Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Die Brink-gesin gaan emigreer

Een van die Solidariteit Beweging se sleutelfigure, dr. Danie Brink, verhuis die einde van die maand na Amerika.

Die Brinks in 2018: Danie, Mieke, Daniël, Johann en Lise. Foto: Deon Raath

Die beweging het vroeër die jaar ’n veldtog begin om lede aan te moedig om in Suid-Afrika te bly en te help bou, maar Brink sê sy gesin se besluit is suiwer om persoonlike redes en nie ’n verraad van die ideale van die organisasie wat hy al vir lank help bou het nie.

“Daar is geen negatiewe redes vir ons gesin se besluit nie. Dit gaan eintlik nie eens oor Suid-Afrika nie. Een van die groot komponente is ons hartsbande met die gemeenskap van Athens, ’n studentedorpie in (die deelstaat) Georgia,” het Brink Vrydag vanuit Kaap St. Francis aan Rapport gesê.

Brink, wat voorheen hoof was van Helpende Hand en meer onlangs gefokus het op die Skole-ondersteuningsnetwerk (SOS), gaan as onderwyser werk by ’n private skool waarvan ’n familievriend hoof is.

“Ek gaan wiskunde gee vir die gr. 7- en gr. 8-kinders by Athens Christian School. Die skool het gr. 1 tot 12 en omtrent 700 kinders.”

Brink het sy doktorsgraad in 2007 in dieselfde deelstaat behaal.

Uitwyk na Amerika gaan oor nuwe lewe.

“Ons het van 2004 tot 2007 daar gewoon. Drie of vier Amerikaanse vroue daar beskou (my vrou) Lise as hul beste vriendin en ek het ook hegte vriende daar.”

Dis ook die dorpie waar een van hul drie oorlede kinders begrawe is.

“Lise was 24 weke swanger met Louise toe ’n nierdefek by (die baba) gediagnoseer is. Sy het nie niere gehad nie en haar longe kon dus nie ontwikkel nie. Louise het ná geboorte net 80 minute geleef,” vertel Brink.

Die Brink-gesin het verskeie kere in Georgia gaan kuier in die laaste dekade.

Op een van dié besoeke het hy ’n helder oomblik gehad.

“Ek het daardie dag baie emosioneel in Athens se strate rondgery, toe besef ek maar ons kan teruggaan. Ons as Brinks het die laaste drie jaar ’n verhewe dringendheid om by mekaar te wees en alles is nou in plek om saam dit te gaan doen.”

Die Brink-gesin kuier tans by familie voor die groot trek.

“Ons sal op Kersdag terugry wanneer die paaie stil is. Op 27 Desember vlieg ons 08:00 die oggend.”

Dis byna presies drie jaar gelede wat die Brink-gesin op pad see toe op Versoeningsdag in ’n noodlottige motorongeluk betrokke was. Twee van hul vyf kinders, André (13) en Rachel (8), is in die ongeluk dood en Lise se linkerbeen is later bo die knie geamputeer.

“Die ongeluk dra ons nog saam met ons, maar ons het ’n rustigheid in ons. Ons het ’n ewigheidsperspektief. Ons gaan eendag weer ons kinders sien en dan gaan ons hulle die res van die ewigheid saam met ons hê. As ek nog vir 30 jaar lewe, beteken dit ek sien my kinders weer oor 30 jaar.

“Louise is nie in Amerika nie, net soos André en Rachel nie in Orania is waar hulle begrawe is nie. Ons gaan al ons kinders eendag weer in die hemel sien.”

Deel van die Brink-gesin se uitwyk na Amerika gaan oor ’n nuwe lewe.

“Ons moet as nuwe gesin nuwe avonture hê en nuwe herinneringe bou. Ons kan nie altyd net terugloop op ou spore nie. Athens het nie regtig vreeslik baie herinneringe van André en Rachel vir ons nie, maar dit is glad nie ’n geval van vlug van pyn af nie. Ons is in kalm waters, al dink ons elke dag aan ons oorlede kinders.”

Of die Brink-gesin Amerikaanse burgers gaan word, weet hy nog nie.

“Ek het ’n H1B-visum vir drie jaar gekry. ’n Mens kan die visum een keer verleng met nog drie jaar.

“In die ses jaar kan jy dan met die proses begin om vir permanente verblyfreg aansoek te doen. So, ons het tyd om daaroor te besluit, maar ons is nie haastig nie.”

Lise sê sy het dankbaarheid vir die ondersteuning en gebede wat hulle die laaste drie jaar ontvang het.

“Ons as gesin is die laaste drie jaar deur hulle gedra. Ek hoop regtig nie die mense dink hulle het ons gefaal of ons het hulle gefaal nie.”

Meer oor:  Danie Brink  |  Lise Brink  |  Emigrasie  |  Solidariteit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.