Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Dié 2 se liefdesresep werk vir alles

Die Here het ons saamgevoeg en wat Hy saamvoeg mag die mens nie breek nie.

Dít is volgens ds. Neels Olivier (96) die grootste geheim tot hom en sy vrou, Ans (96), se huwelik van 72 jaar.

Ds. Neels en Ans Olivier (albei 96) is in 2020 72 jaar getroud en volgens Neels nog net so verlief soos die eerste dag wat hulle ontmoet het. Foto: Mlungisi Louw
Ds. Neels en Ans Olivier (96) is trots om na 72 jaar van getroude lewe nog langs mekaar te kan wees. Foto: Mlungisi Louw

Die Olivier-egpaar het vanjaar op 20 Julie hul 72ste huweliksherdenking in Bloemfontein gevier net ’n klipgooi weg van die De Bloem NG Gemeente waar hulle jare terug trou aan mekaar beloof het.

Neels sê hy is vandag na al die jare nog net so verlief op Ans soos daardie dag toe hy haar in die NG Kerk in Wellington gesien het.

“Ons het saam in die kerk se koor gesing en ek het dadelik geweet dat ek met die vrou gaan trou,” vertel Neels terwyl Ans onderlangs vir hom loer.

“Ons was eers vriende vir so drie jaar en het in my eerste werkjaar getrou.”

Neels, Vrystater van kindsbeen af, het vir 41 jaar sendingwerk deur die provinsie, in onder andere Reitz, Warden en Bethlehem, gedoen.

Hy het ook vir ’n paar jaar in Virginia en Welkom onder die Suid-Sotho mense by die myne gepreek.

“Ans het saam met my gekom en sy het haar plek in die gemeentewerk net so volgestaan soos ek in die gemeente moes preek.”

Op die vraag oor of hulle na al die jare nog nie die pad wou vat en weghardloop nie, sê Neels daar is nie ’n manier nie.

“Waarnatoe sal ek nou die pad heen vat? Waarnatoe sal ek ooit sonder haar kan gaan?”

Neels sê die jong mense kyk deesdae die eenvoudigste maar sterkste ketting van ’n huwelik heeltemal mis.

Hier is ’n jong Neels en Ans Olivier.
Ds. Neels en Ans Olivier (96) het vier kinders, elf kleinkinders en 18 agterkleinkinders. Hulle was met hul 60ste huweliksherdenking in 2008 laat almal by mekaar. Agter v.l.n.r is Wynand Hoogenhout, Hannes Maritz, Neels, Marius Maritz, Nelius Maritz, Elma Vermeulen, Wilken Maritz en Danelle van der Merwe. Voor v.l.n.r is Rehan Maritz, Ans, Francois Maritz, Juan Taljaard en Jacques de Lange.

“Baie mense kyk na die aardse dinge as hulle ’n maat kies, maar aardse dinge verbrokkel en dit verniel.

“As jy jou Godsdiens ernstig opneem en God se liefde ken sal dit juis die ding wees wat jou saam met ’n lewenslange maat bind, want dit sal nooit vergaan nie.”

Neels en Ans het vier dogters grootgemaak: Annalene (71), Ronelle (69), Maretha (65) en Louise (64).

Louise en haar man, Burt, woon al ’n jaar in Bloemfontein om na haar ouers om te sien.

Die Oliviers het 11 kleinkinders, waarvan Neels tien gedoop het en sewe in die huwelik bevestig het.

Hulle het ook 18 agterkleinkinders waarvan hy sewe gedoop het.

Neels wys na ’n foto waarop hy en sy vrou saam met hulle kleinkinders is en sê: “As jy die geheime resep tot ’n lang gelukkige en vol lewe soek, daar’s dit, op die foto.

“Dis jou familie,” sê hy.

Hoewel hulle nou nie meer so saam sing soos destyds in Wellington se kerkkoor nie, sal hulle die dae saam met niemand anders deurbring as saam met mekaar nie.

“Dis net so lekker om langs hom te sit en gesels as wat dit is om langs hom in stilte te kan sit,” sê Ans.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.