerste Afrikaanse rol in meer as 30 jaar. Arnold kon nie vir ’n beter terugkeer na die Suid-Afrikaanse rolprentbedryf gevra het as om vir ’n paar weke in Dick de Waal se skoene te loop nie.

“Dick se familie het ’n geliefde man, pa en broer verloor, en Suid-Afrika het ’n onbesonge held verloor. Ons innige meegevoel en simpatie aan sy vrou, Henriette, kinders, sy familie en ook sy kollegas. Rus in vrede, Dick.”

Brig. Dick de Waal en sy vrou, genl.maj. Henriette de Waal, Noord-Kaapse waarnemende polisiekommissaris, in November 2020 ten tyde van hul seun, Brando, se troue. Foto: Facebook

Die rolprent is ook vir ’n Safta-prys as beste rolprent benoem. “Ons dra die benoeming reeds aan Dick op, en indien die rolprent wen, sal die Safta ook aan Dick, Henriette en sy familie opgedra word.”

Tertius Kapp, die draaiboekskrywer, sê De Waal was die sleutel vir die draaiboek. “Ek was eintlik ’n bietjie raadop oor hoe om die storie te vertel, totdat ek en Jacques Steenkamp, die skrywer, vir Dick gaan ontmoet het.

“Dick het heeltemal deur die tipiese prentjie van ’n polisieman in ’n rolprent gebreek. Hy het sy werk benader soos ’n wetenskaplike: metodies en mensliewend. Hy het met die mees afgryslike kant van die mensdom gewerk, mense soos verkragters, gesinsmoordenaars en betrokkenes in bendegeweld. Steeds het hy geglo in die goeie. Hy het die anker van die draaiboek geword – ’n man wat die bose deurgrond om die res van ons dit te spaar. Dis ’n geweldige verlies vir ons almal.”

Ek mis die wete dat hy daar is, dat hy vir ons uitkyk. Dankie dat jy die wêreld ’n veiliger plek gemaak het. Suid-Afrika het ’n held verloor.

Jozua Malherbe, die regisseur, sê De Waal was die enigste persoon wat hom duidelikheid kon gee oor wat werklik daardie nag op die Steenkamp-plaas gebeur het. “Ek het hom en sy vrou een aand vir ’n ete ontmoet, ’n aand waarin ons stories gedeel en ek die toegewyde, deeglike en beginselvaste man leer ken het. Sy ernstige houding is deur sy hartlikheid oortref, ’n man wat trots op sy werk was waarin hy die gemeenskap van Suid-Afrika gedien het.

“Ek mis die wete dat hy daar is, dat hy vir ons uitkyk. Dankie dat jy die wêreld ’n veiliger plek gemaak het. Suid-Afrika het ’n held verloor.”

Arnold Vosloo in die rol van kol. Dick de Waal in die rolprent 'Griekwastad'.

Flip Kleynhans het namens De Waal se vriendekring, die sogenaamde “feeskomitee”, gesê hul hegte vriendskap was ’n voorreg.

“Dick was die vriend op wie jy dag en nag kon steun. Dick, die vriend wat alles in detail gereël het. Dick, die vriend wat vir ure se lag, kameraderie en samesyn gesorg het. Of jy nou agter jou rekenaar was, voor ’n braaivleisvuur, met ’n koppie koffie in die hand, besig om kos in die karavaan te maak, jy was altyd dieselfde.

“Jy wat so lief was vir vuurmaak, jag en kuier, ons sal elke kuier met jou koester. Ons sal aanhou om die eerste een op die WP te vat, en jy sal altyd Man of the Match bly.

“Vir ons sal jy voortleef in ons harte, maar ook in die sonsondergang oor ’n Kalahari-sandduin, op die kruin van ’n berg in Lesotho, agterop ’n bakkie met ’n jaggeweer, op ’n motorfiets op die langpad, in die Weskus se seesand.

“Ons sal eendag weer ontmoet. Tot dan.”

Meer oor:  Kimberley  |  Pandemie  |  Verlies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.