Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Die bank is net soms skuldig...

Die bankombud kry daagliks gemiddeld 5,6 klagtes van kliënte wat geld verloor het weens bedrog met internetbankdienste.

Reana Steyn, die ombud, het die afgelope week gesê hulle het 1 459 sulke sake geopen.

Al waarsku banke kliënte oor dié slenters, is die e-posse en oproepe so oortuigend dat verbruikers steeds in die strikke trap en hul besonderhede gee, sê Steyn.

Bedrieërs en kuberkrakers werk onverpoos om vals webblaaie te skep wat soos dié van banke lyk, of doen hulle in e-posboodskappe of telefoonoproepe voor as bankpersoneel.

Die ombud beslis oorweldigend in die banke se guns.

Van die altesaam 7 172 sake wat die ombud in 2018 afgehandel het, is 75% in die guns van banke beslis en net 25% in die guns van verbruikers. In 2017 is 73% van die 6 394 sake wat afgehandel is, in die guns van banke beslis en 27% in verbruikers se guns.

Rapport het vroeër berig oor verskeie mense wat besig is met hofsake teen banke waarin hulle beweer hulle was nié die slagoffers van bedrogslenters nie, maar dat sindikate binne banke betrokke is by die slenters.

Die gegriefde kliënte maak veral beswaar dat banke volgens hulle “aanneem” hulle het per ongeluk of deur nalatigheid hul sensitiewe inligting gedeel en daarom weier om hulle vir verliese te vergoed.

Adv. John Myburgh, voorsitter van die direksie van die ombudskantoor, het Woensdag gesê omdat die bankombud deur die land se banke gefinansier word, kan die indruk bestaan dat die ombud nie onafhanklik is nie en banke bevoordeel in haar bevindings. Hy sê die ombud se onafhanklikheid word verseker deur ’n onafhanklike direksie wat nie bankiers is nie.

Die ombud het verskeie suksesstories van 2018 gedeel.

’n Weduwee het R1 miljoen wat uit haar oorlede man se lopende rekening gesteel is, teruggekry. Dit is onttrek deur ’n bedrieër wat homself as die man se eksekuteur voorgehou het.

Nerosha Maseti, bestuurder van ondersoeke in die ombudskantoor, sê toe die weduwee by die bank kom om die geld in ’n boedelrekening te laat oorbetaal, moes sy hoor die geld is reeds na ’n ander bank oorbetaal en onttrek. Die vrou het in die bank ’n hartaanval en beroerte gehad en is per ambulans hospitaal toe gejaag. Haar bank het gesê die fout lê by die begunstigde se bank wat die rekening geopen het.

Volgens Maseti was die ombud se standpunt dat die verhouding tussen ’n bank en sy kliënte een van mandaat is. In dié geval kon die weduwee se bank nie bewys die geld is oorbetaal op grond van ’n geldige mandaat nie.

Die bank het eers die ombud se finale beslissing aanvaar dat hy die R1 miljoen aan die weduwee moet terugbetaal net voordat die saak voor ’n regter sou beland.

Maseti het nog ’n voorbeeld voorgehou waar hulle ’n gevangene wat 20 jaar tronkstraf weens diefstal uitdien, gehelp het. Die betrokke bank het ’n diens aan gevangenes gebied om bankkaarte te bekom wat by hulle in die tronk afgelewer sou word. Die man het aansoek gedoen en sy bankkaart ontvang. Hy het dit vir sy ma gegee om sy sake te behartig, maar toe hy agterkom sy doen meer as wat hy gevra het, het hy die kaart gekanselleer en om ’n nuwe kaart aansoek gedoen.

Eers het die bank gesê hy kan ’n derde party stuur om die kaart af te haal, maar het toe die beleid verander en aangedui die man moes persoonlik die kaart by die bank gaan haal – natuurlik onmoontlik in sy geval.

Die ombud het uiteindelik beslis die bank moet die nuwe kaart op eie koste by die tronkvoël aflewer én hom R5 000 betaal as vergoeding omdat hy twee jaar gesukkel het om sy nuwe kaart van die bank te kry.

Almal is egter nie altyd tevrede met die ombud se beslissings nie.

’n Woedende klaer het ’n foto van een van die beregters in die ombudskantoor gevra en gesê sy wil dit op ’n groot advertensiebord langs die N1-snelweg plaas met die woorde “Miss Useless”.

Meer oor:  Verbruikers  |  Klagtes  |  Bankombud
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.