Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Die breë en die Small weg

Rugbyliefhebbers was mal oor die talentvolle, getatoeëerde, molesmakende rock ’n roll-rugbyster James Small, skryf Louis de Villiers.

Vreesloos: James Small laat waai teen die All Blac
Vreesloos: James Small laat waai teen die All Blacks. Foto: Tertius Pickard

Christchurch, 1996, en Nieu-Seelanders verpes Suid-Afrikaners nog kwaai oor die vorige jaar se Wêreldbeker-eindstryd.

Volksliedere oor, haka begin en die paviljoene spring reg rondom die stadion met die koor in: “KAmate KAmate . . .”

Dis oorweldigend, maar die “puhuruhuru” raak sagter met elke “u” en dan staan die skare alternatiewelik oorbluf en stil of siedend en luid en vergeet amper heeltemal van die haka’ende All Blacks, want James Small is besig om so hard “COME HERE! COME HERE! COME HERE!” op Jonah Lomu te skreeu terwyl hy nader stap en op sy bors slaan dat ek hom in die persbank kan hoor.

Hy het ’n hart en verstand gehad waaroor engele en duiwels gedurig baklei het.

Dit was hul eerste herontmoeting ná die einste eindstryd wat sedert Woensdag regoor Suid-Afrika onthou is, toe Small die Nieu-Seelandse fratsvleuel Lomu in toom moes hou nadat g’n ander vleuel tot in daardie stadium kon nie. Nie net het Lomu nie daardie dag ’n drie teen die Bokke gedruk nie, hy het nooit nie.

Small self is gepos ná die volgende toets, ene waarin hy skitterend as heelagter op Nuweland teen die All Blacks gevaar het, omdat hy tot die Saterdagoggend vroeg iewers gekuier het. Dit was alles deel van sy persoonlikheid en deels hoekom Suid-Afrikaanse rugby-ondersteuners so mal oor hom was.

Hy was die eerste regte rock ’n roll-rugbyspeler: tatoeëermerke geruime tyd voor dit mode geraak het, motorfietse en ’n hart en verstand waaroor engele en duiwels gedurig baklei het. Die engele het meer gewen as verloor en dan was Small een van die lekkerste mense wat jy kon droom om te ontmoet.

Grond toe, ou grote: Small pak Jonah Lomu in die 1
Grond toe, ou grote: Small pak Jonah Lomu in die 1995-eindstryd. Foto: Getty Images

Maar sonder die hardnekkige duiwels sou hy stellig nooit so ’n groot rugbyheld geword het nie.

Small was ’n puik speler, maar minder gedissiplineerd en begaafd as sy ’95-spanlede wat reeds oorlede is, Ruben Kruger en Joost van der Westhuizen. Maar dat hy in dieselfde asem as hulle genoem word, het alles uit te waai gehad met ’n ewe ontembare veggees.

Die skerp rugbybrein skryf ons maar aan die engele toe.

Ek het talle persoonlike herinneringe, heelparty waartydens ons mekaar net vlugtig f**-of toesnou as hy weer in ’n mediamoles beland het wat sy latente joernalisfobie aktiveer het.

Triomf: 24 Junie 1995. Joel Stransky, James Small,
Triomf: 24 Junie 1995. Joel Stransky, James Small, Balie Swart, André Joubert, Chris Rossouw en Hannes Strydom met die Wêreldbeker.

Maar die meeste is wonderlik. As jy jaarliks weke lank in verre plekke met ’n paar dosyn mans in hotelle lewe, raak die wêreld gou-gou benoud en die laaste ding wat jy naderhand wil hoor, is: Wat sê julle manne van Saterdag?

’n Paar maande lank, onderbroke oor jare van ons lewens, het ons mekaar vriende genoem, want hy was ook lief vir interessante, obskure boeke en musiek en het, anders as die meeste van sy spanlede, nuuskierig getoer en orals gedelf in die plaaslike kultuur sowel as partytjies.

Soos professionalisme al meer en meer siel uit die sport getap het, het breiers na die einde van sy loopbaan senuweeagtiger vir hom begin raak en die moderne tendens van identikit-rugbyspanne al hoe gewilder.

Almal se pel: By André Joubert.
Almal se pel: By André Joubert. Foto: Tertius Pickard

Maar hy was ’n spanman in murg en been, so lief vir sy spanmaats as hulle vir hom. Soos Danie Gerber hom aan die begin van sy toetsloopbaan vertroos het ná ’n fout, het hy dit jare later vir Percy Montgomery gedoen.

Voor Small se laaste toets, op Murrayfield einde 1997, het Montgomery hom belowe hy gaan vir hom twee drieë laat druk om die Bok-driedrukrekord te slaan. Monty, op sy allerbeste, het dit reggekry en, om die sirkel te voltooi, was dit Gerber se rekord wat hy geslaan het.

Later die aand het ek twee biere ter viering met hom gedrink. Ons het teen die toonbank gestaan van die stampvol hotelkroeg en oor albums en boeke gesels en futiele planne gemaak om te kuier in Kaapstad.

In ’n stadium het ek besef die stuk of drie dosyn vroue in die kroeg se oë is, vrou en muis, ’n halwe meter links van my stip op hom gefokus. Praat van rock ’n roll – die nou lank afgeleefde gesegde wou hê dat mans die rock-sanger moes wou wees en vroue by hom moes wou slaap as hy goed was.

Grappies met Percy Montgomery.       Foto: Duif du
Grappies met Percy Montgomery. Foto: Duif du Toit

Wel, daardie was nie die enigste keer in my lewe dat ek vlugtig gewens het ek was James Small nie.

Die tweede laaste maal dat ek hom gesien het, het hy van iewers agter ons in die stad aangehardloop gekom om my ma te ontmoet. “Ek het nog altyd vir almal gesê hy’s ’n goeie kind!” het sy tien minute later gesê.

Die laaste keer dat ek hom gesien het, het hy (met taamlik goeie rede, bygesê) f**-of vir ’n kollega gesê. Ek het my skouers met ’n skewe glimlag opgetrek en sy laaste woorde aan my was: “En f** jou sommer ook.”

Dag altyd die volgende keer kuier ons seker weer lekker.

Die 1990’s was ’n dekade van soveel hoop dis g’n wonder ons raak in dié goor tye nostalgies daaroor nie. Hy was een van die gesigte van ons optimisme. Sy lewe was dikwels taai en dikwels ekstaties. Hy’t op skaal presteer en drooggemaak en was daardie dae die hele Suid-Afrika se stout kleinboetie.

En niemand was ooit trotser as die rebel vanuit Greenside High om die hele Suid-Afrika in enigiets te verteenwoordig nie.

Ons mis hom al klaar.

Meer oor:  James Small  |  Rugbyspeler  |  Sterfgeval  |  Springbok
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.